1 Samuel 28-29 – Saul se koningskap wankel

Written by Chris van Wyk on 17/11/2009. Posted in Samuel

Print Friendly

Dit is met groeiende spanning wat ‘n mens dié gedeelte lees.  Die aanloop tot die oorlog op die Gilboaberg by Jisreël begin met Saul wat nie meer God se stem kan onderskei nie, nie direk deur drome nie, nie deur die bemiddeling van die priesters (met die urim en die tummim) nie , en nie deur ‘n woord van die profete onder leiding van die Gees nie.

Saul se desperaatheid word in detail geteken.  Hy is honger en bang.  En hy raadpleeg ‘n verbode dodebesweerster.  Dit alles, omdat God hom verlaat het.  Dis hartseer dat terwyl Samuel gelewe het, Saul ongehoorsaam was.  Noudat Samuel dood is, bly Saul steeds ongehoorsaam.  Hy kan nie dit oor sy lippe kry om te sê, ek het gesondig nie.  Terloops, die dodebesweerster was duidelik verbaas en doodbang dat enigiets gebeur toe sy iemand uit die dode oproep.  Dit dui aan dat dit God is wat uiteindelik van Hom laat hoor deur Samuel, en dat die dodebesweersters praktyk eintlik ‘n bedrogspul was.

Dawid word ook uitgeskakel uit die oorlog deur die besware van die ander Filistynse konings wat hom nie vertrou nie.  En in hoofstuk 30 is hy in elk geval betrokke by ‘n oorlog teen die Amalekiete, wat die leër van Israel só verswak dat hulle verslaan word en Saul en Jonatan in die oorlog (hfst 31) omkom.

Die tafel is gedek vir die onafwendbare gevolge van ‘n lewe wat nie in God se teenwoordigheid geleef word nie.  Saul se koningskap is naby sy einde.

Urim en Tummim: Dit was vermoedelik twee stene wat die priester in sy borssak gedra het vir besluitneming (Eks 28:30). Soms word net gepraat van die urim, soos hier. Hoe dit presies gewerk het, is onseker. Vermoedelik was die een ’n ja- en die ander ’n nee-stem, ofskoon daar soms nie ’n antwoord gekry is nie (1 Sam 28:6).

Tags:

Trackback from your site.

Comments (3)

  • 18/11/2009 at 21:46 |

    'n Vraag is gevra oor dodebesweerdery en waarsêery in die OT

    Dodebesweersters (mediums) het gespesialiseer daarin om dooies op te roep om deur met hulle te kommunikeer en uit hulle woorde (orakels) insig te verkry (die praktyk heet necromancy in Engels). Die praktyk is reeds bekend uit die 2de Millenium vC uit Ugaritiese tekste. Die praktyk is egter verbied in die OT (Lev 19:31), hoewel die praktyk tog regdeur die OT 'n versoeking gebly het, soos blyk uit Saul se verhaal, en uit die optrede van Josia (7de eeu vC) wat weereens die dodebesweersters uitgeroei het (2 Kon 23).

    Tegnieke waarmee waarsêery en towery bedryf was, word ’n paar keer in die Bybel vermeld: die skud van pyle, die bestudering van ’n dier se lewer (Eseg 21:21), en die waarneming van die stand van die sterre, wat dan “elke maand vir jou bekend maak wat oor jou gaan kom” (!) (Jes 47:13). Uit die antieke wêreld is daar ook tegnieke bekend soos die waarneming van die beweging van (offer)diere en die vlug van voëls, opsê van formules, dra van amulette, en veral die orakel (uitspraak of profesie) wat meesal raaiselagtige uitsprake van die heidense priesters was.

  • 18/11/2009 at 06:35 |

    Briljante ontleding en insig. In my voorbereiding vir Sondag se erediens met Filippense 3 as teks, is dit juis wat my van die Nuwe Testament “Saul” tref, dat, teenoor die OT Saul, sy hele lewe om sy verhouding met Christus gedraai het. Dit is amper soos 'n alles of niks beginsel wat vir ons geïllustreer word. Jy kan nie die verhouding tydelik afskakel en dan weer aan as jy Hom nodig het nie. Tog dink ek steeds, as Saul, selfs op dié laat stadium, hom sou verootmoedig voor die Here, hy genade van God sou kon kry, al kon dit nie die gevolge van sy lewe totaal uitwis nie. Dit bly die tragiese vir my van sy lewe, dat hy volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en nie tot inkeer en berou kom nie.

  • juriejurgens
    18/11/2009 at 06:08 |

    Is ek reg dat daar 'n sterk ironie in 28:6 is :- Saul probeer om die Here te raadpleeg, en word nie ge-antwoord nie;
    * nie deur die urim nie. MAAR dit is Saul wat die priesters uitgeroei het, en veroorsaak het dat Abjater die skouerkleed met die urim en tumin na David vlug(23:6 & 9);
    * nie deur profete nie, MAAR dit is Saul wat vir Samuel en dus ook sy groep profete vervreem het sodat hulle nie meer kontak gehad het nie (15:35);
    * nie deur drome direk van God nie, MAAR dit is Saul wat weggedraai het van die Here en sy eie kop gevolg het.
    Ek sien dit as nog 'n les dat mens nie jou verhouding met die Here kan “tydelik afskakel” en eie agenda volg, en dan weer kan “aanskakel” as jy die Here nodig het nie.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed