Psalm 26 + 32 – God skenk ’n lewe van integriteit en vertroue
Psalm 26 – Lewe met integriteit en vertroue
Die Psalm kom ooreen met Psalms 15 en 24 en was moontlik ook ‘n tempel-toetrede Psalm wat deur pelgrims gebruik is.
Dawid maak hier sy lewe oop voor God en lê sy integriteit (onskuld) in optrede en vertroue op God aan Sy ondersoekende oog bloot. Daarmee herinner hy ons daaraan dat sowel ons lewe in die wêreld as ons lewe met God volgens dieselfde waardes geleef moet word. Dit is waarom hy sê dat Hy hom deur God se liefde laat lei het. Hy het God se karakter as rigtingwyser gebruik in sy lewenstyl, terwyl hy ook op God vertrou het om dit te kan regkry (Fil 2:12 in OT gewaad!).
Dit gaan dus vir hom daaroor om in lyn met God se waardes en beginsels op te tree. Dit is die deurlopende tema in die Psalm soos in vers 1 en 11 aangedui word (onskuld kan met integriteit vertaal word): “Ek het met integriteit opgetree … Ek sal met integriteit optree … Red my en wees my genadig”. Maar wat vir my ongelooflik diepsinnig is, is dat hy homself weliswaar verbind aan ‘n lewe met integriteit (vers 1,11), maar tog in die laaste instansie staatmaak op God se redding en genade (vers 11).
“Ek het nie getwyfel nie” in vers 1 word deur Craigie as volg vertaal: “I shall not slip” wat beteken Dawid het nie opgehou om God te vertrou nie. Twyfel, volgens dié Psalm, is dus nie net om aan God se bestaan te twyfel nie, maar eerder om te twyfel in God se vermoë om betroubaar op te tree. Dit is ook die uitdaging vir ons vandag, om God te vertrou dat Hy in óns wêreld betrokke is en Sy wil sal laat geskied.
Hierdie verbintenis is iets wat natuurlik ook nie net met Dawid se eie manier van lewe te make het nie. Dit beteken ook dat hy nee sê vir die waardes en lewenstyl van bedrieërs, agterbakse mense, misdadigers, goddeloses, moordenaars en mense wat ander probeer omkoop.
“Ondersoek my deur en deur” in vers 2 beteken letterlik: “toets my niere en hart”, die setel van emosies en verstand. Dawid wil dus sy gevoelens en gedagtes aan God se ondersoekende oog blootlê dat God self sal sien dat hy met integriteit opgetree het en steeds so wil lewe.
Psalm 32 – Vergifnis seën jou met ’n veranderde lewe
Sonde belydenis en die impak van vergifnis op ’n mens se lewe oorheers die Psalm. En dit help om die Psalm te lees aan die hand van die Selas. Dit gee vir jou ’n aanduiding van die gedagte eenhede van die Psalm en waar ’n mens as’t ware eers tot stilstand moet kom, voor jy verder lees-bid. Ek het dit tentatief só opgedeel met ’n opskrif vir elke beweging van die Psalm.
32:1-4 – Daar is groot seën in sonde belydenis
Dawid skets op diepsinnige manier dat sonde belydenis en vergifnis ’n mens regtig gelukkig maak. As jy ervaar dat die boek van jou lewe skoongemaak word van alles wat skadelik en skandelik is, dan lewe jy eers regtig!
Dit is waarom die wegsteek of ontkenning van sonde so destruktief is – dit krap jou binneste om (en jou liggaam – die woord “uitgeteer” kan ook “oud-word” beteken) en hou jou gevange.
Terloops, dit is een van die diepste insigte wat van ons kerkvaders raakgesien het, onder andere Augustinus en Luther, en wat ’n neerslag gekry het in die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 1 en 2. Ek plaas dit aan die einde van hierdie bydrae. Casper Olivianus het dit op 26-jarige ouderdom geskrywe, kan jy nou meer!
23:5 – Sondebelydenis maak jou vry
Sondebelydenis maak jou vry en bring jou binneste tot bedaring. Selfs al sou jy steeds moet boet vir iets wat jy verkeerd gedoen het, gee vergifnis jou die vermoë om dit kop omhoog te doen.
23:6-7 – Vergifnis gee jou vrymoedigheid
Vergifnis gee almal die vrymoedigheid om God as skuilplek op te soek en te ervaar.
32:8-11 – God leer dié wat vergifnis ontvang het en omvou hulle met sy liefde
Vergifnis is egter net die poort tot ’n veranderde lewe. God wil vir Dawid leer oor die pad wat hy moet volg, sodat Hy sy oog oor hom kan hou. God wil nie vir hom beheer soos ’n mens ’n perd of muil met ’n stang in die bek moet beheer nie, maar in verhouding met hom lewe.
Vir dié wat ja sê vir só ’n lewe, ervaar dat God hulle met sy liefde omvou (vers 10)! En dit is die aanleiding tot ’n lewe van lof aan God in die byeenkoms van die regverdiges.
DIE HEIDELBERGSE KATEGISMUS
Jou enigste troos
Sondag 1
1 Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar (f) my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (i) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).
(a) Rom 14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22; Tit 2:14: (d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7; 2:2, 12. (e) Heb 2:14;1 Joh 3:8; Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39; 10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5. (g) Matt 10:30; Luk 21:18. (h) Rom 8:28. (i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14; Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3:
2 Vraag: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Antwoord: Drie dinge (a): Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is (b); ten tweede; hoe ek van al my sonde en ellende verlos word (c) en ten derde hoe ek God vir so ‘n verlossing dankbaar moet wees (d).
(a) Matt 11:28-30; Ef 5:8. (b) Joh 9:41; Matt 9:12; Rom 3:10;1 Joh 1:9;10. (c) Joh 17:3; Hand 4:12 10:43. (d) Ef 5:10; Ps 50:14; Matt 5:16; 1 Pet 2:12; Rom 6:13; 2 Tim 2:15:
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!