Romeine 1 – God spreek mense vry enkel en alleen omdat hulle glo
Let op die meer uitvoerige bekendstelling van Paulus in sy skrywe aan die Romeine. Hoewel hy baie van hulle ken (vgl hfst. 16), was daar talle wat hom nie geken het nie.
Anders as met die Galasiërs prys hy hulle vir hulle geloof, en wil hulle juis besoek om 1) wedersyds in die geloof versterk te word en 2) soos op ander plekke sy roeping om mense vir Christus te wen, na te kom (vgl 1 Kor 9). Hierdie roeping sluit die Grieke en die nie-Grieke (barbare of onbeskaafdes soos die Grieke ander genoem het), die ontwikkeldes (wyses) en die ongeleerdes (ongeletterd) in.
Let op hoe opgewonde hy is oor die ingeboude krag van God in die evangelie van Jesus Christus wat mense vryspreek. En dit is vir Jode sowel as Grieke (Hellene of heidene): “enkel en alleen omdat hulle glo” (Hab 2:4). Sola fide – die hoofboodskap van dié brief.
Met hierdie inleiding roer hy sy eerste onderwerp aan wat tot aan die einde van hoofstuk 4 behandel sal word: God se voorsiening vir die probleem van die sonde geïllustreer in die voorbeeld van Abraham, waardeur aan die een kant die oneffektiwiteit van die wet en die besnydenis uitgewys gaan word, en aan die ander kant die krag van geloof in Jesus Christus wat mense vryspreek.
1:18-23 teken ’n goddelose mensdom (adikia – ongeregtig) wat ten spyte van God se algemene openbaring in die skepping Hom nie erken nie. Niemand kan egter hom- of haarself verontskuldig dat hulle nie geweet het nie, want die kennis van God is van altyd af daar. Hulle wysheid is eintlik dwaasheid, want dit lei tot afgodery. Hulle verruil die Skepper vir die skepping.
1:24-32 teken die Goddelike gevolge hiervan vir mense. Drie keer word gesê: “Daarom gee God hulle oor” (24,26,28). Dit het ’n impak op seksualiteit, beide in terme van heteroseksuele (24-25) en homoseksuele losbandigheid (26-27), asook op onbetaamlike gedrag, ’n lysie van 24 ondeugdes (28-31). God keer mense dus nie meer van die gevolge van hulle perverse keuse vir die skepping eerder as die Skepper nie, nie in terme van hulle seksualiteit nie, en ook nie in terme van hulle algemene gedrag nie (hoewel Hy ’n alternatief in Jesus Christus geskep het, maar daaroor sal Paulus eers later praat).
Opmerkings oor Homoseksualiteit
Homoseksuele dade word afgekeur in die Ou Testament. Die boek van Levitikus verbied homoseksuele dade sonder meer – ’n man mag nie met ’n man seks hê nie (18:22; 20:13). En twee verhale van pogings tot homoseksuele dade word ook afkeurend vertel, maar veral omdat dit op gewelddadige verkragting sou neerkom (Gen 19:5; Rigt 19:22). Genesis en Levitikus, as deel van die Pentateug of Torâ (Gen-Deut), en Rigters as een van die Vroeë Profete het saam met die ander Profete en Geskrifte die Bybel van die Nuwe Testamentiese gemeenskap gevorm.
Hoewel Jesus sy keuse vir die permanensie van ’n liefdesverhouding in die huwelik duidelik maak en in God se skeppingsbedoeling begrond (Matt 19:4-6) en natuurlik ook sy afkeur van losbandigheid en egbreuk in die Bergrede duidelik toon (Matt 5:27-28, 31-32; vgl ook Mark 7:20-22), sê Hy niks oor homoseksuele dade nie. Hy praat wel oor die keuse om selibaat te lewe (Matt 19:11-12), maar nie oor homoseksuele dade of homoseksualiteit nie.
Wat Jesus wel doen, is om die wet in sy volle konsekwensies te vervul (Matt 5:17; Luk 24:44), dit selfs te radikaliseer en nuut te interpreteer (Matt 5:21-48 – oor versoening, kuisheid, egskeiding, eed aflê, vergelding en liefde vir die vyand) om ons in ’n nuwe vrygespreekte verhouding met Hom te bring.
Hierdie vervulling van die wet deur Jesus is deur Paulus geïnterpreteer as dat die wet van Moses (Torâ) nie meer die deurslag gee in die lewe van gelowiges nie (die besnydenis is bv. nie meer noodsaaklik nie, hoewel dit ’n sentrale deel van die wet was – vlg Gal 5:2-12) maar die lewe deur die Gees van Christus of soos Paulus dit aan die Galasiërs stel: “al wat van belang is, is die geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (5:6). As die Gees gelowiges lei, staan hulle nie meer onder die wet nie (5:18).
Die enigste skrywer in die Nuwe Testament wat oor homoseksuele dade praat, is egter ook Paulus. In twee van sy briewe wys hy homoseksuele dade in ’n enkel frase af. In 1 Kor 6:9 het hy waarskynlik mans wat seks het met seuns (malakos – pedofilie of pederastie) en/of mans wat seks het met manlike prostitute (arsenokoitus) in gedagte. In 1 Tim 1:10 het hy ook waarskynlik seks met manlike prostitute in gedagte (arsenokoitus). Dit val vir hom in dieselfde kategorie as heteroseksuele losbandigheid (pornoi) wat in albei gevalle ook in dieselfde tekste genoem en afgewys word.
In Romeine 1 voer hy ’n meer uitvoerige argument waarin eers na heteroseksuele losbandigheid verwys word (24-25), en dan na homoseksuele losbandigheid (26-27).
- In die heteroseksuele losbandigheid is die fokus op die disrespek (ontering) vir God en vir mekaar se liggame. Dit word as verdraaiing van die waarheid en Godsonterend geteken.
- In die homoseksuele losbandigheid is die fokus ook op disrespek, maar in dié geval die disrespek vir die natuurlike omgang met die teenoorgestelde heteroseksuele geslag. Dit word as skandelik (disgraceful), teen-natuurlik en pervers uitgebeeld.
Paulus wys dus alle heteroseksuele EN homoseksuele losbandigheid af. In beide gevalle is dit disrespekvol teenoor God en teenoor mense se liggame.
Die vraag is nou, sou ’n permanente homoseksuele verhouding wel vir Paulus en die res van die Bybelskrywers aanvaarbaar wees – soos ’n permanente heteroseksuele verhouding dit wel was?
Wel, ons kan hulle nie vra nie! Nie Paulus nie, en ook geeneen van die ander Bybelskrywers nie, skryf oor permanente homoseksuele verhoudings waarin twee mense van dieselfde geslag in liefde en trou met mekaar saamleef nie. Ons weet dat sulke verhoudings nie noodwendig onbekend was vir hulle nie (hoewel daar sommige is wat dit, vir my gevoel, ten onregte beweer). Daar is bv. sprake van langtermyn verhoudings by van die Griekse filosowe (Sokrates, Plato – beide skrywe in elk geval goedkeurend oor homoseksuele verhoudings) en selfs van huwelike tussen mans in die Romeinse tyd (Nero), hoewel ek nie my oor die presiese historisiteit daarvan wil uitlaat nie. Die homoseksuele huwelikspraktyk is eers in die 4de eeu met wetgewing beëindig met die vestiging van die Christelike godsdiens as staatsgodsdiens.
Die Bybelskrywers skryf ook nie oor gelowige homoseksuele mense wat in ’n langtermyn verhouding is nie, mense wat juis nie disrespekvol teenoor God of hulle naaste wil leef nie.
Is permanente homoseksuele verhoudings dus vir gelowiges wat hulle deur die Gees laat lei, en wat ’n premie sit op Bybelse verantwoordbaarheid, aanvaarbaar?
Miskien is Adrio König reg (Wat is reg? Weet iemand dalk? 2005:85 vv) wat voorstel dat ons aan die een kant die antwoord aan individue se gewetens oorlaat EN aan die ander kant gemeentes moet toelaat om self te onderskei en in die lig wat hulle van God kry, op te tree.
Ek sal graag luister na die wysheid van die groep gelowiges wat saam met my die pad met Romeine stap. Hoe lei die Gees jou in die lig van die Bybelse boodskap?
related post
Tags: Geloof, Homoseksualiteit, Romeine, Vryspraak
Trackback from your site.


Comments (7)
Die “Daarom” in verse 24, 26 en 28 verwys na my mening na : “Omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie” ….daarom word hulle oorgegee aan verdraaide opvattings SODAT hulle doen wat onbetaamlik is! En ook omdat hulle “ al weet hulle van God, Hom nie as God eer nie “
`n Mens vind geen aanduiding dat daar graadsverskille tussen die afdwalinge en oortredings is wat hier genoem word nie…geen groter en kleiner sondes nie. Wat sou die rede wees dat daar dan verskillend deur ons geoordeel word? Liefdeloos, skinder, pervers, jaloesie, bedrog ens . word feitlik in een asem genoem…….waarom word party dan gestenig en ander oorgesien?
Baie interessante opmerkings van Dr Chris oor homoseksualiteit. Sou sinodes so `n denkrigting kon aanvaar?
Die steniging was natuurlik in die verlede deur die OT wet beheer wat ‘n onderskeid tussen sondes gemaak het, en figuurlik gesproke doen ons dit steeds!
Jy is inderdaad reg dat die “daarom” terugwys na mense se disrespek vir God, en dat dit Hom noop om hulle oor te gee aan losbandigheid en allerlei ander kwale in ons sonde-siekte toestand.
Maar, en dit is die sleutelprobleem wat sommige het, mense gebruik dié uitsprake buite konteks en maak dit van toepassing op gelowige homoseksuele, terwyl hier eksplisiet sprake is van ongelowige promiskue homoseksuele.
Op die keper beskou, is dit egter ook so dat Paulus hier egter wil wys dat die kleinste sonde jou diskwalifiseer om genade te verdien. Dit is waarom Paulus al hierdie sondes in een bondel groepeer en afskiet. En hoofstuk 2 en 3 borduur hierop voort om te bevestig dat niemand reg doen nie, en almal gesondig het.
Dit alles, sodat die boodskap van 3:21 en verder goed gehoor kan word: God spreek ons nou vry enkel en alleen omdat ons glo.
My gedagtes oor homoseksualiteit is in lyn met wat die Algemene Sinode in elk geval daaroor gesê het, hoewel ek in die eerste plek probeer het om die teks te verstaan. Ek sluit die Algemene Sinode se besluit van 2007 hieronder vir jou in. Ek sluit ook ‘n interessante bydrae van Piet Naudé vir jou in wat oor die neteligheid van die besluite hieroor geskrywe het (reeds in 2005 vir ons eie sinode geskryf).
BESLUIT
Op 7 Junie 2007 besluit die Algemene Sinode soos volg:
1. “Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
3. Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ʼn huwelik beskou kan word.
5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ʼn alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is ʼn funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ʼn selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.
8. Die Algemene Sinode erken die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.”
INTERPRETASIE
Na aanleiding van navrae en verskillende interpretasies, en met instemming van die Moderamen, gee prof Piet Strauss op 8 Junie 2007 die volgende verduideliking van die besluit oor homoseksualiteit:
“Prof Strauss verduidelik dat as daar in pt 8 van die betrokke besluit gepraat word van die diskresie van kerkrade, dan word daarmee nie gesê dat kerkrade die hele vraag of vraagstuk van voor af in behandeling neem en op hulle eie hanteer, heeltemal los van die Algemene Sinode se besluite nie. Pte 1-7 van die betrokke besluit bind die hele kerkverband want dit is die uitspraak van die Algemene Sinode.
Kerkrade moet weet dat wat die Algemene Sinode aanbetref, is die huwelik net vir ’n man en ’n vrou. Homoseksuele verbintenisse buite die huwelik om of homoseksuele huwelike buite die huwelik om kan nie in die plek van die huwelik kom staan nie. Die Algemene Sinode eer die huwelik en dit staan baie vas. Daar is ook besluit dat promiskuïteit, losbandigheid, in beide homoseksuele en heteroseksuele verbintenisse, vir hierdie Sinode totaal onaanvaarbaar is.
As ’n Kerkraad sy diskresie uitoefen, dan is dit in die lig van punte 1 tot 7 van die betrokke besluit. Dit hang daarmee saam. Dit was baie duidelik gesê en dit word hier weer onderstreep.
Dit gaan hier om Kerkrade wat in ’n gees van Christelike liefde die verskille in die gemeente hanteer. Met ander woorde: binne hierdie raamwerk moet Kerkrade optree in ’n gees van Christelike liefde. Daarmee word eintlik gesê dat die NG Kerk haarself in ’n fase bevind waarin die kerk hierdie verskille met liefde wil hanteer.
Dit is ’n baie gesonde Bybelse uitgangspunt. Kerkrade word dus hierdeur versoek om die plaaslike verskille in liefde te hanteer. Hierdie verskille moet egter binne die bepaalde raamwerk, soos geformuleer in pte 1 – 7 van die besluit, hanteer word.
Prof Strauss verduidelik ook dat dit nog altyd so was dat indien ’n Algemene Sinode nie ’n besluit oor ’n sekere saak geneem het nie, dan het ’n sinode, ’n ring en/of ’n kerkraad nog altyd die Woord en die Belydenis op grond waarvan hulle sake kan hanteer, byvoorbeeld tugsake. Hy verwys na KO Art 59 wat leiding bied oor wanneer ’n tugwaardige saak ontstaan.
Wat die besluit en saak onder bespreking betref, het die Algemene Sinode hom uitgespreek oor die saak en 8 pte geformuleer as ons besluit hieroor. Pte 1-7 is die raamwerk en pt 8 is as’t ware ’n beroep op kerkrade om aan hulle te sê dat wanneer hierdie sake hanteer word, moet dit in Christelike liefde gedoen word, binne hulle diskresie en aan die hand van Woord en Belydenis.
Prof Strauss beklemtoon dat elke kerkvergadering optree op grond van die gesag wat deur Christus aan hom verleen is. Met ander woorde: daardie vergadering moet aan die hand van die Woord optree met betrekking tot die sake wat op sy terrein lê. As hy aan die hand van die Woord optree, is dit op gesag van die Here Jesus.
Waar die Algemene Sinode reeds besluite geneem het oor ’n saak, moet die besluite van die betrokke ander vergadering binne die raamwerk van die besluite van die Algemene Sinode geneem word.
Die besluit wat die Algemene Sinode oor homoseksualiteit geneem het, moet dus reg verstaan word: pte 1 tot 7 van die besluit staan vas en die diskresie in pt 8 word uitgeoefen in die lig van pte 1-7.
BESPREKING
Prof Strauss skep daarna geleentheid vir vrae en bespreking. Verskeie sprekers neem aan die bespreking deel, waarna die volgende besluit die debat afsluit:
“Die Algemene Sinode verklaar dat die besluit van 8 punte insake homoseksualiteit as ‘n eenheid aan die Algemene Sinode gestel is en dat hierdie besluit as ‘n eenheid gelees en verstaan moet word.”
Ek dink dink die bedoeling moet op meer as net die spesifieke tekste gebasseer word, vir my gaan dit oor die skepping van man en vrou, oor die hele konsep van gaan voort en vermeerder, Ek persoonlik dink dis heel duidelik in die Woord.
Homoseksualiteit is n hot topic want dit het een in die sekulêre wereld geword – nou word daar van die kerk verwag om te compromise, om die teen argumente met n nuwe bril op te interpreteer. Dit gaan nie meer daaroor dat ons sondige mense is in n vervalle wereld wat ploeg met ons begeertes nie, dit gaan meer daaroor dat almal geregtig is op geluk – waar kry ons daai konsep vandaan, humanisties?
Ek probeer so veel as moontlik daarvan lees, oa Philip Liebenberg se Daar is n Gay Pastoor in my Kop, en dit het vir my n duidelike aanduiding gegee dat hy meer n probleem met wellus het as wat dit n Christelike probleem is. Hy kies toe uiteindelik sy eie begeertes en wil dan die kerk en die wereld blameer omdat hulle nie saamstem nie.
Jorrie Potgieter se boek Homoseksualiteit is weer iets waarmee ek saam stem, hy kyk in detail na al die sg argumente.
Ek kan nie saamstem dat dit okaty is nie, maar ek sal nie judge of sleg sê nie, want ons almal sukkel maar met ons eie sondes
Chris, dankie vir jou sobere kommentaar rondom die kwessie van homoseksualiteit.
Net rondom die Ou Testamentiese tekste: ek dink nie mens kan so onomwonde sê dat homoseksuele dade deur die OT afgekeur word nie.
Baie teoloë beweer dat die Levitikus-tekste eerder oor tempel-prostitusie gaan as homoseksualiteit. Ek is nie altyd so oortuig daarvan nie. Ek dink wel dat die oorspronklike betekenis van die woorde wat met “homoseksualiteit” vertaal word, verlore gegaan het. Ons weet gewoon nie wat die woorde beteken nie en vertaal dit vanuit ons eie vooroordele.
In Genesis en Rigters gaan dit, soos jy sê, nie in die eerste plek oor homoseksualiteit nie – of selfs oor verkragting nie – maar oor ongasvryheid. As mens bietjie lees oor die gasvryheid-goed, kom jy agter dat dit een van die ergste goed was wat mens kon doen – om ongasvry te wees. Baie relevant vir die huidige gesprek in ons gemeente.
Die Hebreeus in Lev 18:22 lui as volg: וְאֶת־זָכָר לֹא תִשְׁכַּב מִשְׁכְּבֵי אִשָּׁה תּוֹעֵבָה הִוא
Die NIV vertaal daarom: ” Do not lie with a man as one lies with a woman; that is detestable.” Ek sal dit letterlik so weergee: ” En met ‘n man moet jy nie lê/slaap/seks hê soos jy sou lê/slaap/seks hê met ‘n vrou nie. Afskuwelik is dit.” Die woorde se betekenisse is duidelik (hoewel ek moontlik moet saamstem met die vertalings van die Korintiërs en Timoteus tekste se woorde vir homoseksuele dade). Of dit as tempel-prostitusie bedoel word, kan egter nie uit die konteks van Levitikus afgelei word nie. Soos dit daar staan, word dit afgekeur. Dit is hoekom ek dit so weergegee het, soort van om te probeer sê wat die teks sê voor ‘n mens daarmee begin werk en interpreteer. Dit is natuurlik ‘n eerste naïewe lees … Of ‘n mens daarmee saamstem of nie is ‘n heel ander vraag, veral as jy met die bril van die Nuwe Testament of selfs ‘n spesifieke teologiese bril of verstaansraamwerk daarna kyk.
Die gasvryheid opmerking is natuurlik in die kol!
Ek gaan dit waag en my opinie gee; Voordat ek begin, wil ek net sê ek dink dat omdat Paulus en Jesus iets nie pertinent noem nie, beteken dit nie noodwendig dat hulle daarmee saam gestem het nie. (Voorbeeld is ook God-Drie enig).
Dan probeer ek ook so objektief as moontlik die vraag vir myself beantwoord, nie met die doel om Gay’s te beoordeel, of om ander te oortuig nie. Ek wil graag antwoorde hê op die kwessies wat so stil stil deur ons kerke gaan. Twee van my nabye skoonfamilie is Gay, so dis n topic wat gereeld in ons huis met die grootste sensitiwiteit behandel moet word…
Ons word almal in sonde (Met al ons sondige begeertes ) gebore. Noem dit maar die vleeslike mens. Begeertes word ook aan die ander kant deur gebeurtenisse en blootstellinge versterk of gevorm. So in n mate stem ek saam dat n Gay persoon dalk so gebore word. (Uit ondervinding lyk hulle net eenvoudig anders vanaf n baie jong ouderdom) Seksuele oientasie? Dit kan sekerlik gedeffinieer word as n seksuele voorkeur? Ek perssonlik dink dat egbrekers, (mans wat hulle vrouens knaend verneuk ), Pedofile en bestaliteit ook kan dui op n “Seksuele Orientasie” Ek het sowat n jaar gelede gelees dat mans wat nie met een vrou kan klaar kom nie n genetiese defek getoon het, bewys dat hulle ook so gebore is?
Die dag wat jy die Here aanneem / wedergebore word, word jy n nuwe mens. Dit gebeur deurdat die Gees jou bewus maak wat verkeerd is, jy jou gedagtes moet vernuwe en deur die krag van die Gees op te hou met wat verkeerd is voor God. So as ek n “veelwywer” is, besef ek wat ek gedoen het, begin fokus op God en KIES om nie meer by ander vrouens te gaan slaap nie. (Wat dit ook al kos!) Dit bly verseker nog my seksuele orientasie, maar ek kies om dit nie meer uit te leef nie.
Dieselfde geld vir enige ander sondaar wat wedergebore word, hy/sy kom tot bekering en hou op om te doen wat hulle gedoen het. Gay’s ingesluit. Is dit maklik? Verseker nie! Ons sukkel elke dag met die keuses wat ons moet maak….
Wat van liefde? Kan ek dieselfde argument gebruik in my buite egtelike verhouding?
Sommer net n klomp gedagtes
Groete
Ek is bly jy waag ‘n opinie! Dit is die enigste manier waarop ‘n mens ‘n eerlike gesprek kan hê en kan vorder in die formulering van ‘n eensgesinde standpunt, deur na alle gesigspunte hieroor kan luister. Baie mense dink soos jy oor seksualiteit vanuit die gebrokenheid van die wêreld, en dat die wedergeboorte dit kom nuut maak. En as nuwe mense weet ons mos dat die huwelik belangrik is, en dat huweliksmaats aan mekaar getrou moet bly – die Bybel is daaroor baie duidelik. Die vraag wat homoseksuele Christene egter vra, is of so iets nie vir hulle ook beskore is nie? Mag hulle nie soos heteroseksuele mense in ‘n lewenslange getroue verbintenis lewe nie? Ek moet eerlik sê, ek worstel met die antwoord daarop. Aan die een kant praat die Bybel baie sterk oor promiskuïteit (homo- en heteroseksueel) en kan ‘n mens ‘n duidelike standpunt daaroor formuleer. Aan die ander kant praat die Bybel nie oor permanente homoseksuele verhoudings nie, laat staan nog oor gelowige homoseksuele. Daarom is dit moeiliker om ‘n standpunt daaroor te vorm. ‘n Mens kan Romeine 1 se uitsprake dat promiskue homoseksuele seks skandelik, teen-natuurlik en pervers is van toepassing maak op alle homoseksuele verhoudings (soos baie doen) of nie … dit hang af van met watter bril jy daarna kyk. En die Algemene Sinode het besluit dat ons mekaar hieroor moet verdra, al verskil ons in ons standpunte. Maar, die onsekerheid oor permanente gelowige homoseksuele verhoudings, beteken dat ‘n mens ook na ander argumente moet kyk om ‘n verantwoorde standpunt te formuleer. En ek het ten spyte van ‘n redelike klomp leeswerk, nog nie genoeg geleer uit die perspektiewe wat die sielkunde, sosiologie, opvoedkunde en fisiologie vir ons hieroor gee nie, dat ek ‘n afgeronde finale standpunt kan formuleer vir myself nie. Maar, wat ek nou kan sê, is die volgende (en onthou dit is my eie worsteling): ek sien nog moeilik die prentjie van ‘n homoseksuele samelewing as ‘n normale manier van lewe. Daarvoor is daar vir my nog te veel onbeantwoorde vrae oor die tipe gesinslewe wat homoseksuele verhoudings gaan oplewer, hoe ‘n mens kinders se seksualiteit gaan hanteer wat in sulke homoseksuele verhoudings grootword, ensomeer. En voor ek nie hierop – saam met ander Christene – meer duidelikheid het nie, is die voorbeeld van ‘n vriend van my miskien die antwoord – hy het ‘n homoseksuele verhouding as tiener gehad, maar na sy bekering dit vaarwel geroep. Hy het getrou (sy vrou was ingelig), kinders gehad, maar ook steeds ‘n hunkering na ‘n homoseksuele verhouding (met sy tienerliefde) ervaar, hoewel hy nooit daaraan toegegee het nie. Hy het dus heteroseksueel gelewe, hoewel hy homoseksueel was, en vandag nog is.