2 Konings 24-25 – Die Here wou dit nie vergewe nie

Written by Chris van Wyk on 02/06/2010. Posted in Konings

Print Friendly

Ons sien hier ‘n kant van God wat ons nie maklik eien nie.  Die God wat ons in Jesus ken as die vergewingsgesinde, die een wat belowe dat Hy ons sonde so ver van ons af sal verwyder as die ooste van die weste af is, dié God besluit om Juda uit sy teenwoordigheid te verwyder.

Hoekom?  Uiteraard was dit weens die konings van dié tyd, Jojakim en na hom Jojagin, wat volhard het in die sondes van hulle voorvaders.  Jojakim het byvoorbeeld die Woord van God geminag deur dit te verbrand (Jer 36) en die woord van Jeremia in die wind geslaan. Maar volgens die skrywers van Konings was dit veral weens die sonde van Manasse en die onskuldige bloed wat hy in Jerusalem vergiet het:

“en die Here wou dit nie vergewe nie.”

Maar dit is nie al nie.  Uit die boek Jeremia kan ‘n mens agterkom dat dié sondes ook wyd deur die priesters, profete en die gewone Judeërs nagevolg is (bv. Jer 23).  Die hele samelewing het verword en was aan die Here ongehoorsaam.  Vergelyk bv. die oordeel van die Here oor hoe hulle met vrygelate slawe gesondig het (Jer 34) deur hulle weer in slawerny te dompel.

Terug by die verhaal.  Die Here stuur ‘n hele paar volke teen Juda, maar dit is uiteindelik die koning van Babel, Nebukadnesar (die Babiloniërs het die Assiriese ryk verslaan en as wêreldmag oorgeneem), wat in 597 vC vir Jojagin onderwerp en die “hele” Jerusalem wegvoer na Babel, veral die intelligensia, die amptenare, soldate, vakmanne en smede.  Die profeet Esegiël was ook onder diegene.  Net die armstes van die landsbevolking het agter gebly.

Anders as met die Assiriërs volg die Babiloniërs ‘n ander beleid met die volke wat hulle in ballingskap wegvoer, soos ons uit die geskiedenis van daardie tyd leer.  In plaas daarvan om die volke doelbewus met ander volke te integreer, wat onder andere die noord-ryk se nekslag was, word die onderskeie volke toegelaat om hulle eie godsdienste en kulture te handhaaf.  Dit verseker dat die volk van Juda ‘n identifiseerbare eenheid kon bly en uiteindelik as volk ook kon terugkeer in die tyd van die Persiese koning Darius.

Weer terug by Konings.  Die eerste wegvoering van Jerusalem word 11 jaar later opgevolg deur nog ‘n veldtog van Nebukadnesar, in die tyd van koning Sedekia (Mattanja), die 20ste en laaste koning van Juda wat uitloop op nog ‘n wegvoering na Babel in 586 vC.  Sedekia word op dieselfde manier as sy voorgangers veroordeel as ‘n koning wat nie die Here gedien het nie.  Jeremia wys ons egter in Jeremia 38 van die worsteling wat hy gehad het, hoewel hy net nie homself so ver kon kry om die Here te vertrou en Jeremia se raad te volg nie.  Jerusalem word ingeneem, die tempel verwoes, en Sedekia gevange geneem, sy kinders doodgemaak en sy oë uitgesteek.  Weereens bly net die armstes van die mense agter om ‘n ogie oor die wingerde en lande te hou.

“So is Juda dan uit sy land weggevoer” (25:21).  Gedalja bly as goewerneur agter, maar word deur opstandelinge uit die koninklike familie vermoor, wat uiteindelik ly tot ‘n vlug na Egipte, waarheen hulle vir  Jeremia (Jer 43) ook neem.

Die boek sluit af met ‘n klein sprankie hoop, die vrylating van Jojagin in Babel, so asof die skrywers wil sê, daar is hoop, dinge kan weer omdraai.  Maar dit is ‘n verhaal wat eers in Nehemia en Esra vertel sal word.

Tags:

Trackback from your site.

Comments (2)

  • 11/06/2010 at 06:31 |

    Ek waardeer jou opmerkings! Ons begin DV weer die einde van Julie. Ek oorweeg om van die briewe van Paulus in datumvolgorde te behandel in die konteks van wat ons van sy lewe weet (uit Handelinge). Dit beteken ek sal met Tessalonisense begin en ook nog Korintiërs in die loop van die kwartaal saam met ons groep lees. Soos altyd is almal welkom.

  • Vince Aslett
    02/06/2010 at 09:04 |

    Chris, weereens baie dankie vir n great bybelstudie, dis ongelooflik lekker om so deur n boek te werk. Dankie ook vir al die commitment en moeite. Laat weet asb weer waneer die volgende een gaan begin.

    Groete

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed