Psalm 39 – Ek wil sorgvuldig let op my lewe en op U
Die Psalm wys hoe uiters belangrik nadenke en gebed is vir iemand wat worstel met die impak wat slegte mense op hulle lewe het. Om in direkte gesprekke met sulke mense te gaan, bring eerder meer konflik as wat dit oplossing bring. Maar om jou wroeging en ontsteltenis nou net weer in te hou, en niks te sê nie, maak ’n mens weer siek van binne.
Twee optredes het meriete in sulke situasies.
- Refleksie en nadenke: “Ek wil sorgvuldig let op my lewe …” (vers 2) – dit wil lyk asof Dawid al oud is (vgl vers 5) en terugdink oor sy lewe, en natuurlik ook nadink oor sy naderende dood – en
- Indringende smekende gebed – dit is met God wat elke emosie wat ’n mens ervaar deur gesels moet word (Fil 4:6-7).
Vers 2-4: Dawid beskryf sy binnekant
Let op hoe hy die geloofsgewoonte van stilbly beoefen, omdat hy geleer het dat om te praat nie altyd die gewenste uitwerking het nie, en dit hom in die versoeking bring om self te sondig met wat hy sê, hetsy teenoor die slegte mense of teenoor God, wat die konflik net kan vererger.
Maar, stilbly kan ’n mens ook net só ver help. Groot wroeginge raak soos ’n vuur in jou hart wat jou van binne af verteer. Daarom moet iets uit …
Vers 5-7: Dawid dink terug oor sy lewe
Dawid dink dan terug oor sy lewe en beskryf die verganklikheid daarvan, steeds sonder om iets onvanpas te sê, deur bv God aan te kla oor die impak wat slegte mense op hom het. Die vertaling “U het bepaal dat my dae min sal wees” beteken eintlik “U het my dae ’n paar handbreedtes gemaak”, wat een van die kleinste mates was waarmee die Jode iets gemeet het – vier vingers breed. Dit dui baie poëties die verganklikheid van sy en ons lewens aan. Ironies genoeg laat dit hom besef dat kwaad word eintlik sinloos is – die lewe is te kort en om dit in wroeging oor slegte mense te spandeer, is dom.
Vers 8-14: Dawid bid tot God
Hier begin Dawid se smeking waarin hy die hoop van sy lewe deur worstel met God. Terwyl hy wel vra dat hy van teëstanders en dwase verlos sal word, is sy verwagting uiteindelik net in God se besluit en optrede geleë. En vra hy dat hy weer blydskap sal ervaar in God se teenwoordigheid.
Want hy hou rekening daarmee dat niks van wat hy ervaar buite God se betrokkenheid by sy lewe gebeur nie. En soos Richard Niebuhr gesê het: “God is acting in all actions upon you. So respond to all actions upon you as to respond to His action.” (The Responsible Self).
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!