1 Konings 22 – 2 Konings 1 – Die Here bepaal die gang van sake

Written by Chris van Wyk on 12/05/2010. Posted in Konings

Print Friendly

Daar was ’n goeie verhouding tussen Josafat van Juda en Agab van Israel, onder andere omdat hulle kinders, Joram en Atalia, met mekaar getroud is.  Dié dat Josafat ja sê om Agab te help teen die bedreiging van die Arameërs. Die profete wat gevra word om die Here te raadpleeg was almal in diens van koning Agab en daarom aan hom lojaal.  Josafat wil dus ’n ander stem ook hoor, waarop Miga geraadpleeg word.

Die onderonsie tussen hom en Sedekia illustreer iets van die moeite wat mens telkens gehad het om tussen valse en ware profesie te onderskei.  Miga se profesie word deur die uitkoms as die ware stem van die Here bevestig, maar nie sonder dat hy nie verguis en aanvanklik opgesluit word deur Agab nie.  ’n Mens wonder ook of hy nie selfs doodgemaak is op die bevel van die koning nie.

Die prentjie wat Miga gee van wat regtig gebeur in die hemelse raadsaal boei my.  Dit sê in geen onseker taal nie, dat dit die Here is wat die gang van sake bepaal en nie mense nie.  Dat die 400 profete se voorspellings egter van ’n gees (onbepaalde lidwoord) af kom wat doelbewus ’n leuen in hulle monde lê, gaan teen ons grein in, wat die waarheid met God en die leuen met die duiwel assosieer.

Ons moet egter onthou dat dié siening spruit uit die gangbare perspektief van daardie tyd dat alles van God af kom, die goeie en die kwade.  Die duiwel, en daarom die leuen, het ’n baie kleiner rol gespeel as wat in die tussen-testamentêre en Nuwe Testamentiese tyd die geval was.  Soos Job 9:24 sê: ”Hy gee die wêreld oor in die mag van die goddelose, en Hy maak die regters partydig. As dit nie Hy is wat dit doen nie, wie dan?”

Agab misbruik dan vir Josafat, deur homself te vermom, maar Josafat sy koninklike gewaad te laat aanhou, wat amper tot Josafat se dood lei.  Die Here voer egter sy besluit uit deur ’n onbekende soldaat wat ’n pyl afskiet wat Agab se dood veroorsaak.

2 Konings 1 begin vreemd genoeg met ’n verwysing na Moab, maar die saak word nie verder aangeroer nie, sonder dat ’n mens enige idee het hoekom.  Die verhaal van Ahasia, wat reeds in die laaste hoofstuk van 1 Konings begin is, word voortgesit met die klem op sy dwaasheid om die Here te ignoreer en eerder vir Baäl-Sebub te raadpleeg.

Die Here laat hom nie onbetuig in die proses nie en deur die profeet Elia se “vurige” teenwoordigheid handhaaf God sy eer teenoor die goddelose koning.  Let op dat die Engel van die Here die hele tyd by Elia is.

Tags:

Trackback from your site.

Comments (1)

  • Vince Aslett
    12/05/2010 at 08:11 |

    Vandag se stukkie praat nogal met my persoonlik, Agab het homself vermom en het in die proses dalk die Arameërs gekul, maar die Here sien deur die vermomming en weet nog steeds wie hy is, hoeveel keer in vandag se lewe doen ek nie dieselfde nie, ek vermom my op meer as een manier, waneer ek soms met ongelowiges saam is, praat ek nie waneer ek moet praat nie. Ander kere sit ek my :Christen ” masker op en hou my heilig – die Here kyk ook deur my vermomming, Hy sien die ware ek.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed