WEEK 1: Inleiding op die Psalms – God is die sin en betekenis van die lewe
Welkom!
Ek plaas hierdie week ‘n paar inleidende bydraes in voorbereiding vir ons leeswerk in die Psalms:
- (vandag) Donderdag 13 Oktober – Indrukwekkende versameling geestelike liedere
- Vrydag 14 Oktober – Psalms ingedeel in vyf Psalmboeke
- Maandag 17 Oktober – Historiese raamwerk
- Dinsdag 18 Oktober – Teologiese temas, soorte Psalms en Jesus in die Psalms
- Woensdag 19 Oktober – Samestelling van Psalms 1-41, leesplan en Lectio Divina
Geniet!
Indrukwekkende versameling geestelike liedere
Elke Psalm is aanvanklik onafhanklik geskrywe om uitdrukking te gee aan die Godsbelewenis van individue sowel as die gemeenskap van gelowiges, soos bv. nodig was in die tempel liturgie (1 Kron 25). Meesal word God self aangespreek, hoewel die gemeenskap van gelowiges ook soms aangespreek word (Psalm 33, 37), selfs onderrig word (Psalm 1), en sommige liedere dele bevat wat ook as selfgesprek bedoel is (Psalm 42:6,12; 43:5). Elke Psalm het dus ’n eie betekenis en perspektief op die ervarings met en van God.
Die belangrikste funksie van die onderskeie Godsliedere was om gesing of gelees te word om te pas by ’n spesifieke ervaring of geleentheid.
- Die Pelgrimsliedere (120-134) was bedoel om met die reis na die tempel in Jerusalem gesing te word om die verlange na God (121), die gebed vir Jerusalem (122), die belydenis van afhanklikheid van God (123), die gebed om beskerming van God (125) te verwoord.
- Die Lofpsalms (103-107) was bedoel om in die liturgie van die (tweede) tempel die volk te begelei in hulle lofprysing.
- Die Klaagpsalms (bv 37) en Boetepsalms (bv 51) was bedoel om in moeilike tye troos, uitkoms en vergifnis te vra, hetsy vir die volk of vir ’n individu.
Die Psalmboek (soos Jesus en Petrus daarna verwys: Luk 20:42; Hand 1:20) bevat dus in sy huidige indeling 150 Psalms wat ’n wye verskeidenheid van situasies in die geestelike lewe reflekteer. Dit is die mees praktiese boek in die Bybel, omdat dit ons leer hoe om te bid, hoe om te leef, en hoe om God te loof. Op die koop toe help die Psalms ons op onvergelyklike wyse met die emosies wat ons oor die hele spektrum van die lewe ervaar. Dit spreek nie net ons intellek aan (kognitief), of leer ons hoe om gehoorsaam te wees nie (konatief). Dit help ons ook om emosioneel gesond voor God te lewe (affektief).
Soos die Psalmboek na die terugkeer uit die ballingskap saamgestel is om as Liedboek van die volk in die tempel en sinagoges gebruik te word in die liturgie (Esra 2:65; 3:10-13 – 200 sangers en sangeresse het teruggekom na die ballingskap en die volk begelei met trompette en simbale!), só is dit ook vir ons vandag die Liedboek wat vir ons eie praktiese persoonlike geestelike lewe sowel as vir die gemeente in die liturgie gebruik kan word.
Tags: Psalms
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!