1 Konings 10-11 – Die Here is lief vir Salomo, maar hy is lief vir perde en vroue

Written by Chris van Wyk on 28/04/2010. Posted in Konings

Print Friendly

Salomo was regtig ’n besondere koning.  Nie net kom die koningin van Skeba ondersoek instel na sy vermoëns nie, maar ook ander konings: “Die hele wêreld het probeer om hom te sien te kry en die wysheid wat God hom gegee het, aan te hoor.”  Skeba hou moontlik verband met Dedan, ’n Noord-Arabiese nomadestam (vgl. Gen. 25:1–3). Die koningin het dus uit die suide gekom.

Die moeilike vrae wat sy aan hom stel was heel moontlik raaisels, ’n gewilde tydverdryf in die Midde-Ooste.  Let veral op hoe die koningin van Skeba Salomo nie net loof vir sy wysheid en die prag en praal van sy koningskap nie, maar ook spesifiek vir God loof wat soveel liefde aan hom bewys het.  Hoe mooi sê sy dit nie: “Dit is omdat die Here Israel vir altyd liefhet dat Hy u as koning oor hulle aangestel het om die orde en reg te handhaaf.” (10:9).

Hoe ironies dat die skrywer in hoofstuk 11 vir ons vertel dat Salomo baie lief was vir uitlandse vroue.  En dit is dié vroue wat hom verlei het – veral in sy ouderdom (middel-vyftigs!) – om ander gode te dien, sodat hy God nie meer met dieselfde toewyding gedien het soos Dawid nie.  Salomo beantwoord God se liefde met ’n liefde vir ander gode wat lei tot die skeuring van sy ryk.  Hy het selfs ’n hoogte gebou op die berg teenoor Jerusalem wat in direkte konflik met die tempeldiens gekom het.

Terloops, dit wil lyk asof die farao se dogter met minder argwaan bejeën word as die vroue uit van die nasies waarmee Israel veral in sy beginjare baie konflik gehad het.  Die Egiptiese gode was ook nooit so geredelik aanvaarbaar vir die Israeliete as van die ander Kanaänitiese gode van die omringende nasies nie.  Milkom en Kemos was spesifiek baie afskuwelike gode vir die Here, veral weens die kinderoffers wat met hulle godsdiens saamgegaan het.

Daarby het Salomo ’n groot klomp perde aangehou wat saam met sy liefde vir vroue (die byvroue was gewoonlik slavinne) ’n duidelike oortreding was van die voorskrifte vir konings wat ons vind in Deut 17:16-17.  Die ideaal was dat ’n koning nie te veel perde of te veel vrouens moes hê nie, want anders sou hy weens die perde sy vertroue eerder op sy militêre mag as op die Here plaas, en weens die vroue verlei word om ontrou te wees aan die Here.

Dit is ook ironies dat die eerste persoon wat die Here kies om in opstand te kom en die proses te begin om die ryk in twee te laat skeur, ’n Edomiet was, Hadad, ’n afstammeling van Esau, tweelingbroer van Jakob, die stamvader van Israel (vgl Gen 36:39 – Hadar = waarskynlik Hadad, hierdie Hadad se oupa).  Uiteindelik is dit Jerobeam, ’n onderdaan van Salomo wat die seun van Salomo, Rehabeam, opponeer en die Noordelike stamme van Juda laat wegbreek.

Tags:

Trackback from your site.

Comments (3)

  • [...] meer in my vorige bydraes hieroor: 1 Konings 10-11 – Die Here is lief vir Salomo, maar hy is lief vir perde en vroue, Salomo – ‘n oorsig van sy lewe, 1 Konings 12 – Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk … [...]

  • 28/04/2010 at 09:05 |

    Benjamin was inderdaad die ander stam wat saam met Juda die Suid-ryk gevorm het. Die verbintenis tussen hulle begin reeds in die Rigtertyd (Rigt 5:14) onder leiding van Debora en Barak. Met Dawid se uitgerekte stryd met Saul, 'n Benjaminiet, het 'n deel van Benjamin hulle by hom geskaar (1 Kron 12:1-7). Trouens, die leiers van die familiegroepe van Benjamin was in Jerusalem gestasioneer (1 Kron 8:28)! Daarom kon Rehabeam in sy oorlog teen Israel staatmaak op Benjamin (1 Kon 12:21). Sommige geleerdes meen dat dit ook een van die redes is waarom Rehabeam doelbewus opdrag gee dat hy in die familiegraf in Bethlehem, dws in Benjamin se grondgebied, en ook die Dawidstad, begrawe word, om daarmee die band met Benjamin te versterk. In 2 Konings 23:8 word die land skoongemaak van hoogtes van Geba (stad in Benjamin) tot Berseba, onder die leiding van Josia, wat ook aandui dat Benjamin deel van die Suid-ryk was.

  • Vince Aslett
    28/04/2010 at 08:20 |

    Salomo was nie juis n sukses as n Koning nie, wat vir my opvallend is , is dat God gewone mense gebruik om Hom te dien aan die een kant, maar dat die gevaar ook groot is dat ons vas gevang kan word in sonde en so in onguns beland. Interresant dat daar uit die 12 stamme, 10 weggegee word en net een , Juda gehou word. Wat word van die ander stam? Ek lees elders dat dit die stam van Benjamin was?

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed