Lukas 12:1-13:35 – God sorg vir sy kinders in gevaar
Let op hoe Hy sy dissipels sy vriende noem en aanmoedig om aan God getrou te bly, want Hy kan vir hulle sorg, nie noodwendig van gevaar nie, maar juis in gevaar. En Jesus koppel dit aan die werk van die Heilige Gees wat God nou ook aan gewone mense gee.
In twee gelykenisse skilder Jesus eerstens aan die skare die dwaasheid van ‘n gejaag na geld en nie na God toe nie (gelykenis van die ryk dwaas – 12:13-21). In die tweede plek rig Hy Hom weer tot die dissipels en lê klem op God se sorg (gelykenis van die lelies van die veld – 12:22-34, geleen uit Matteus se weergawe van die Bergrede), waarskynlik omdat vrae hieroor by hulle sou opkom, veral omdat hulle alles verlaat het om Jesus te volg.
Hy vervolg met ’n oproep tot waaksaamheid in die gelykenis van die waaksame slaaf (12:35-48) sowel as ’n uitspel van die onvermydelike konflik wat sal kom weens hulle getrouheid aan Hom (12:49-53).
Lukas sluit die hoofstuk af met Jesus se oproep aan die skare om die tekens van die tye te beoordeel (12:54-56) en self te besluit wat die regte ding is om te doen (12:57-59) wat waarskynlik terugverwys na die persoon wat in 12:13 gevra het dat Jesus regter speel in erfsake, maar ook breër kon gewees het na die verskil tussen Sy lering en dié van die Fariseërs.
Dié interpretasie word versterk deur die sterk appèl wat Jesus aan die skare rig om hulle te bekeer tot God (13:1-5) en vrugte te dra wat daarby pas, anders sal hulle soos ’n onvrugbare vyeboom uitgekap word (13:6-9).
Jesus vat weer die Joodse leiers aan oor hulle interpretasie van wat mag en wat mag nie op ’n sabbatdag, deur ’n vrou op die sabbatdag te genees, tot skaamte van sy teëstanders, en tot blydskap onder die skare (13:10-17). Daarmee illustreer Jesus die krag van die koninkryk wat nie ingeperk kan word deur die stiksienigheid van die leiers nie, soos mosterdsaadjies en suurdeeg ook ’n impak het baie groter as hulle fisiese grootte (13:18-21 – gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg).
Dit beteken ook dat die krag van die koninkryk van God se werk afhang, en nie van die werk van mense wat probeer om uit eie krag dit te beërwe nie. Daarvoor is die deur daarheen te smal (13:22-30)! Dit is net dié wat deur God self aangeraak word, wat die pad sal vind daarheen.
Hoofstuk 13 sluit met ’n interessante tussenspel af, waar sommige van die Fariseërs Jesus wil waarsku oor Herodes se aggressie (in kontras met sy onsekerheid in 9:7-9), en Jesus sy heerskappy bevestig deur die tyd en plek van sy dood op sy eie terme te kies (13:31-35).
related post
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!