Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot verdrukking

Written by Chris van Wyk on 02/03/2010. Posted in Markus

Print Friendly

Markus (Matteus en Lukas)

Dit is belangrik om die profesieë oor Jerusalem in die konteks van die eindtyd te verstaan. Sommige profesieë rondom Jerusalem is in die leeftyd van die dissipels bewaarheid.  Ander wag nog steeds om finale vervulling.  Matteus sê dit baie helder ”wat sal die teken van u koms en van die einde van die wêreld wees?”

In 5 dele lig Jesus die gordyn oor die toekoms:

1.  Rampe en Vervolginge

Die Olyfberg is aan die oostekant van die stad geleë.  Jesus lewer hierdie profetiese rede terwyl hulle na die tempel kan kyk.  Die klippe waarvan die tempel gebou is, was regtig besonders.  Een klip wat opgegrawe is, was 4x6x12 meter groot.  Die tempel was op dié stadium nog nie eers voltooi nie.  Bouwerk het in 15 vC ‘n aanvang geneem onder Herodes die Grote en is in 64 nC (International Standard Bible Encyclopedia) eers finaal voltooi – ironies genoeg, net voor dit vernietig is in 70 nC deur keiser Titus.

Die tempel, sê Jesus, sal afgebreek word, klippe en al, sowel as die “gewyde geskenke” daarbinne vernietig word (Lukas).  Daar is nie meer ‘n omkeer moontlik vir Jerusalem nie.  Let op hoe die eerste geroepe dissipels, twee pare broers – hier in ‘n ander volgorde as in Markus 1:16-20 genoem – met Jesus in gesprek is.  Matteus en Lukas het dit dat al die dissipels hierna geluister het.

Jesus het klaar gepraat met die skares en die Joodse Raad en sal hulle eers weer met die verhoor en kruisiging ontmoet.  Op die dissipels se vraag na die tyd en teken van die vernietiging, gee Jesus twee antwoorde:

  1. Hulle moet versigtig wees vir misleiding oor Jesus self.  Mense sal voorgee hulle is Hy.  Die begeleidende tekens van die eindtyd: oorloë, hongersnood en aardbewings (Lukas voeg epidemies by) moet hulle nie verskrik nie.  Dit is geboortepyne van die nuwe tyd wat kom.
  2. Hulle moet versigtig wees vir wat met hulleself kan gebeur in teenstand. Hulle sal geregtiglik, godsdienstig en polities vervolg word.  Maar dit alles sal as getuienis vir Jesus dien en deel wees van die verkondiging van die evangelie aan alle nasies.

As bemoediging en motivering praat Hy oor die wysheid wat die Heilige Gees vir hulle in dié situasies sal gee, soos ook letterlik gebeur het voor die Joodse Raad in Handelinge 4.  Matteus praat nie hieroor in hierdie konteks nie, terwyl Lukas verder uitbrei daaroor en aan Jesus self koppel: “Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee …”.  Dit wys op die integrale eenheid tussen Jesus en die Gees.

Jesus waarsku egter ook dat die vervolging ook teenstand binne families sal insluit (vgl Mark 3:31!), en bemoedig hulle om tot die einde te volhard, al sluit dit die dood in.  Lukas het ‘n interessante byvoeging: “daar sal nie eens ‘n haar van julle kop af val nie,” waarmee Hy heel moontlik bedoel dat hulle steeds in die hande van God sal wees, en nie uit hulle verhouding met Hom geruk sal word nie, dws dat hulle nie geestelik deur fisiese lyding en die dood sal skade ly nie.  Kyk ook na Luk 12:8 vir ‘n soortgelyke stelling, waar duidelik gesê word dat die fisiese dood nie ‘n ewige skade aan gelowiges kan berokken nie. Paulus gebruik ook ‘n variasie van die stelling in Hand 27:34.  Daar word dit egter letterlik bedoel.

2. Die groot verdrukking

Jesus se visier verskuif na die tyd van die tempel vernietiging self.  Sy raad aan gelowiges is om in daardie tyd te vlug, omdat dit ‘n tyd van groot verdrukking sal wees.  As teken van die verwoesting wat kom, sal “die ding wat ‘n gruwel is vir God” op die “plek waar hy nie moet wees nie”, dws die tempel, opgerig word.  Weereens waarsku Jesus teen vals christusse en vals profete waarvoor hulle op hulle hoede moet wees.

Matteus verbind hierdie gebeure aan die soortgelyke gebeure wat in Daniël se profesie voorspel is, waar ook van die gruwelike ding gepraat word wat in die “heilige plek” opgerig sal word (Dan 12:11 – dit is vervul in 168 vC met die Siriese Antiogus Epifanes IV se altaar aan Zeus wat in die tempel opgerig is – 1 Makkabeërs 1:54,59).  Hy verduidelik verder dat die valse christusse en profete se aansprake getoets kan word aan die lokale en geheime aard daarvan, iemand moet jou inlig oor die detail: in die woestyn of in die slaapkamer.  Die koms van die Seun van die mens sal egter oombliklik, publiek en globaal sigbaar wees, soos ‘n weerligstraal wat van oos na wes alles verlig.

Dit is moontlik om hier ‘n verdere betekenis in te lees, dat hier van die eindtyd en die wederkoms gepraat word, soos baie geleerdes doen, veral as jy dit met ander eskatologiese gedeeltes vergelyk (bv. 2 Tess 2, waar van die Antichris gepraat word wat in die tempel sy troon sal oprig).  ‘n Mens moet egter onthou dat die profesie vir die dissipels egter iets was wat in hulle leeftyd betekenis gehad het.  Dit was duidelik voorop in Markus se oorvertelling hiervan, heel moontlik net ‘n paar jaar voor dit inderdaad in vervulling gegaan het.

Lukas vertel nie van die tempel ontheiliging, maar wel van leërs wat Jerusalem sal omsingel.  Hy verbind die verdrukking aan God se straf oor hierdie volk, wat Hy deur die heidennasies sal uitvoer.  Lukas gee dus ook duidelik ‘n Joodse interpretasie aan hierdie verdrukking wat direk met die gebeure in 70 nC verbind kan word.

Tags: , ,

Trackback from your site.

Comments (6)

  • 03/03/2010 at 11:47 |

    Die profetiese rede het verseker twee betekenisvlakke: 1) vir die Jode, en meer spesifiek die toekoms van die tempel – die voorhangsel wat skeur met Jesus se dood, is 'n verdere teken van die tempel se vernietiging en 2) vir die wêreld, waar dit oor Jesus se wederkoms gaan. Maar om dit uit mekaar te haal, is nie eenvoudig nie, en gaan altyd afhang van 'n hele klomp voorveronderstellings van die leser. Ek sal my nek 'n bietjie uitsteek vanaand, maar nie te ver nie. dit sal moet wag vir Daniël en Openbaring!

  • Jurie Jurgens
    03/03/2010 at 11:38 |

    Ek het al gehoor/gelees dat Jesus eintlik 2 verskillende vrae hier beantwoord – eerstens oor “wanneer sal dit (die afbreek van die tempel) gebeur” en tweedens wat sal die tekens wees van die voleindiging/die wederkoms. (In MAt kan mens selfs van 3 vrae praat). Maar om die res van die profetiese rede hieraan uit te pluis is bokant my. Stem jy saam oor die tweeledigheid van die vraag, en wil jy nie dalk vanaand uitbrei watter dele van Jesus se rede waar inpas nie? Lyk my nie dat jy gaan wegkom van die eskatologie nie?!!

  • 02/03/2010 at 14:35 |

    Ek het weer gaan kyk na die datum, en dit met ander bronne gekorreleer. Dit blyk eerder 64 nC te wees toe die tempel finaal klaar was, dws 6 jaar voor die vernietiging van Jerusalem (International Standard Bible Encyclopedia). So jy moet betekenis maak met 6 jaar! Daar is blykbaar al 5 moskees op die tempelberg, waarvan die Dome of the Rock (gebou oor die klip waarvandaan Mohammed volgens hulle hemel toe gevaar het) volgens sommige op die ou tempel terrein staan, en volgens ander weer nie. Dit enigste seker aanduiding van die ou tempel posisie is die Westelike Muur, die heiligste plek vir die Jode vandag, wat inderdaad die een kant van Herodes se tempel is. Maar ek dink die teks se verwysing is eerstens na Titus se aksies in 70 nC en tweedens na die Antichris se termyn wat ek nie soseer met Islam assosieer nie, behalwe as hulle natuurlik uiteindelik die wêreld oorneem! Maar my vaardigheid om dit na waarde te interpreteer is te beperk …

  • Vince Aslett
    02/03/2010 at 14:10 |

    Stem saam, so terloops, interesant om te lees dat die tempel in 67 na Christus klaar gebou was en toe in 70 NC vernietig was, ek kan nie help om te wonder of daar n geestelike betekenis is in die 3 van die 3 jaar? Iets anders wat my opgeval het was dat die Islam Moskee nou gebou staan op die plek waar die tempel was nie “ge-link” kan word met v 14 nie (Ek weet dat ons nie sulke dinge moet inlees nie – die gedagte het net by my opgekom)

  • 02/03/2010 at 13:11 |

    Dankie. En op 'n ander wicket: Ek is nogal ook aangeraak deur die raakpunte van dié gedeelte met die Haïti en Chili gebeure die afgelope weke. Ek dink ons lewe baie keer, ten spyte van wat ons sê, sonder 'n regtige verwagting vir die Einde, of te wel Begin … hang af hoe jy daarna kyk. Vorige voorspellings oor die Einde wat naby is, en as vals uitgewys is, ontmoedig 'n mens ook om hierdie woorde van Jesus in die praktyk ernstig te neem. Maar, die Einde is naby – en die konkrete gebeure in die wêreld is soos 'n wekker wat al hoe helderder begin lui en vir my sê, die Here is naby. Sonder om daarmee te sê dit is hierdie of daardie jaar … maar dit is naby!

  • Vince Aslett
    02/03/2010 at 11:42 |

    Vandag se lees is vir my ongelooflik van toepassing op vandag, dit is erg om te lees op forums soos FB en selfs die Kerkbode hoe die Evangelie se betekenis afgewater word en mense mislei word deur diegene wat veronderstel is om ons gewone lidmate op die regte pad te hou, ai ek kan nie verstaan dat dit toegelaat word nie. Die ergste is dat die NG Kerk dan beoordeel word. Dankie Chris dat daar nog van julle is wat bereid is om op te staan vir wat waar is.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed