WEEK 5: 2 Konings 11-12 – Platteland en stad verenig weer voor die Here in Juda

Written by Chris van Wyk on 20/05/2010. Posted in Konings

Print Friendly

Die Israelitiese gemeenskap was sterk patriargaal, maar dit het nie gekeer dat ’n hele paar vroue sterk leierskapsrolle gespeel het nie.  Dink maar net aan Debora in die Rigtertyd, ’n sterk leier wat getrou was aan die Here en die volk vir ’n lang tyd gelei het.  Een van hierdie vroueleiers was Atalia, dogter van Agab en Isebel, wat die eerste en enigste vrou word wat Juda in die koningstyd regeer het.  Ongelukkig was sy net so ongehoorsaam soos haar pa en ma aan die Here, veral in terme van die Baäldiens wat sy in stand gehou het in Jerusalem.

Na die dood van haar man, koning Joram van Juda, én die dood van haar seun, koning Ahasia deur die toedoen van Jehu, bestyg sy die troon in Jerusalem en probeer haar bes om die res van die Dawidiese koningsgeslag – ’n hele paar was haar kleinkinders! – uit te roei.  Jehoseba, ’n ander sterk vrou maar gehoorsaam aan God, suster van Ahasia, en getroud met die hoëpriester Jojada (2Kron 22:11), beskerm egter Ahasia se eenjarige seun, Joas, en hou hom een kant, waarskynlik in die tempel, sodat daar een uit Dawid se nageslag kan oorbly om op die troon te sit.  Daarmee is die reële gevaar afgeweer dat vreemde vorste op die troon van Juda kon sit.

Jojada reël dan na ses jaar ’n priesterlike paleisrevolusie, heel moontlik gekombineer met steun uit die platteland, en nogal op ’n sabbatdag, waarmee Atalia se regering tot ’n einde kom en Joas op sewe jaar koning word.  Let op hoe pertinent gesê word “al die burgers van die land was bly” (11:20) en “die stad was weer rustig”.  Met die Baäldiens ’n gevoelige slag toegedien in die stadskonteks het die meer konserwatiewe platteland weer deel gevoel van die verbond, soos Jojada dit dan ook hernu het, en het die stadsmense tot rus gekom in hulle aanbidding van God.

Let op hoe Joas ’n goeie koning was “al die jare wat die priester Jojada sy leermeester was”.  Maar die ou siekte van die konings, om nie die hoogtes te verwyder nie, gooi uiteindelik wel ’n skaduwee oor ’n andersins uitstekende regeringstyd van 40 jaar.  Sy nalatenskap was veral dat hy die tempel herstel het, een van die belangrike kriteria wat die skrywers van die Koningsboek aanlê om te beoordeel of ’n koning goed of sleg gedoen het.  Dit was net die sinkretisme op die hoogtes wat tot sy nadeel genoem word (vgl 2 Kron 24:17 waar hy op tragiese wyse teen Jojada se seun Sagaria optree, nadat dié onder leiding van die Gees van die Here hom oor sy afvalligheid kom aanspreek).

Let ook op hoe hy die priesters aanvat oor hulle selfverryking, eerder as om die geld wat na die huis van die Here gebring word, te gebruik om die huis van die Here in stand te hou én hoe die eerlike voormanne vertrou word met die werk, sonder om boek te hou van die geld wat hulle daarvoor ontvang.

Joas kry dit reg om die bedreiging van Gasael die hoof te bied, egter teen groot onkoste, deur gewyde gawes aan hom te stuur, maar word uiteindelik self deur ’n paleisrevolusie getref, hierdie keer komende van die amptenary, en word in Bethlehem begrawe.  Die koningshuis van Dawid word egter in stand gehou met Joas se  seun Amasia wat hom opvolg en op sy beurt, na hy goed gevestig was, sy pa se dood wreek op die einste amptenare.

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed