Lukas 1:1-56 – Twee Godsmanne word vir twee Godsvroue belowe

Written by Chris van Wyk on 21/07/2011. Posted in Lukas

Print Friendly
Hoofstuk 1 vertel die verhaal van:
  • die belofte van twee groot Godsmanne, Johannes die Doper, en Jesus die Verlosser (1:1-38),
  • die reaksie daarop van twee groot Godsvroue, Maria en Elisabet (1:39-56) wat gekontrasteer word met die reaksie van Elisabet se man Sagaria (1:5-25) en
  • die geboorte van Johannes die Doper waarop sy pa se tong loskom en hy uitbars in lof aan God en ’n profesie oor beide Johannes en Jesus (1:57-80).

1:1-4

Dit is belangrik om 2 goed in vers 1 te hoor :

  • dat Lukas eintlik sê dat hy skryf oor die dinge wat onder ons vervul is (Afrikaanse vertaling gebeur) omdat dit die band met die verlede onderstreep;
  • dat die doel van sy skrywe is om sekerheid te bring rondom die verhaal van Jesus. Daarom baseer hy sy verhaal op ooggetuies (veral Markus, maar ook Matteus, soos ons uit ’n vergelyking van hulle evangelies kan agterkom).  Waar hy sê dat hy in volgorde skryf, is dit die volgorde van Markus se verhaal, nie soseer kronologies nie.

Die verwysing na Herodes beteken dat dié gebeure voor ons jaartelling moes plaasgevind het, want Herodes is dood in die jaar 4 vC.

1:5-25:

Let op dat die eerste aankondiging van die engel Gabriël in ’n gebedsomgewing gedoen word, waar die hele volksmenigte besig was om te bid, terwyl Sagaria die wierook op die altaar gebrand het (1:9-11).  Hy het ook sy eie gebed daar gebid, vir ’n seun (vers 13).  Laat my dink aan die toneel in die hemel waar Jesus die sewende seël oopmaak terwyl ’n engel wierook saam met die gebede van al die gelowiges aan God offer (Open 8:1-5).  Betekenisvolle gebeure gaan meesal met gebede saam en het ’n hemelse impak!

Sagaria en Elisabet word as getrou aan die wet van God beskryf (eintlik regverdig voor God in die Grieks) wat God se gebooie en voorskrifte nagekom het.  Hulle was uit ’n suiwer priesterlike familie, omdat albei uit priesterlike families afkomstig was.

Sagaria word deur die lot aangewys om die diens in die tempel te verrig (1 Kron 24), wat onpartydigheid illustreer deurdat niemand voorgetrek word nie, maar ook beteken dat dit ’n uitsonderlike voorreg was wat nie noodwendig baie in ’n priester se lewe kon gebeur het nie.  Sagaria maak daarom ook eers klaar met sy dienswerk voor hy dit met Elisabet gaan deel.

Maar juis hierdie voorreg word die moment waar die buitengewone gebeur, met die engel wat ’n besondere boodskap vir hom bring.  En die boodskap is nie net ’n verhoring van sy gebed vir ’n eie seun nie, maar die belofte van ’n Seun vir die volk wat hulle sou verlos.

Let op hoe Lukas van die begin af beklemtoon dat hierdie gebeure die werk van die Heilige Gees is.

Sagaria word verkwalik vir sy vraag, anders as wat die geval was met Abraham (Gen 15:8) en Gideon (Rigt 6:17).  Ook anders as met Maria net hierna.  Dit kan wees dat sy vraag eintlik sy twyfel geopenbaar het, of hy nog in staat sou wees tot vaderskap, terwyl Abraham en Maria eerder na die proses uitgevra het, en Gideon na sekerheid aangaande die engel se status.  Hoe dit ook al sy, die engel tree beslis op met ’n teken van stomheid, wat eers met die geboorte van Johannes verbreek is.

1:26-38:

Die vraag oor die maagdelike geboorte, en die debat oor Jes 7:14 (lees meer daaroor hier: Jesaja 7 – Uitgenooi van vrees na vertroue) se betekenis is eintlik net van akademiese belang, want Maria was duidelik ‘n maagd uit haar eie (en Josef se) getuienis.

Die hoofboodskap hier is vir my dat niks vir God onmoontlik is nie, niks!

1:39-45:

Maria reageer onmiddellik op die inligting wat die engel haar oor Elisabet gee. Waarskynlik omdat sy só die boodskap aan haar verder sou kon bevestig, maar ook omdat sy so in die ander wonder sou kon deel.

En sy kry nog ‘n dieper bevestiging as net dat die engel se woorde vervul sou word. Elisabet kry woorde van die Heilige Gees, en noem Maria “moeder van my Here” sonder dat Maria nog enigsins begin vertel het van wat die engel gesê het. En sy noem Maria gelukkig (eulogêmenos – letterlik: [mense sal oor] goedpraat [oor jou]) omdat sy die boodskap aan haar geglo het.

Let op dat die Een wat die belofte gegee het, en die Een wat gebore sou word, met dieselfde naam, Here, genoem word. Dit bevestig nie net die belofte nie, maar ook die Godheid van Jesus.

1:46-56:

Dit tref my dat Maria se loflied aanhak by wat Elisabeth oor Maria gesê het, dat sy gelukkig is. Sy brei dit aan die een kant verder uit deur te sê elke nuwe geslag sal haar, soos Elisabeth, gelukkig noem.

Maar aan die ander kant gebruik sy ‘n ander woord vir gelukkig, makarios (salig), wat die betekenis van ‘n toesegging het, dws iets wat God oor haar uitspreek, soos Jesus dit inderdaad in die Bergrede sou gebruik (teenoor Elisabet se woord eulogêmenos – letterlik goedpraat). En sy lê klem daarop dat die geluk nie is omdat sy gehoorsaam was nie, maar omdat God groot dinge aan haar gedoen het.  Wat my leer, selfs gehoorsaamheid kan ‘n aanleiding tot hoogmoed wees.

En sy brei uit op die groot dinge wat God in die verlede deur die geslagte gedoen het. Hy bewys ontferming aan geringes en hoogmoediges jaag Hy uitmekaar. God duld nie hoogmoed nie.

Wat my laat terugdink aan ‘n tyd in my lewe wat ek te belangrik in my eie oë geraak het. En die tyd van worsteling met teenstand wat ek ervaar het oor (wat ek gedink het) onverwante goed was, was eintlik die Here se hand op my lewe om my aan Sy voete te kry.

Daar is geen ander manier om voor God te wees nie, as om bewus te wees van jou afhanklikheid van Hom nie. Dit is behoeftiges (grondteks praat van  peinoontas, hongeriges) wat Hy oorlaai (grondteks praat van volmaak met goeie dinge) nie rykes en hoogmoediges nie.  Hy stuur hulle leeg weg!

Let op hoe dit die herinnering aan God se beloftes van ontferming is, wat Hom laat optree om uitkoms te gee vir Sy volk, sy dienaar Israel. Dié uitkoms het met die koms van Jesus, die Verlosser, te make.

Wat my leer, die impak van ‘n belofte aan ‘n gelowige hou nooit op nie, want God bly altyd getrou aan sy beloftes.


related post

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed