Psalm 11 – om God te vertrou in ’n krisis
Dawid het waarskynlik by die tempel kom skuil vir sy vyande – waar hy op beskerming sou kon aanspraak maak – hoewel die vyande nou ook sulke strukture in gevaar stel. Daar is dus die gevaar dat die vyande hom in die tempel sal kom kry, maar boonop ook die versoeking vir hom om te vlug na die berge, soos hy deur die goddeloses aangeraai word. Die versoeking is: om nie vas te staan in die Here nie, maar te vlug na waar dit menslik gesproke veiliger sou wees. Wanneer ‘n mens immers vasstaan, gee jy jou teenstanders ook meer van ‘n teiken om aan te val. Dit neem dus ‘n besondere moedige optrede van Dawid om nie terug te deins en te vlug nie.
Wat Dawid moed gee, is 2 fundamentele sake:
- Die Here is in sy tempel. Dit is nie net Dawid wat daar is nie! Dit is die gedagte wat die vlam van hoop in hom aansteek. Maar ook nie net dit nie:
- God is op sy troon in die hemel. Die God van die liturgie is ook die God van die wêreld. Hy is immanent en transendent, en op Hom kan ’n mens jou lewe bou en op Hom kan jy jou verlaat.
Sy geloofsbelydenis sluit verder in dat dié God verder en dieper sien as almal. Hy onderskei tussen goddeloses en regverdiges, deurdat hy albei toets, soos ‘n mens metaal deur vuur suiwer. En die gevolg of uitkoms van die toetsing verander Sy houding teenoor die goddeloses. Letterlik staan daar “Sy siel haat dié wat geweld liefhet.”
In sy nabye teenwoordigheid verskroei die goddeloses (Sodom en Gomorra as agtergrond), maar ervaar die regverdiges Sy liefde. Let op dat die fokus val op dié wat regverdig en opreg HANDEL. En die regverdiges sal God se aangesig sien, dws, sal ‘n Godsverskyning ervaar (vgl Ps 9:17).
In my nadenke hieroor het ek besef, vertroue in ‘n krisis is beide ‘n noodsaaklikheid as ‘n deug, maar dit moet ook deur wysheid aangevul word. Dit is verseker nie menslike wysheid nie – vlug uit gevaar – maar Goddelike wysheid. Paulus is bv in die NT aangeraai om te vlug toe hy op pad was Jerusalem toe (lees meer hieroor in my bydrae oor Handelinge 20), maar die wyse optrede was toe om juis te gaan waar hy gevange geneem sou word, soos wat die Here reg aan die begin van sy roeping vir hom uitgespel het. Dit was ook die basis van Jesus se vasstaan in versoeking, om nie die uitdaging van honger te ontwyk deur self te voorsien nie, maar van God afhanklik te bly.
Deur te bly vertrou in só ‘n krisis, bring ‘n mens by ‘n beter verstaan van hoe God werk, trouens van Wie Hy is, en leer jou om Hom met nuwe oë raak te sien.
Tags: Psalms
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!