Wonderwerke is tekens van God se werk

Written by Chris van Wyk on 20/04/2011. Posted in Johannes

Print Friendly
Anders as die ander evangelies vertel Johannes net van 7 wonderwerke of wondertekens (hy gebruik die woord semeia eerder as dunamis wat die Sinoptici gebruik) , wat Jesus voor sy kruisdood gedoen het, waarvan een, die water wat te Kana in wyn verander is, net deur Johannes vertel word:
  1. Die wonder van die water wat in wyn verander is by Kana – 2:1–11;
  2. Die genesing van die seun van die regeringsamptenaar – 4:43–54;
  3. Die genesing van die siek man by die bad van Betesda – 5:2–9;
  4. Die vermeerdering van die brood – 6:1–14;
  5. Jesus wat loop op die water – 6:16–21;
  6. Die genesing van die man wat blind gebore is – 9:1–7;
  7. Die opwekking van Lasarus – 11:1–44.

Die wonderwerke is vir Johannes tekens van God se werk wat in Jesus sigbaar raak.  Hy doen die werke van sy Vader (9:3) waardeur Hy sy heerlikheid demonstreer (2:11) en mense tot geloof uitnooi (20:31), hoewel die ware betekenis daarvan eers na die opstanding helder begryp sou kon word (2:22).  Die geloof (regeringsamptenaar – 4:53) en ongeloof (Fariseërs – 11:47) van mense blyk daarom ook uit hulle reaksie op die tekens, waartoe daar ook nog ’n kategorie van ’n wondergeloof bygevoeg kan word (skare by die Paasfees – 2:23-25; Galileërs – 3:2-3; Jesus se broers – 7:3-7), waarop Jesus nie peil getrek het nie.

Johannes verbind dié wondertekens aan ’n hele aantal toesprake van Jesus waarin die betekenis daarvan dieper uitgespel word:

  1. Die betekenis van die water wat in wyn verander (2:1-11) word opgevolg deur die gesprek oor die nuwe lewe wat in Jesus moontlik raak (3:1-21).
  2. Die gesprek met die Samaritaanse vrou oor die lewende water (4:7-26), die genesing van die siek man by die bad van Betesda (5:1-17) en Jesus wat op die see loop (6:16-21), mond uit in die gesprek oor die Heilige Gees wat strome van lewende water word in ons binneste (7:1-49).
  3. Die genesing van die regeringsamptenaar se seun (4:43-54) hou verband met die gesprek oor Jesus, die Seun van God, wat lewe gee (5:18-47).
  4. Die vermeerdering van die brood (6:1-15) hou verband met Jesus se gesprek oor Homself as die brood van die lewe (6:22-65).
  5. Die genesing van die man wat blind gebore is (9:1-12) hou verband met Jesus wat die lig vir die wêreld is (8:12-59; 9:5).
  6. Die opwekking van Lasarus uit die dood (11:1-44) hou verband met Jesus, die Goeie Herder, wat lewe gee in oorvloed (10:1-42).

Na sy kruisdood is daar nog ’n paar wonderwerke: die opstanding en die leë graf (20:1-10), Jesus se wonderverskynings (20:14, 19, 26; 21:1) en die wonderlike visvang (21:1-14).  Met hierdie laaste wonderwerk word die groterwordende betekenis van Jesus vir hierdie wêreld antisipeer, wat die hernuwing van die opdrag aan Petrus om Hom te volg so noodsaaklik maak.

Tags: ,

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed