2 Konings 16-17 – Hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword

Written by Chris van Wyk on 26/05/2010. Posted in Konings

Print Friendly

Agas word koning in Juda en volg nie die voorbeeld van sy pa, Jotam nie.  Hy loop die pad van die konings van Israel, nie net in terme van die afgodsoffers nie, maar selfs deur die offer van sy eie seun.  Hy gaan ook ’n verdrag met die opkomende Assiriërmag van Tiglat-Pileser III aan om die uitdaging van die Arameërs en die Noord-ryk af te weer, die sogenaamde Siro-Eframitiese oorlog (Jes 7), en dompel Juda nie net in die skuld daardeur nie, maar bring ook van die Aramese godsdiensgebruike terug na Jerusalem na ’n besoek aan Damaskus. Let op hoe die priesters saamwerk om die heiligdom van God te ontheilig en hoe Agas ter ere van homself offer.  Ten spyte van die profeet Jesaja se ernstige aandrang dat hy op die Here moet vertrou en nie op die Assiriërs nie, kan hy homself nie so ver kry om God te vertrou nie.

Hoewel Hosea, die 19de koning van Israel, minder kras geoordeel word as die konings van Israel voor hom, ten spyte selfs van die feit dat hy Peka vermoor het om die troon te bestyg, is hy die laaste koning van Israel in wie se tyd die ballingskap uiteindelik ’n werklikheid word vir die 10 noordelike stamme in die jaar 722 vC.  Die genadetyd het uitgeloop vir Israel.  Hosea verbreek sy aanvanklike ooreenkoms met Salmaneser, koning van die Assiriërs, deur nie belasting te betaal nie, en by Egipte (koning So van die Nyldelta, nie die farao nie) hulp te soek, en word gevange geneem, en na drie jaar se beleg, word Samaria ingeneem en die Israeliete na Assirië weggevoer.

Hierna volg ’n opsommende verklaring van die rede vir die ballingskap wat uiteraard in die eerste plek vir die ballinge self verduidelik waarom hulle in ’n benarde posisie in die vreemde sit.  Maar in die tweede plek is dit ’n aanduiding van wat God verwag van sy mense:

  1. dankbaarheid/verering vir God vir verlossing (17:7),
  2. ’n lewenstyl volgens sy wil en nie volgens die gangbare gebruike van die ander volke nie (17:8) en
  3. aanbidding van God alleen en volgens sy voorskrifte wat ander gode uitsluit (17:9-12).

Interessant dat die skrywers meld dat Israel dinge aan God toegedig het wat nie waar was nie.  Dit het begin met die goue kalwers wat Jerobeam in Dan en Bet-El opgerig het, wat tot verkeerde persepsies van God aanleiding gegee het, en daarom deur die volk en die konings nagevolg is.  Hoewel die Here oor eeue moeite gedoen het om die volk deur die profete en sieners te waarsku, en sy beeld te herstel, het die konings en die volk die waarskuwings in die wind geslaan en die gevolge gedra.  Hulle het mense van geen betekenis geword:

“hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword” (17:15)

Die ballingskap het egter ’n verdere nadraai gehad, immigrante van oral oor is deur die Assiriërs in die Noord-ryk se grondgebied kom vestig.  Hulle het Samaria oorgeneem en in die stede daar gaan woon.  Hieruit het die Samaritaanse volk ontstaan, uit die vermenging van Israeliete wat in die land agtergebly het, met die immigrante uit alle wêrelddele.  Selfs die terugbring van een van die priesters om die nasies te leer om die Here te vereer, na ’n plaag van leeus deur die Here gestuur is, het nie die situasie ooit heeltemal herstel nie.  Sinkretisme was aan die orde van die dag: die Here is vereer, EN ’n mengelmoes van eie afgodsbeelde.  Dit verklaar Jesus se woorde aan die Samaritaanse vrou: “julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid” (Joh 4:22).

Tags:

Trackback from your site.

Comments (1)

  • 04/02/2011 at 10:55 |

    [...] Jesaja tref Agas aan waar hy sy watertoevoer na die noorde, vanwaar hulle die aanval verwag het, wil beveilig (vers 3).  Sy seun is saam en is op sy beurt ook al reeds ’n boodskap aan Agas, want sy naam, Sear-Jasub, beteken “’n Oorblyfsel kom terug”. Maar die boodskap beweeg Agas nie van vrees na vertroue nie.  Lees meer oor Agas in my bydrae oor 2 Konings 16. [...]

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed