Psalm 25 + 33 – God sorg vir dié wat Hom vertrou

Written by Chris van Wyk on 10/11/2011. Posted in Psalms

Print Friendly
Vandag lees ons twee Psalms wat albei met vertroue te make het.  Psalm 25 is ’n gebed van vertroue.  Psalm 33 is ’n loflied van vertroue.

Psalm 25 – God neem dié wat Hom vertrou in vertroue

Psalm 25 is ’n akrostiese Psalm.  Elke vers begin met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet (behalwe vers 18 en 22).  Dit help met die onthou van die Psalm (ten minste vir die Jode!).  En dit help ook om simbolies gesproke die “alfabet van geestelike groei” aan te leer (Elwell).

Want dit is die behoefte van Dawid, om die pad wat hy gekies het (Psalm 1), enduit met integriteit en opregtheid te kan loop, al is dit nie maklik nie.  Om die waarheid te sê, hy weet dit is onmoontlik om die pad te loop sonder God en sonder dat Hy in alles betrokke is by ’n mens se lewe.

25:1-15

Die belangrikste boodskap van die Psalm is in vers 1-2, dat die basis van die geestelike lewe in vertroue gevind word. Trouens, dit is ’n vertrouens Psalm.  Die Psalmis rig hom daarom tot God in die vertroue dat God hom nie in die steek sal laat nie (vers 2). Dit is immers die ervaring van almal wat hul verwagting in God gestel het, dat God die moeite werd is om te vertrou (vers 3).  Daarop maak hy dus staat.

Sy verwagting is dat God hom 1) Sy wil sal leer en 2) nie sy sonde teen hom sal hou nie. In vers 4-5a brei hy uit oor sy gewilligheid om deur God onderrig te word, en in vers 5b-7 oor sy afhanklikheid van God se goedheid en vergifnis.  Leerbaarheid en afhanklikheid is dus twee eienskappe wat voortspruit uit vertroue.  Wat natuurlik ook beteken dat dit eintlik net die Here self is wat jou kan leer wat jy moet weet (vgl Jer 31:34, waar dit deel van die visie vir die toekom is, dat elkeen deur die Here geleer sal wees).

Die Psalmis se ervaring is dat God liefde en trou bewys aan dié wat Hom vertrou, van Hom leer, en afhanklik van Hom lewe. Selfs sondaars wat op Hom fokus, word deur God geleer (vers 8-10).

Dit laat hom sy skuld bely in die verwagting dat God hom Sy weë sal leer. Meer nog, hy verwag dat God hom in Sy vertroue sal neem, Sy verbond aan hom bekend sal maak, sodat hy blaamloos met God die pad kan stap (vers 11-15).  Laat my dink aan Jesus wat vir sy dissipels gesê het, dat hulle nou sy vriende is, en dat Hy aan hulle alles bekend maak wat die Vader vir Hom gesê het (Joh 15:15).

25:16-22

Maar skuldbelydenis alleen kan nie sy situasie herstel nie.  Hy het ook nodig dat God ingryp en hom van sy vyande verlos (vers 16-20).  En die toppunt van sy gebed is dat hy vra dat onskuld (of integriteit) en opregtheid oor hom die wag sal hou, want op U vertrou ek (vers 21).  Daar is dus ’n manier van lewe binne die gevaar van vyandigheid, waar dit ironies genoeg juis onskuld/integriteit en opregtheid is wat jou beskerm.  Dit is soos twee karperde wat jou in die regte rigting trek.  Dit is ook juis die dinge wat die Here se aandag trek –  integriteit en opregtheid – en wat Hom betrek by die praktyk van ons lewe.  Laat my dink aan Daniël wat op dié manier selfs ’n leier in ’n vreemde land en kultuur geword het.

Dié gebed is ook vir sy volk (vers 22), ’n vers wat waarskynlik bygevoeg is om die lied in die liturgie van die tempel te kan gebruik.

Psalm 33 – Die Here sorg vir dié wat Hom vertrou

Psalm 33 is een van die weinige Psalms wat nie ’n opskrif het nie.  Soos iemand van dié Psalms sê, dit is weeskind-Psalms!  Maar watter spraaksame weeskind!  Dit roep al die nasies sowel as die hele wêreld op om God te loof.

Waar Psalm 25 diep nadenke oor vertroue was, is Psalm 33 ‘n loflied oor vertroue. Die hele wêreld is vol van die Here se troue liefde. Dit is sigbaar in die skepping, dit is duidelik deur die geskiedenis. En wat die skepping en die geskiedenis oor God sê, is dat die Here sorg vir dié wat Hom vertrou.

Dit kan in drie dele opgedeel word (soos ’n goeie predikant se preek!):

  • Oproep om God te loof – vers 1-3;
  • Sake (volgens Craigie se skema) waarvoor God geloof kan word – vers 4-19;
    • Sy Woord – vers 4-9;
    • Sy Planne – vers 10-12;
    • Sy wat alles sien – vers 13-15;
    • Sy Mag wat hulp verleen – vers 16-19;
  • Getuienis en gebed – vers 20-22.

Vers 4-19 gee ons ’n baie deeglike skema wat ’n mens in jou lof aan God kan gebruik: 1) Loof Hom vir Sy Woord, 2) Loof Hom vir sy planne, 3) Loof Hom dat Hy alles weet en alles sien, 4) Loof Hom dat Hy die mag het om iets te doen aan dit wat Hy sien!  Gebruik dit!

Let ook op hoe God se wese en werk in die Psalm as basis vir die vertroue geteken word.  Hy is aktief daar vir ons:

  • God is totaal betroubaar in sy liefde – alles wat Hy doen, staan vas (vers 4);
  • God is skeppend en onderhoudend besig met alles op aarde (vers 6-9);
  • God is doelgerig besig om te werk van geslag tot geslag met sy mense om sy doel met alles te bereik (vers 10-12);
  • God sorg vir almal wat hulle hoop in nood en hongersnood op Hom stel (vers 18-19)

Hoe pragtig sluit die Psalm nie af met ’n getuienis nie: “Ja, in Hom is ons hart bly, op sy heilige Naam vertrou ons (vers 21).” Wat weer opgevolg word met ’n gebed: “Hou u liefde oor ons, Here, want ons stel ons vertroue in U” (vers 22).

Terloops:

  • Die Psalm het ook ’n alfabetiese opbou, hoewel nie so streng soos die akrostiese Psalms nie (soos Ps 25 bv).
  • Die lier het blykbaar 7 snare gehad, en die harp 10 snare (vers 2).

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed