Lukas 9:51-11:54 – Gefokus op God en die naaste
Let op hoe Hy hindernisse op sy weg hanteer. Hy verteer nie met vuur dié wat Hom nie wil ondersteun op sy pad nie (9:52-56 -Samaritane), soos Hy die dissipels ook gekeer het om ander te verhinder wat ook goed doen, maar nie die pad saam met hulle loop nie (9:50). Hy laat dit Hom nie afsit nie, en bly op die pad wat Hy ingeslaan het.
Tog roep Hy ook steeds mense om Hom te volg, en spreek hulle aan as hulle die roepstem probeer ontduik. Hy doen dus wat Hy moet doen, nooi mense saam op dié pad, maar dwing hulle nie saam nie (9:57-62).
In die proses stuur Hy nou die 72 twee-twee uit om op die pad na Jerusalem – elke plek waarheen Hy van plan was om te gaan – die evangelie te verkondig. Daarmee gee Hy aan die kerk ’n model van bediening wat, hoewel nie noodwendig op presies dieselfde wyse nie, nagevolg kan word.
Hier kom ‘n mens nou ook agter waarom Hy nie sterker reageer op die weerstande of huiweringe nie. Afrekening kom aan die einde van die tyd, net soos die heerlikheid ook dan wag vir dié wat gehoorsaam is. Dit motiveer Hom, en vorm die rasionaal agter sy bedieningstyl.
En wat vir Jesus geld, geld ook vir sy dissipels: wie na hulle luister, luister na Jesus, en wie nie luister na hulle nie, luister nie na Hom nie.
Die blydskap van Jesus oor die sukses van sy uitstuur-opdrag roer my (10:21-22). Wat begin het met ’n alleen-pad wat Hy geloop het, opgevolg is deur die kern-groep van 12 dissipels uit te stuur, is nou ook suksesvol met 72. God se plan, soos dit begin ontvou, werk inderdaad.
Let op hoe Jesus dan drie groot lesse vir die dissipels leer:
- Die feit dat hulle grense moet oorsteek soos die barmhartige Samaritaan (in kontras met dorpie wat Hom verwerp het) en hulle liefde vir God moet demonstreer in hoe hulle vir ander ’n naaste is (10:25-37). Let op hoe dit ook ’n eksplisiete korreksie op die Farisese idee is, wat gedink het jy kan met God ’n verhouding via die wet hê, sonder om aandag te gee aan die wyse waarop hulle ander mense insluit.
- Die feit dat Jesus en sy woorde die fokus van hulle lewe moet wees, en nie net om reg te staan en bedrywig te wees nie – verhaal van Marta en Maria (10:38-42).
- Die feit dat alles in ’n gebedsafhanklikheid van God gedoen moet word (11:1-13) waarby God se oorvloedige gewilligheid om te antwoord met ’n pragtige gelykenis uitgedruk word.
Dan skuif Jesus se aandag na die skare mense, waaronder ’n klomp Fariseërs, en gee lering oor die impak van die koninkryk wat Hy verkondig, en spel dit uit in terme van:
- die effek op die koninkryk van die duiwel, waarmee Hy duidelik die kloof tussen die twee uitwys – jy kan nie in altwee kampe wees nie (11:14-23);
- die noodsaak van toewyding aan God as teenvoeter vir ’n terugval in die mag van die duiwel (11:24-26 en 27-28) – “hoor en onderhou”;
- die noodsaak om die tekens te kan onderskei – Jesus is hier, en mense weier om in sy lig te wandel (11:29-32 en 33-36);
- die dwaasheid van die godsdienstige Fariseërs en wetgeleerdes wat hulle oor uitwendige goed bekommer, maar nie oor wat binne in hulle harte aangaan nie, en nie na Jesus kyk om sy boodskap te begryp nie, maar hoe om Hom uit te vang in ’n strik van een of ander aard – vir hulle, sê Jesus, wag daar net ellende (11:37-53)
related post
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!