1 Konings 21 – Die Here handhaaf geregtigheid

Written by Chris van Wyk on 11/05/2010. Posted in Konings

Print Friendly

Dit tref my hoe baie moeite die Here met Agab doen om hom te bereik.  In die vorige hoofstuk het die Here hom 2 keer in die oorlog gehelp, met telkens ’n duidelike boodskap daaroor aan hom.  Hier bewys die Here ’n stukkie genade aan hom, self in die oordeel wat Agab oor homself bring, deurdat die oordeel eers na sy dood voltrek sou word.

Nabot se verhaal speel in Jisreël af, tussen die Gilboa- en Karmelgebergtes.  Agab het heel moontlik ook daar ’n paleis gehad.  Agab se poging om Nabot se grond in die hande te kry, druis egter teen die eeue-oue erf-tradisie van Israel in (Lev 25), terwyl Nabot ook emosionele bande met die grond had weens sy ouers wat daar begrawe is.

Isebel tree uit haar Feniciese grondbeskouing op – alle grond behoort aan die koning – en laat Nabot vermoor.  Die uitroep van ’n vasdag kan heel moontlik met die droogte van 1 Konings 17-18 verbind word, daarom dat Elia ook hier op die toneel verskyn.  Sommige geleerdes verbind die volksvergadering se optrede dan ook met die soeke na ’n sondebok vir die droogte.

Let op hoe Isebel se optrede steeds tot Agab se skade is, hoewel hy nie direk daarmee iets te doene gehad het nie.  As koning kon hy ’n ter dood veroordeelde se grond in besit neem, maar die Here stuur Elia om die oordeel oor Agab aan te kondig oor hierdie moord.  Sy bloed sou by die wingerd van Nabot opgelek word (Agab sterf op pad na Samaria, maar Joram, sy seun, se lyk word wel hier neergegooi – 1 Kon 21; 2 Kon 9) en Isebel sal in Jisreël aan haar einde kom (deur die toedoen van Jehu – 2 Kon 9).  Agab se huis word ook getref in terme van die kollektiewe verantwoordelik wat in Israel gegeld het in terme van families, ’n oordeel wat voltrek word met die dood van Joram (2 Kon 3) waarmee die Omri dinastie tot ’n einde kom.

Mag korrupteer, absolute mag korrupteer absoluut.  Maar die Here slaap nie, en Hy laat geregtigheid geskied.

Tags:

Trackback from your site.

Comments (4)

  • 12/05/2010 at 08:51 |

    Ek dink verskeurdheid en verdeeldheid is altyd teen God se wil. Soos Hy, by gebrek aan 'n beter voornaamwoord!, EEN is, só wil Hy hê moet ons een wees. Dit sluit nie diversiteit uit nie, maar in. Diversiteit moet die eenheid dien en verryk, sonder dat dit 'n eendersheid impliseer of kondoneer. Inklusiwiteit is die Christelike ideaal, nie eksklusiwiteit nie! As 'n mens dié gedagte as 'n lens gebruik om na die geskiedenis van die mensdom in die breë te kyk, sowel as die geskiedenis van die volk Israel, dan besef jy dat 'n mens dit kan beskryf as 'n stryd tussen die verenigers en die verdelers.

    * Oral waar een of ander diverse kenmerk van menswees tot 'n wesenlike kenmerk verhef word, waarmee alle mense beoordeel word, word mense verdeel – dink aan ras, taal, kultuur, nasie, ens.

    * Oral waar 'n gemeenskaplike kenmerk van menswees verhef word tot 'n wesenlike kenmerk, waarmee alle mense beoordeel word, word mense verenig – dink aan liefde, waardes, respek ens.

    Dit is nie anders met die geskiedenis van die volk van Israel nie. Dit was al sigbaar toe hulle nog 'n familie was in die tyd van Jakob.

    * Toe Josef 'n kleed kry wat hom onderskei van die ander, en dit 'n wesenlike ding tussen hulle geraak het, het dit onmin en verdeeldheid gesaai.

    * Toe hulle almal saam 'n droogte ervaar, en hulle almal saam moes span om dit die hoof te bied, het dit eenheid gebring, omdat dit hulle by 'n gedeelde afhanklikheid van God gebring het. Die sleutel daar was natuurlik Josef se insig dat dit presies is wat God bedoel het.

    Die patroon sien 'n mens in die geskiedenis van die onderskeie stamme wat aanvanklik baie bewus is van hulle andersheid en uniekheid in terme van stamgebiede (Josua en Rigters tyd) en kwaliteite (die dapper Benjaminiete en die vrome Leviete, bv.) en eers regtig onder Dawid en Salomo verenig is met'n gedeelde hoofstad en godsdiens (tempel), dws rondom God en die diens aan Hom, wat 'n gedeelde waarde en lewensraamwerk verskaf het ('n mens moet die rol van die ontwikkelende Skrif in dié tyd nie onderskat as 'n verenigende aspek nie).

    En dit is juis wanneer in 'n sinkretistiese godsdiens verval word, met Baäl en Astarte en what have you, wat die volk telkens uit mekaar spat, omdat die kern nie hou nie.

    So, met die lang antwoord, verdeeldheid is sonde, maar God gaan uit sy pad uit om selfs in die Noorde, wat in ons oë meer sondig is as die Suide, die ware Godsdiens te bevorder. En Hy doen dit op 'n verskeidenheid maniere, met wonderwerke, gebedsverhoring en ook destruktiewe oorloë en gebeure.

    Uiteindelik kan Hy nie anders as om ballingskap te stuur nie, beide vir die Noorde en vir die Suide. Dat die Suide in die vorm van Juda (en Benjamin) terugkom, is nie as gevolg van hulle beter prestasie as die Noorde nie, maar vanweë die belofte aan Abraham, Moses en regdeur tot by Dawid dat daar Iemand sal kom wat namens ons almal gehoorsaam sal wees, en in Wie ons eenheid met mekaar sal kan beleef, selfs al is ons baie verskillend.

    Dit is die ding wat my ook aandryf, om dit nou persoonlik uit te spel, om ten spyte van die moeilike prosesse in ons gemeente tussen verskillende “faksies” en in die breër Sinodale prosesse tussen verenigers en verdelers die Here se ideaal van eenheid vas te gryp, en net so hard daaraan te werk, soos Hy dit doen (by wyse van spreke natuurlik en met die lig wat ek het!).

    Maar die geduld van God is natuurlik die hoofding wat ek ook raaklees in Konings, soos jy tereg uitwys. Dit is waarop ons hele lewe berus, dat HY ook met ons geduld sal hê!

  • Vince Aslett
    12/05/2010 at 08:21 |

    Ek dink dat die skeuring (aldan nie n sonde nie) was agv sonde en die mense se verkeerde keuses wat dit veroorsaak het, as dit dan dus n straf was, was dit ook nie die wil van die Here dat dit moes gebeur het nie?
    Die haat, broedertwis en stryd is maar soos wat dit met ons en al ons vleeslike begeertes gaan omdat ons nie in regte verhouding met God lewe nie?

  • juriejurgens
    11/05/2010 at 22:18 |

    Die grootste “ontdekking” wat ek in hierdie reeks gemaak het, en waar ek my vorige indruk soos gevorm deur Sondagskool en stukkies lees hier en daar, is dat ek nog altyd gedink het dat die skeuring van Gods volk in twee ryke 'n sonde was, en teen God se wil, en dat die konings van die 10 stamme in gedurige rebellie teen die “regte” koning in Jerusalem was. Wel ek was baie verkeerd.
    Kan jy dalk 'n teologiese perspektief plaas op hierdie geskeurdheid, broedertwis, en selfs burgeroorlog in die volk? Al waaraan ek kan dink is God se genade en geduld met sondige konings. (Nou wonder ek skielik of my swaar Christelik-Nasionale opvoeding my dalk verlei het om die volkseenheid so as vanselfsprekend te aanvaar?)

  • 11/05/2010 at 10:43 |

    Ek stem saam oor die Here wat geregtigheid handhaaf. Dit is waar. Die Nuwe Testament praat ook van die Here se geregtigheid. Waar die Ou Testament amper “onmiddellike” geregtigheid verkondig, is die Nuwe Testament se geregtigheid meer op die langer termyn. Vgl. Romeine 12:19

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed