1 Konings 1-2 – Salomo word koning te midde van groot intriges

Written by Chris van Wyk on 22/04/2010. Posted in Konings

Print Friendly

Adonia

Adonia speel aanvanklik ’n groot rol in dié twee hoofstukke voordat Salomo die troon bestyg.

Let op hoe Adonia se hoogmoed (1:3) hom lei om op eie stoom die troon te probeer bestyg, sonder sy pa Dawid se seën of inspraak.  Hy maak aanspraak op die troon doodgewoon op grond van sy ouderdom.  Daarteenoor word Salomo se troonbestyging moontlik gemaak deur mense wat namens hom optree, heel eerste die profeet Natan (wat ook ‘n boek oor Dawid en Salomo geskrywe het (1 Kronieke 29:29; 2 Kronieke 9:29), en daarna Batseba, Salomo se ma, en hoe hulle hulle optrede baie spesifiek afhanklik maak van Dawid se uitsprake.

Dit is ook interessant dat Adonia nooit deur sy pa berispe is nie (1:6), wat op tragiese wyse hier moontlik bydra tot sy arrogansie.  Let ook op hoe min insig hy daarom toon as hy Batseba versoek om namens hom te vra vir Abisag as vrou.  Dit kon eintlik net vertolk word as ‘n bedekte manier om ‘n aanspraak op die troon te maak (2:17 – ‘n mens sien hier ooreenkomste met Abner se dwase verbintenis met Rispa in ‘n poging om sy posisie in die Saul dinastie te verstewig [2 Sam 3:6 vv]).  Salomo het sy eerste poging tot die koningskap verdra, maar nie dié vergryp nie en bring hom om die lewe (2:25).

Dit is ook betekenisvol dat Adonia telkens as die seun van Gaggit aangedui word, wat moontlik op ‘n broeiende konflik tussen Gaggit en Batseba dui.  Batseba het egter duidelik die koning se steun, terwyl Gaggit dit nie het nie.

Dawid

Interessant dat Salomo een van die kinders was wat vir Dawid in Jerusalem gebore is (2 Samuel 5:14-15) terwyl Adonia as vierde kind van Dawid in Hebron gebore is (2 Samuel 3:2-5 – Amnon, die oudste, is deur Absalom om die lewe gebring, weens die verkragting van sy suster, Tamar; Kilab, seun van Abigajil, die tweede oudste, lees ons nêrens meer van nie – hy het heel moontlik ook die naam Daniël gehad volgens 1 Kronieke 3:1; Absalom, die derde oudste, is natuurlik vroeër in sy opstand teen Dawid, om die lewe gebring).

Dit is dus ‘n kind wat gebore is in die tyd van sy koningskap oor die hele Israel, wat voorkeur geniet, en nie die kinders wat gebore is in die tyd van sy heerskappy net oor Juda nie (vgl 2 Samuel 5:5).  Let ook op dat Adonia spesifiek die manne van Juda na sy kroningsplegtigheid uitnooi!

‘n Mens lees ook nie in die Bybel van Dawid se keuse vir Salomo voordat Batseba na ‘n vorige uitspraak van die koning hieroor verwys nie (1:17) nogal in opdrag van die profeet Natan. Dit lyk dus op die oog af na ‘n doelbewuste poging tot beïnvloeding deur die profeet (1:11-14, 24).  Maar Dawid reageer op Batseba se retoriese vraag met baie positiwiteit (1:30) wat beteken dat Natan heel moontlik net beter as die meeste, sy koning se wense geken het en daarvolgens opgetree het.

Dit tref my hoe Dawid uiteindelik aan God die lof gee vir die troonbestyging van Salomo, en dat hy dit met sy eie oë kon sien (1:48).

Salomo

Dit tref my ook hoe Salomo aanvanklik met baie grasie optree teenoor Adonia, deur te belowe dat hy hom nie sal doodmaak nie (1:52-53).   Adonia se dwase versoek om Abisag as vrou verseël egter Adonia se lot.

Dit is tragies dat ook Simeï aanvanklik aan Salomo se kant is (1:8), maar uiteindelik deur Salomo doodgemaak word, op grond van Dawid se wrok teenoor hom (2:8 – vgl. 2 Samuel 16:5-14 en 19:15-23).  Sy vroeëre keuse vir Absalom in plaas van Dawid, sowel as die feit dat hy ‘n familielid van Saul was, speel heel moontlik hierin ‘n groot rol.

Let ook op hoe die profesie van die Here oor die huis van Eli voltrek word met die uiteindelik dood van Abjatar (2:27 – vgl. 1 Samuel 2:27-36; 3:11-14; 22:6-23).  Abjatar maak die sleutelfout hier om vir Adonia te ondersteun, waardeur die voorkeur van die Sadokiete as priesterlike huis bevestig word.  Hulle skaar hulleself agter Salomo (1:8).

Salomo tree dus met groot wysheid op, selfs voor die gesprek tussen hom en die Here daaroor (hfst. 3).  Deur Dawid se laaste bevele uit te voer, met die hulp van Benaja, bevestig hy sy koningskap deur van Adonia, Abjatar, Joab en Simeï ontslae te raak.

Ander mense en plekke van betekenis

  • Sunem (rusplek) was in die gebied van Issaskar (Jos 19:18), waar Elisa later in die huis van die Sunamitiese vrou tuisgaan (2 Kon 4:8). Dit speel ook ‘n rol as die woonplek van die Sulammitiese vrou, die bruid in Hooglied (6:13).
  • Abisag se naam beteken: “die vader is op reis” wat moontlik betekenisvol verwys na Dawid se naderende dood.
  • Benaja was die leier van Dawid se Filistynse lyfwag en een van die helde (2 Sam 8:18; 23:20 – vgl. sy heldedade o. a. deur ‘n leeu in ‘n put dood te maak).  Sy pa, Jojada, was op ‘n tyd hoëpriester (1 Kronieke 27:5) en ook betrokke by Dawid se aanvanklike troonbestyging in Hebron (1 Kronieke 12:23).  Daar word hy as ‘n Aäronitiese vors met 3700 man onder hom beskrywe!
  • Reï is vir ons onbekend.

Tags:

Trackback from your site.

Comments (2)

  • 22/04/2010 at 17:11 |

    Dit is verder interessant dat nie een van die volgende konings van Israel en Juda met die Gees verbind word nie. Dit is eintlik net die Rigters, Samuel, Saul en Dawid wat met die Gees verbind word, en daarna net die profete, Elia en Elisa en natuurlik al die ander Skrifprofete. Dit wys ook hoe die klem van die konings na die profete skuif in die boek Konings. Salomo het natuurlik wel 'n baie egte ervaring met God gehad, wat 'n mens nie moet ligskat nie … al het hy dit uiteindelik wel gedoen.

  • Vince Aslett
    22/04/2010 at 08:07 |

    Vir my is dit nogal opvallend dat Salomo nie die Gees ontvang met sy salwing as koning nie? Is dit te danke dat Dawid hom gekies het? Ook amazing hoe hy sommer so aan die begin van sy bewind, klaar van die wette (Na sy pa se speech) oortree en mense laat doodmaak, en dan gee hy nogal God die “eer”

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed