Lukas 16:1-17:37 – Dissipels leef met integriteit en genade
Hoofstuk 16
’n Bietjie meer oor die vreemde gelykenis van die oneerlike bestuurder:
Jesus gebruik regtig ’n baie vreemde gelykenis (16:1-8a), dié van die oneerlike bestuurder, wat nie net aanvanklik sy baas se goed verkwis nie, maar met sy afdanking verdere toegewings maak aan mense wat sy baas geld skuld ter wille van die voordeel wat hy daaruit sal kan kry. Omdat die sosiale netwerk waarin hy geleef het, gewerk het met die beginsel van wederkerigheid, het hy verseker dat hulle nou by hom in skuld was, en was sy (afsienbare) toekoms verseker. Sy baas gee toe dat hy slim opgetree het met die inisiatief wat hy geneem het, waarmee hy natuurlik nie die oneerlikheid goedpraat nie.
Jesus toon met die vertel van die gelykenis dat Hy geen illusies gehad het oor hoe dit baie keer in die besigheidswêreld gaan nie. Besigheidsmense – dié wat nie aan God gehoorsaam is en volgens sy standaarde lewe nie – oorleef in ’n vyandige omgewing deur alles moontlik te gebruik tot hulle eie voordeel, selfs deur oneerlik te wees. Sonder om dit natuurlik goed te keur, weet Hy hoe dit werk en volgens watter reëls daar opgetree word (of juis waarsonder daar opgetree word).
Die betekenis van die gelykenis word dan uitgespel en ook verder geneem ( ek kies vir die interpretasies wat vir my die meeste sin maak, want daar is regtig baie maniere om vers 8b-13 te verstaan!):
- Vers 8b-9 – Jesus tref ’n vergelyking tussen die mense van die wêreld en die mense van die lig (Christene). En die punt wat Hy maak, is dat mense van die lig moet leer om met dieselfde inisiatief en voorsorg ter wille van die koninkryk en die ewigheid te lewe (dws – anders as die oneerlike bestuurder – nie vir hulleself en hulle eie oorlewing nie).
- Vers 10-12 – Die lewe in die koninkryk word met integriteit en betroubaarheid geleef, en moet met oorgawe nagejaag word.
- Vers 13 – Die punt van alles is, jy kan nie vir God saam met enigiets anders – soos Mammon – dien nie (Eks 20:3 – Jy mag naas My geen ander gode hê nie).
Hoofstuk 17
Hierna volg ‘n paar uitsprake van Jesus gerig aan sy dissipels (17:1-10), die verhaal van die 10 melaatses waarvan net 1 Jesus bedank het (17:11-19), en lering oor die koms van die koninkryk gerig aan die Fariseërs (17:20-37).
17:1-10
Jesus moedig die dissipels aan tot 1) ’n onberispelike lewe wat nie vir ander tot struikeling aanleiding sal gee nie, 2) ’n genadige lewenstyl wat telkens bereid is om berouvolles te vergewe, 3) ’n geloofslewe gewortel in God waardeur wonders vir hulle moontlik sal word, en 4) ’n nederige lewenstyl waarin hulle nie arrogant sal raak oor wat hulle bereik in die koninkryk nie, want uiteindelik behoort die lof aan God self.
17:11-19
Die verhaal van die genesing van die 10 melaatses, waarvan net 1 Jesus kom bedank het (en let op dat hy ’n Samaritaan is!), maak die punt dat genesing van verbygaande aard is, maar geloof in Jesus jou red vir die ewigheid.
17:20-37
Let op hoe Jesus in gesprek met die Fariseërs gaan oor die feit dat die koninkryk van God in Sy aardse bediening raakgesien kan word (die koninkryk van God is hier by julle!), om net daarna met die dissipels te gesels oor hoe Hy in die toekomstige koninkryk van God na die aarde toe sal terugkom. Die boodskap van die toekoms is vir sy eie mense.
Jesus se koms sal onverwags en duidelik herkenbaar wees. Die feit moet ons waaksaam en gereed maak om Hom te ontvang, hoewel die wederkoms ook skeiding sal bring tussen dié wat glo en dié wat nie glo nie.
Die laaste sin oor die aasvoëls is moeilik verklaarbaar. Dit kan dui op die herkenbaarheid van die wederkoms (soos ’n mens weet daar is ’n lyk as aasvoëls daarom vlieg) of op die rypheid van die wêreld vir oordeel (die wêreld as ’n verrottende lyk voorgestel waarom die aasvoëls draai).
related post
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!