Psalm 1 – Geseënd is dié wat hul vreugde in God vind
Twee groepe mense
- Die sin van die lewe word in die regte verhouding met God gevind.
- Dit is dwaas om sonder God te probeer lewe.
Let op hoe die Psalm die impak uitspel wat regverdiges en goddeloses se onderskeie lewenstyle (1:1-2) op hulle ervarings (1:3-4) en bestemming het (1:5-6). Die pad wat jy kies in hierdie lewe het gevolge. Saam met God is daar vreugde en voorspoed – jy is soos ’n boom by standhoudende water. Sonder God is daar verydeling en ondergang – jy is soos kaf in die wind.
Dit laat ’n mens dink aan Jesus se tipering van twee paaie in Matt 7:13–14. Die een is ’n poort na die verderf, die ander die poort na die lewe.
Geseënd is die regverdiges
Die Psalm begin met die Hebreeuse woord gelukkig/geseënd (ʾǎš∙rê) wat vertaal is met “dit gaan goed met” en pas dit toe op die een wat kies om die raad van die goddeloses te vermy en liewer die woord van die Here te oordink en na te volg. Die oorspronklike woord herinner ons onmiddellik aan die Saligsprekings van Jesus in Matt 5:3. Trouens dieselfde woord word in die Griekse vertaling van Psalm 1:1 (LXX) gebruik as in Jesus se uitsprake in die NT: makarios – gelukkig of geseënd.
Die goddeloses word met twee ander woorde getipeer: sondaars en ligsinniges (of spotters). Dit is mense wat kies om God nie te gehoorsaam nie (sondaars), en trouens geen respek vir Hom of ’n verantwoorde lewe wys nie (ligsinniges). Soos Elwell dit stel, dit gaan goed met iemand wat “the corrosive influence of the cynical” vermy, “taking pleasure instead in every revelation of the mind and will of God, feeding his mental life on the divine Word”.
Die fokus van die regverdiges is die woord (tôwrâh) van God, waarmee veral na die wet (tien gebooie sowel as die eerste 5 boeke van die Bybel, die Pentateug) verwys word, die riglyne vir die lewe. Hierdie doelbewuste keuse vir die woorde en weë van God is die wyse pad na voorspoed in die teenwoordigheid van God.
Die Psalmis gebruik die woord mediteer as hy oor die besig-wees met die Woord skrywe, wat in die NAV vertaal is met oordink. Hierdie tipe meditasie is fluisterend of hardop gedoen.
Die metafoor van die boom herinner ’n mens aan die boom van lewe in die tuin van Eden. Ook Jeremia gebruik die metafoor in soortgelyke taal om die regverdige te beskryf (Jer 17:8) en die goddelose met ’n droë bossie in die woestyn te vergelyk.
Die verwysing na die goddelose wat hom nie kan handhaaf voor die Here nie, antisipeer die vraag in Psalm 15:1: “Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here” en Psalm 24:3: “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan?” Dit is net dié wat na sy wil vra (24:6 – Hom soek) en onberispelik wandel (15:2). Dit is kennelik nie waar van die goddelose nie.
Die Here ken die pad van die regverdiges
Die frase in vers 6: “die Here lei die regverdiges op hulle pad” is eintlik ’n vertaling van die volgende Hebreeuse frase: “die Here ken die pad van die regverdiges”. Die NIV vertaal dit met: “the Lord watches over the way of the righteous” op voetspoor van Dahood wat aangedui het dat die woord ken ook in die betekenis van beskerm gebruik kan word (Craigie).
Let op dat die Psalm nie sê dat die regverdigheid van die regverdiges die basis vir hulle voorspoed is nie, maar die feit dat God met hulle in verhouding is, dat Hy hulle ken, dat Hy hulle beskerm. Hulle bestemming is die gevolg van God se beskerming.
Paulus verwys na dieselfde gedagte in Galasiërs 4:9, waar hy skryf dat Christene vreugde moet vind nie soseer in die feit dat hulle God ken nie, maar dat God hulle ken: “Daar was ’n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls?” Daarom bid hy dat Christus self in hulle gestalte sal kry, eerder as wette en reëls, juis omdat God met hulle in verhouding getree het, en hulle ken.
TT Cloete verwoord dié Psalm só:
1. Gelukkig hy wat slegte raad vermy
wat op ‘n goddelose pad hom lei ,
en met die spotters sit hy ook nie saam nie ;
geen plan word met ligsinniges beraam nie .
Die Here sien hom in Sy goedheid aan .
Dit gaan met almal goed wat so bestaan .
2. Die Here is dié goedgesind
wat altyd in sy woord hul vreugde vind :
Wie dit oordink , soos sap vloei in die bome
geplant langs sterk en helder waterstrome ,
hul dra hul vrug gereeld op hulle tyd
en ken geen droogte of onvrugbaarheid .
3. Die goddelose word verstrooi soos kaf .
Gewis sal God hom oordeel en hom straf .
By die regverdiges kan hy nie kom nie ;
waar hul vergader , is geen plek vir hom nie .
Die Here lei dié wat na Hom verlang .
Die goddelose pad bring ondergang .
Tags: Psalms
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!