Lukas 3:1-38 – Jesus is familie van alle mense

Written by Chris van Wyk on 26/07/2011. Posted in Lukas

Print Friendly
Vandag se leeswerk handel oor 1) die prediking van Johannes die Doper, 2) die doop van Jesus en 3) die geslagsregister van Jesus.  Al vier evangelies vertel iets oor Johannes die Doper se bediening.  Al drie sinoptiese evangelies vertel van die doop van Jesus (Johannes nie).  Net Matteus het ook ’n geslagsregister vir Jesus, hoewel Lukas verskil van sy aanbieding daarvan.

3:1-20

Lukas plaas – anders as die ander evangelies – die prediking van Johannes die Doper binne sy historiese konteks wat nie net die politieke bestel van die Romeine en Jode – Tiberius, Pilatus, Herodes (seun van die een wat dood is by Johannes en Jesus se geboorte), Filippus en Lisanias – betrek nie, maar ook die godsdienstige – Annas en Kajafas as hoëpriesters.  Dit is die 15de regeringsjaar van Tiberius, dws 27 nC.

Lukas haal vir Jesaja meer volledig aan as in die ander evangelies, en spel die vrugte van bekering uit vir gewone mense: tollenaars, en soldate.  Lukas vertel ook vir ons dat Johannes, soos in die evangelie van Markus, ‘n skerp onderskeid getref het tussen sy eie bediening en dié van die Een wat kom.  Daarby brei hy meer uit oor wat met die koms van die Heilige Gees sal gebeur, ’n gebeurtenis wat onder andere ook oordeel sal insluit.  Lukas vertel ook vir ons dat Johannes vir Herodes aangespreek het, en dat dié hom in die tronk opgesluit het.

Dit tref my veral hoe Lukas die roeping van Johannes beskryf as dat die “woord van God” (rhêma tou Theou) tot Johannes kom. Dit sluit waarskynlik die Bybelteks in wat hy in sy prediking insluit (Jes 40), maar die res van die proses word nie uitgespel nie, soos ook die geval was met die profete van ouds.

Hierdie rhema dui ’n woord of stelling aan wat om aksie vra, ’n woord wat mens dus in beweging wil bring, soos ’n mens ook van Simeon lees (Luk 2:29).  Daarteenoor word die woord Logos , hoewel op plekke steeds as sinoniem vir rhema, op baie verskillende wyses gebruik, ook vir Christus self (Joh 1) of as aanduiding van die Woord, die Bybelteks van daardie tyd.[1]  Hier is ’n lysie van plekke waar die woord rhema in die NT voorkom om ’n idee vir jou te gee hoe die woord gebruik is: Matt 4:4; 26:75; 27:14; Luk 1:38; 2:29; 3:2; Joh 3.34; 8:20; 15:7; Hand 2:14; 10:37; 11:14; 11:1; 13:42; 26:25; Rom 10:8,17-18; 2 Kor 12:4; 13:1 Efes 6:17; Hebr 6:5; 11:3; 12:19; 1 Pet 1:25; 2 Pet 3:2; Jud 1:17.

3:21-22

Hierdie bediening van Johannes die Doper staan duidelik in diens van die bediening wat na Hom sou kom, dié van Jesus, wie se doop die hoogtepunt van Johannes se bediening vorm, en ook die eindpunt daarvan is.

In drie perikope word hierdie Jesus se bediening gelegitimeer, deur sy doop waarby God bevestig dat Hy sy Seun is (3:21-22), deur sy geslagsregister waarmee Hy as beide God se Seun en as deel van die menslike geslag geteken word (3:23-38), en deur die versoeking waardeur Hy as getoetsde aan Israel bekend gestel kan word (4:1-13), en Sy bediening kan begin.

Let ook op dat die Drie-enige God hier betrokke is: Vader, Seun en Heilige Gees.

3:23-38

’n Paar opmerkings oor hierdie geslagsregister van die dertigjarige Jesus:

  • Op die oog af verbreek die geslagsregister (3:23-38) die doop- en versoekingsverhale (4:1-13), wat kronologies verbind word (4:1). Die kern hiervan is egter dat Jesus ook daarmee as “die seun van God” aangedui word. Lukas maak dit dus duidelik dat Jesus nié die seun van Josef is nie (3:23, 4:22), maar die seun van God, net soos dit die geval is met die doop en die versoekingsverhale.  Daarom, soos dikwels die geval is in die Bybel, is die funksie van hierdie geslagsregister om die posisie van die kernpersoon, in hierdie geval Jesus, in sy identiteit as God se seun, te legitimeer.
  • Die geslagsregister gaan daarby nie net terug tot by Abraham – soos Matteus s’n in omgekeerde volgorde doen – nie, maar tot by Adam, waarmee die hele sending na die heidene, waarvan die verhaal van Handelinge ons gaan vertel, gelegitimeer word.  Die boodskap van Jesus wat eerste aan die skaapwagters gebring is, en hierna aan die hele Israel, moet ook tot aan die eindes van die wêreld, na al die nasies gebring word, want Jesus is familie!
  • Die verskille tussen die twee geslagsregisters van Lukas en Matteus het waarskynlik meer met hulle verskillende teologiese uitgangspunte te make (soos die vorige twee opmerkings uitwys), as met historiese oorwegings, waarvan die aantreklikste voorstel is (Holzmeister) dat Matteus die geslagsregister vanuit ’n geboorteperspektief beskryf (doodgewone afkoms via die vaderlike lyn) en Lukas vanuit ’n aannemingsperspektief (as Maria ’n enigste kind was, kon haar pa Eli volgens wet vir Josef aangeneem het om só die familielyn intakt te hou).

 


[1] Die Griekse woord rhêma, soos logos, is in die OT gebruik om die Hebreeuse woord dabar – meesal vertaal met woord – te vertaal. Dit word daar doodgewoon as sinonieme gebruik.  Plato en Aristoteles het egter ’n onderskeid gemaak in hulle gebruik van logos en rhema. Logos was gebruik vir ’n hele sin (proposisie) en rhema en onoma vir die onderdele daarvan.  Mettertyd is rhema vir die predikaat (werkwoord deel van ’n sin) en onoma vir die onderwerp (selfstandige naamwoord deel) van ’n sin of stelling, die logos, gebruik.  Hiervolgens het rhema meer met aksie te make, en logos met die geheel.


related post

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed