Markus 8:11-21 – Hoe blind is dié wat nie wil sien nie
Markus
Hiervandaan is Jesus na Dalmanuta toe waar ‘n aantal Fariseërs met Hom begin redeneer oor ‘n wonderteken. Jesus sug (‘n ander tipe sug as met die dowe man!) oor hulle poging om Hom op die proef te stel. Hy het immers net tevore brood vermeerder, wat tog ‘n duidelike wonderteken is, en verklaar stellig dat hulle beslis nie ‘n teken sal kry nie. Hulle kies om nie te sien nie! “Hy het hulle daar laat staan” en weer na die oorkant na Betsaida vertrek.
Op pad oor die see draai die gesprek weer oor die tema van brood, met Jesus wat in beeldspraak verwys na die wyse waarop die suurdeeg van die Fariseërs mense kan verblind. Suurdeeg is deur die Jode as ‘n aanduiding van verderf. Hou ook in gedagte hoe suurdeeg by die Paasfees verwyder moes word uit die huise, om gereinig te word om die Paasfees te kan geniet. Interessant: Paulus sluit by dié gedagte aan in 1 Kor 5:6-8 waar hy verkondig dat Christene soos nuwe ongesuurde deeg moet wees, vol van reinheid en waarheid.
Die dissipels verstaan Hom egter verkeerd waarop Hy hulle skerp aanspreek oor die gevaar wat hulle bedreig; dat hulle wat in die binnekring is en van beter behoort te weet, eintlik net soos die buitestaanders en spesifiek die Fariseërs die wonder van God se teenwoordigheid kan mis, al sien hulle wat min ander ooit kon sien. Jesus wys dan na die twee wondertekens rondom die brood (anders as met die Fariseërs ) om hulle tot begrip te probeer lei.
Dit tref my hoe blind mense is wat nie wil sien nie, die Fariseërs, en teenoor hulle, hoe blind ander mense is wat sien, maar dit nie reg kan onderskei nie, die dissipels. Die enigste een wat dieper insig toon, is die heidense vrou van gister, wat eintlik dié voorbeeld raak van iemand wat Jesus se ware aard verstaan.
Matteus
Lukas vertel nie dié verhale nie.
Matteus gee ‘n heeltemal ander inhoud aan Jesus se gesprek met die Fariseërs – nie verrassend nie, omdat die gesprek nie verbatim weergegee word nie – en wys hulle versoek vir ‘n teken af met die voorbeeld van die tekens van die weer teenoor die tekens van die tye. Met die eerste is die Fariseërs goed, met die tweede glad nie. Daarom sal net een teken vir hulle gegee word, die teken van Jona, wat heel moontlik na die episode in die vis verwys, as beeld van die dood en opstanding van Jesus.
Matteus onthou anders as Markus dat daar glad nie brood in die skuit was nie (nie eers een nie!). Hy beskryf ook die dissipels as kleingelowiges en sluit af met ‘n verwysing na ‘n dieperwordende begrip, verder as die letterlike, by die dissipels dat hulle versigtig moet wees vir die leringe van die Fariseërs.
Tags: blindheid, Jona, kleingelowig, suurdeeg, wonderteken
Trackback from your site.


Comments (3)
Dis vir my opvallend dat die mense in die tyd van Jesus al die tekens van die tyd en Sy bestaan miskyk. Ons sien dit vandag in ons gemeenskappe en selfs in die kerk. Vandag word ons gedagtes oor kerk en oor God grootliks bepaal deur ons ervarings en wat in ons lewens gebeur. As ek dink aan my eie reis met God dan beleef ek 'n stukkie van daardie verdofde beeld van God. Ons verhouding met God is aanhoudend besig om te groei en ons lewe word aanhoudend getransformeer. Dis hartseer dat mense God nie kan sien nie, of kies om Hom nie te sien nie. Hoe “sien” die blindes God in ons, en in ons kerk? Die oorsteek van grense sal sentraal deel moet vorm van ons gedagtes…
Die Bybel is dié ding wat ons saambind! En dit bind ons oor alle grense saam. Dis heerlik om 'n “internasionale” gemeenskap te begin kry met die Bybelskool, met jou in Ierland en Stephan in Japan en nog 'n eie familielid Franci in Engeland!
Dankie Chris, Dis lekker om deel te wees al sit ek in Ierland