Lukas 2:1-52 – Verlosser, Christus, Here

Written by Chris van Wyk on 25/07/2011. Posted in Lukas

Print Friendly
Nadat Lukas in hoofstuk 1 verhale vertel het wat nie in die ander evangelies voorkom nie – verhale wat sentreer om die aankondigings rondom Johannes en Jesus en die reaksies wat dit by Maria, Elisabet en Sagaria uitlok – sluit hy in hoofstuk 2 dieselfde verhaal as Matteus (1:18-25) oor die geboorte van Jesus in. Die res van die hoofstuk is daarna weer eie verhale, wat nie in die ander evangelies voorkom nie.

2:1-7

Lukas verbind die verhale van die Verlosser aan die gebeure op die wêreldfront ter wille van die konteks daarvan.  Hy noem keiser Augustus (regeer van 27 vC tot 14 nC) en goewerneur Sirenius van Sirië, eersgenoemde omdat Palestina deel van die Romeinse ryk was, en laasgenoemde omdat hy waarskynlik die hele Palestynse gebied se volkstelling gereël het (volgens sommige historici was Quirenius Varus toe goewerneur, met Sirenius waarskynlik ’n militêre veldheer wat Varus bygestaan het) .  Die volkstelling het ongeveer in 7-6 vC plaasgevind, wat dan ook Jesus se geboortedatum moes wees.

Hierdie volkstelling, sê Lukas, was die eerste van sy soort.  Daar was ook ‘n 2de volkstelling (Hand 5:37) toe daar ‘n volksopstand was deur Judas, die sogenaamde Galileër.

Bethlehem – 85 km van Nasaret af – is die stad van Dawid. Die naam is nogal betekenisvol.  Die naam beteken letterlik: “huis van brood” en is die plek waar Rut en Naomi (in die Rigtertyd) nie net fisiese brood gekry het nie, maar Rut, die Moabiet, ook met haar troue met Boas Jesus se voorouer geword het.

Let op dat Jesus gebore word in nederige omstandighede in ‘n krip in ‘n stal.

2:8-20

Die boodskap van Jesus kring uit na die skaapwagters – nie gerekende mense in daardie tyd nie –  wat met die boodskap – “goeie tyding” vertaal die Griekse woord “evangelie” – van die engele hulle na Maria en Josef haas.   Die engele noem Jesus met drie name wat sy hele bediening stempel:

  • Verlosser – dit is ’n sinoniem vir die naam Jesus wat ook Verlosser of Redder beteken en wat dui op die doel van sy koms,
  • Christus – Gesalfde of Messias waarmee by die verwagting van Israel soos deur die profete aangekondig, aangesluit word,
  • Herekurios – die Griekse woord wat Jode gebruik het om die Hebreeuse naam vir  God in die OT, JAHWE, te vertaal, en waarmee Jesus se Goddelike status aangedui word.

Let op dat Lukas eers Maria, die vrou, en dan eers die man, Josef, noem. Interessant dat hierdie boodskap almal verwonder, maar dan spesifiek verdere (en voortdurende)  nadenke by Maria ontlok.  Dit is hoe dit met die boodskap of visies van die Here werk.  Daar is altyd verdere en voortdurende nadenke nodig, en die Here werk ook daarin saam deur die bevestigings wat Hy gee.

2:21-40

Dit tref my hoe Jesus by die tempel aankom omdat die wet – die Woord van God – dit voorskryf, en Simeon daar aankom omdat die Heilige Gees hom daarheen gelei het. Twee primêre maniere waarop God in mense se lewens werk.  Dit geld hulle tyd sowel as ons eie tyd.

Simeon verklaar ook dat Jesus nie net van betekenis vir die Jode gaan wees nie, maar ook vir die nasies, waarmee Lukas die universele impak van Jesus se bediening aandui.  En dié Jesus sal mense voor ’n keuse stel, wat hulle val of opstaan sal beteken.

2:41-52

Dit tref my dat Jesus se verbintenis aan die Paasfees, en die feit dat Hy uiteindelik as die Paaslam op Paasfees geslag (gekruisig) sou word, begin het by sy ouers se gereelde bywoning daarvan van sy jeug af.

Tog kon sy ouers nie die kloutjie by die oor kry toe Hy agterbly in die tempel, in die huis van sy Vader, om met die geleerdes te praat nie.  Let op hoe Hy beide na die geleerdes luister en hulle uitvra, as vir hulle antwoorde met insig gee.  En let ook op dat Hy nou al God sy Vader noem, en nie sy pa, Josef nie!

Tog eer Hy hulle en gaan saam met hulle terug.  Geen wonder dat Hy in guns by God en die mense toegeneem het nie.


related post

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed