Lukas 19:45-20:47 – Jesus het nie net ’n groot intellek nie, maar veral diep wysheid
Die lering neem veral die vorm aan van ’n strydgesprek tussen Jesus en die Joodse leiers waar Hy die vrae antwoord wat deur verskillende Joodse groepe aan Hom gestel word, met tussen-in leringe in die vorm van gelykenisse en geprekke met sy dissipels.
20:1-8
Let op hoe dit Jesus se gesag is wat met die eerste vraag uitgedaag word, en deur Hom getroef word met ’n weervraag – ’n baie bekende rabbynse metode van gesprekvoering – die vraag na die doop van Johannes.
20:9-19
Die gelykenis van die boere en die wingerd word hierna vertel wat duidelik die bose planne van die skrifgeleerdes en priesterhoofde ontbloot, maar ook die toorn van God voorspel.
20:20-26
Die tweede vraag word deur geheime agente van die leiers gestel om Jesus te probeer uitvang dat Hy burgerlike onrus sou stook teen die heersende Romeinse owerheid. Jesus ontduik hulle strik met gemak en lê eintlik ’n reël daarmee neer wat in enige situasie waar daar ’n moontlike konflik van belange is, gebruik kan word. Ek voel net so verwonderd as hulle oor nie net Sy groot intellek nie, maar ook Sy diep wysheid.
20:27-44
Die briljante antwoorde van Jesus bring die Sadduseërs in spel – self intellektueles wat op heel moderne wyse die geesteswêreld ontken het, bv. deur die opstanding uit die dode te ontken. Daar is regtig niks nuuts onder die son nie. En onthou dat Annas en Kajafas, die twee hoëpriesters wat Jesus se lot in die skynverhoor bepaal, ook Sadduseërs was!
Jesus antwoord nie net hulle vraag nie – deur te wys op hulle onkunde oor wat in die lewe na die dood aangaan nie – maar Hy daag eintlik hulle hele verstaan van die lewe uit. Daarom neem Hy hulle na die Skrif en wys hulle op feit dat die Skrif self die bestaan na die dood bevestig, dié Skrif wat vir hulle so kosbaar was.
Geen wonder dat van die skrifgeleerdes Jesus prys oor sy goeie antwoorde, want hulle het ’n groot waardering vir ’n groot intellek gehad. As hulle maar net Hom as God ook kon raaksien, want Jesus sê eintlik eksplisiet vir hulle dat Hy die Christus is, die Seun van Dawid, die Here!
20:45-47
Jesus waarsku dan sy dissipels teen die skrifgeleerdes wat ingestel is op vertoon, nie net om hulle invloed te vermy nie, maar natuurlik ook om nie soos hulle te word nie.
related post
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!