Lukas 22:1-71 – Die Seun van God ly vir ons
22:1-6
22:7-13
Op die Donderdag, die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, of te wel die Paasfees, stuur Jesus vir twee van die binnekring dissipels, Petrus en Johannes, om alles reg te kry. Waarskynlik doen Hy dit so sodat Judas nie die plek te wete sou kom nie, en Hy die Paasmaaltyd met sy dissipels sou kon eet, sonder inmenging van die Joodse leiers. Sommige geleerdes dink dat die bokamer wat gereedgemaak is, die huis van Maria was, die ma van Johannes Markus, waarvan ons later in Handelinge lees (12:12).
22:14-23
Let op dat Lukas die dissipels hier apostels noem – dit beteken gestuurdes – een van 5 keer wat hy dit doen (die ander kere is: 6:13 – albei titels reg aan die begin met hulle verkiesing; 9:10 – met hulle eerste volwaardige sending; 17:5 – terwyl hulle op reis is na Jerusalem; 24:10 – na die opstanding). Dat dit by die pasga-nagmaal is, is nogal vir my betekenisvol, omdat dit iets sê van die feit dat die nagmaal dié samebindende teken van Christelike gemeenskap reg oor die wêreld is.
By die paasmaaltyd is daar vier keer wyn gedrink as deel van die seremonie, waarvan Lukas hier twee spesifiek noem, waarskynlik die tweede en derde onderskeidelik (die derde was “die beker van danksegging” waarvan ons in 1 Kor 10:16 lees). Let op dat Judas deel het aan die nagmaal, maar dat dit hom nie keer om Jesus te verraai nie – hoe tragies!
22:24-30
Hierdie gesprek oor wie die belangrikste is, is betekenisvol, omdat Jesus deur sy kruisdood sy punt gaan onderstreep, en dit is dat dié een wat dien, die grootste is. Nogal iets wat ons Westerse waardesisteem op sy kop omkeer. Tog belowe Jesus vir hulle ‘n wonderlike toekoms wat ‘n heersersposissie in die koninryk insluit.
22:31-34
Maar, dié gesindheid van diens is iets wat eers na die uitstorting van die Heilige Gees moontlik sou raak. Petrus se bravade tot diensbaarheid word deur Jesus afgewys. Let op hoe Jesus vir Petrus alreeds ingetree het dat hy die geloof sou behou en tot inkeer sou kom.
22:35-38
Let op hoe Jesus se opdragte van vroeër, dat hulle geen kos vir die pad moet vat nie, hier verander word, om ‘n ander Skrifgedeelte te vervul. Dit beteken vir my dat ‘n mens nie enige opdrag in die Skrif op jouself van toepassing moet maak, sonder om die konteks waarbinne Jesus iets gesê het, en jou eie in af te neem nie. Veral nie met iets soos kos en klere nie.
22:39-46
Die intensiteit van Jesus se lyding neem toe, met die worsteling in Getsemane. Die stryd is nie net swaar weens dít wat vir Hom voorlê nie, maar ook omdat dié wat Hy gekies het om saam met Hom te wees, nie in staat is om Hom bystaan nie, en Hy diep alleen en eensaam in sy stryd voel. Selfs die engel wat Hom kom versterk, is nie genoeg om te keer dat sy sweet (in die nag!) soos bloeddruppels van Hom af tap nie.
22:47-53
Jesus se worsteling verdiep verder, met die verraad van een uit sy reisgenote, Judas. Met die gebruiklike soengroet tussen ‘n rabbi en sy leerling wys Judas vir Jesus uit, en Hy word in hegtenis geneem.
22:54-62
Jesus se verhoor begin, maar eers fokus Lukas op die verloëning van Petrus, wat soos die verraad van Judas bydra tot Jesus se lyding. In die vroeë oggendure van die Vrydag net voor die sabbatdag, faal Petrus se bravade hom.
22:63-71
Jesus word bespot en in ‘n skynverhoor veroordeel oor sy aanspraak dat Hy die Seun van God is.
related post
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!