Psalm 9-10 – God gee nuwe moed en laat reg geskied
Die opskrif is moeilik vertaalbaar, maar dit is waarskynlik ‘n verwysing na ‘n wysie of musiekstyl. Die Hebreeuse frase “met die dood van die seun” (dws volgens ‘n bekende wysie van daardie tyd – waarskynlik word Absalom bedoel) kan ook verstaan word as “met jong vroue-stemme ” (soprane) soos dit die geval is in Psalm 46:1 en 1Kron 15:20 (NAV vertaal daar met “hoë toon”).
Hier is ’n opsomming van die inhoud volgens die voorgestelde akrostiese struktuur, en opgedeel in 4 gedagte-eenhede:
1. God is regverdig en wreek die dood van onskuldiges
- 9:2-3 – Met my hele hart wil ek U prys.
- 9:4-5 – U laat reg aan my geskied.
- 9:6-7 – Niemand dink eers meer aan die vyand nie.
- 9:8-9 – God lewer regverdige uitsprake oor die nasies.
- 9:10-11 – Die Here is ’n toevlug in gevaar vir dié wat Hom vertrou.
- 9:12-13 – God wreek die dood van die onskuldiges.
2. Wees my weer genadig en gryp tog in
- 9:14-15 – Wees my genadig en red my weer van die dood
- 9:16-17 – God laat reg geskied deur die skuldiges met hulle eie handewerk te vang.
- 9:18 – Die dood is jou voorland as jy aan God nie dink nie.
- 9:19-21 – Gryp tog in, Here, dat mense U kan erken.
3. Kom tog, Here! Toon u mag, o God!
- 10:1-3b – Waarom staan U so ver weg, Here? Die goddelose verlustig hulle in hulle planne.
- 10:3c-5a – Die goddelose verag U Here en dink U sal nie rekenskap eis nie.
- 10:5b-6 – Die goddelose dink: ek sal nie wankel nie.
- 10:7-8b – Die goddelose bedink onheil en onreg.
- 10:8c-9 – Die goddelose loer watter hulpelose hy kan vang.
- 10:10-11 – Die goddelose slaan die armes, want hy dink U sien dit nie raak nie.
- 10:12-13 – Kom tog, Here! Toon u mag, o God!
4. U gee nuwe moed, wat U laat reg geskied en verhoor gebede
- 10:14 – U het die hele tyd alles gesien en maak daar ’n einde van.
- 10:15-16 – Verbreek die magsgreep van die goddelose en die misdadiger.
- 10:17-18 – U gee nuwe moed, want U verhoor gebed, en laat reg geskied.
Die goddelose word in hierdie Psalm as praktiese ateïste geteken, mense wat nie noodwendig regtig glo dat daar nie ’n God is nie, maar Hom nie in die praktyk van die lewe raaksien of wil raaksien nie. Neus in die lug sê die goddelose: “God vra tog geen rekenskap nie!” (10:4). “Hy kyk weg, Hy sal dit (sy wandade) nooit raaksien nie.” (10:11).
Daarmee vat hy nie die geloof in God noodwendig aan nie, maar die praktiese nut van geloof in die alledaagse lewe. Daarmee word ook die konsepte van moraliteit en geregtigheid weggegooi – “survival of the fittest”! Swakkes en hulpeloses is daar om uitgebuit te word.
Dit bring die geloof van die Psalmis onder erge druk, omdat hy ly onder die aanslag van die goddeloses, nie net in terme van sy geloof in God nie, maar in sy geloof dat dié God optree in die nood, en ’n toevlug is vir dié wat in die nood is.
Weereens, soos in vele ander Psalms, kom die verandering in die Psalmis se gemoed nie in die eerste plek uit omstandighede wat verander het nie, maar uit die geloofsbelydenis dat die Here altyd koning bly, en dat Hy sal optree, soos Hy in die verlede telkemale al bewys het.
Tags: Psalms
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!