Markus 6:53-7:23 – Onreinheid het met die hart te make

Written by Chris van Wyk on 15/02/2010. Posted in Markus

Print Friendly

Markus

Jesus-hulle gaan aan wal by Gennesaret, naby Kapernaum.  Die toeloop na Hom neem steeds toe.  Baie mense bring ongesteldes na Hom toe.  Interessant is dat hulle vra om aan die soom van sy klere te raak, soos die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.  En elkeen wat dit gedoen het, het gesond geword.  Die boonste kleed van mans van daardie tyd het vier tossels, met wit en blou toutjies gevleg, aan die soom gehad (Num 15:38-39), wat hulle moes herinner aan die wet van die Here.  Die moontlikheid is sterk dat mense gedink het dat Jesus se krag daaruit gevloei het.  Die fokus is egter steeds op die geloof van die mense en nie soseer op die magiese interpretasie wat hulle moontlik sou gehad het nie, soos inderdaad die geval was met die vrou.

Die Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem, heel moontlik gestuur om getuienis teen Jesus in te win, maak beswaar teen party van die dissipels wat hulle kos met ongewaste hande eet, wat in hulle oë onrein is.  Die probleem met dié optrede is nie dat die was van hande ‘n goeie (of slegte) gebruik is nie, maar dat hulle dit as ‘n gebod van God voorgehou het.  Jesus wys dit egter af as skynheiligheid, met ‘n aanhaling uit Jesaja 29:13, omdat die geestelike leiers in die praktyk eerder vashou aan sulke oorgelewerde gebruike, en mense so leer en daarvolgens beoordeel, maar uiteindelik glad nie die Here dien nie.  Hy illustreer dit met die gebruik van korban (dit beteken offergawe), waar jy goed waarmee jy vir jou ouers kon gesorg het, vir die Here offer, en só jou verantwoordelikheid, soos die wet van God dit spesifiek uitspel, teenoor hulle kan vermy (vgl 1 Tim 5:4 waar Paulus die riglyn handhaaf om vir jou ouers te sorg).  Gebruike is dus belangriker as God en sy wet.

Jesus praat weer met die menigte, hak aan by die idee dat ongewaste hande jou kan onrein maak en verduidelik met beeldspraak hoe onhoudbaar dié gedagte is.  Markus vertel nie vir ons wat die skare daarvan gedink het nie, maar die dissipels het weereens verdere onderrig nodig om dié beeldspraak te verstaan.  Markus maak egter die gevolgtrekking, wat in ander NT geskrifte nagevolg sou word, dat Jesus met dié beeldspraak en onderrig alle kos rein verklaar het.  Die wetsriglyn word dus van ‘n blote uiterlike reëling verdiep na ‘n innerlike riglyn: dit is nie kos wat jou onrein maak nie, maar die gedagtes van jou hart.

Vergelyk die soortgelyke lering wat God vir Petrus gee met die oog op sy getuienis aan Kornelius in Handelinge 10:15.  Jesus is besig om hier sekere beginsels vir die koninkryk neer te lê wat ‘n groot impak sou hê op sy eie bediening (vergelyk die gesprek met die Griekse vrou van Siro-Fenisië net hierna) en die bediening van die kerk aan heidene. Die evangelie is bedoel vir almal, en die hou van oorgelewerde Joodse gebruike sou die ontvangs van die evangelie belemmer het.

Interessant genoeg is die 1ste 6 van die lys van 12 slegte gedagtes in die meervoud en die laaste 6 in die enkelvoud wat ‘n mens nie in die vertaling kan optel nie (onkuishede, diefstalle, moorde, owerspelle, hebsugte, kwaadwillighede).  Let op dat die lysie amper volledig met die tweede tafel van die wet verbind kan word:

  • diefstal – Jy mag nie steel nie (8ste gebod);
  • moord en kwaadwilligheid  – Jy mag nie moord pleeg nie (6de gebod);
  • onkuisheid, owerspel, losbandigheid – Jy mag nie egbreuk pleeg nie (7de gebod);
  • bedrog, kwaadpratery – Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie (9de gebod);
  • hebsug, afguns (“evil eye” – Jode het die gesegde nie met ‘n vloek geïdentifiseer nie, maar met afguns) – Jy mag nie begeer nie (10de gebod);
  • Die 5de gebod – eer jou vader en jou moeder – is reeds met die korban-afwysing op die tafel gesit.
  • Hoogmoed, wat volgens sommige die ergste sonde is, en ligsinnigheid (“lack of moral sense”, dws morele dwaasheid) oortree eintlik alles in die wet, dit is om jouself en jou gebruike en gedagtes hoër te ag as God se geopenbaarde wil.

Die NT het verskeie sulke lysies: Rom 1:29–31; 1 Kor 5:10–11; 2 Kor 2:20–21; Gal 5:19–21; Kol 3:5–8; 1 Tim 1:9–12; 2 Tim 3:2–5.

Matteus

Lukas het nie die drie perikope wat ons vandag lees nie.  Matteus het weereens ‘n ekonomie van woorde met die eerste perikoop oor Jesus se genesings in Gennesaret, laat in die tweede perikoop die uitgebreide kommentaar van Markus oor die oorgelewerde gebruike weg, moontlik omdat sy Joodse lesers dit in elk geval sou geken het, en konsentreer op die beskrywing en afwysing van die korban-gebruik.

Die derde perikoop oor die onderrig van die dissipels hieroor verskil heelwat van Markus se weergawe, hoewel die breë hooftrekke dieselfde bly.  Matteus vertel dat die dissipels opgemerk het dat die Fariseërs hulle vererg het oor Jesus se lering, en vra Hom uit daaroor.  Jesus spreek dan ‘n verdoemende oordeel oor hulle as blinde leiers uit, wat geignoreer moet word.  Matteus noem ook die lysie van slegte gedagtes, maar verkort dit en plaas dit in ‘n ander orde.

Tags: , ,

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed