2 Samuel 16-18 – God is agter alles besig om sy wil uit te werk in die doen en late van mense

Written by Chris van Wyk on 27/11/2009. Posted in Samuel

Print Friendly

Midde in die strategiese en politiese spel van die onderskeie rolspelers, Dawid met Gusai en die priesters, Absalom met Agitofel en die opstandelinge – waarin Dawid die oorhand kry – staan die kort opmerking in 17:14 wat ‘n dieper perspektief gee op die verloop van sake:

“Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Agitofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring.”

God is agter alles besig om sy wil uit te werk in die doen en late van mense.

Let op hoe verdraagsaam Dawid teenoor Simeï se vervloeking optree met ‘n beroep op die Here se regverdigheid, moontlik ook omdat hy dit as deel van God se oordeel oor sy eie wandade sien (1 Sam 12:10-12).  Hy sien die episode selfs oor as Simeï om verskoning vra (hoofstuk 19), moontlik as deel van sy belofte om goedgesind te wees teenoor Saul se nageslag en ter wille van goeie verhoudinge met die Benjaminiete. Let op hoe Dawid vir Abisai keer om Simeï dood te maak, net soos hy doen toe dieselfde Abisai vir Saul wou doodmaak (1 Sam 26).

Dit bly egter vir my ‘n raaisel dat wat hier ‘n lofwaardige en navolgingswaardige optrede is, so omvergewerp kan word deur die laaste opdragte aan  Salomo aan die einde van Dawid se lewe, waar Dawid onder andere vir Simeï laat boet vir sy wandade (1 Konings 2).  Dit lyk asof Dawid uiteindelik tog toegegee het aan wraakgedagtes.

Let ook op hoe slim Gusai optree.  Aanvanklik gaan hy nie vir Agitofel, oupa van Batseba, teë nie.  Eers later begin hy baie diplomaties en met baie woorde twyfel saai in Absalom se gemoed oor wat die beste optrede sou wees, streel selfs sy ego deur voor te stel dat Absalom self teen Dawid opruk, en slaag daarin om Agitofel se raad te verydel. Gusai maak selfs voorsiening vir geval sy raad nie gevolg word nie deur die twee priesterseuns opdrag te gee om Dawid deur die Jordaan, 30 km van Jerusalem af, te laat trek.

Om by Dawid se byvroue te slaap, was ‘n openlike bewys van die nuwe koningskap, en goeie raad van Agitofel.  Dit druis egter teen die ou tradisies van Israel in, soos verskeie kere te vore uitgespel: (Vgl Ruben se oortreding in Gen 35:22 met Jakob se straf daarvoor in 49:4; ook die verbod in Lev 18:8 en Deut 22:30).

Absalom word uiteindelik deur Joab doodgemaak in die Efraimsbos tot Dawid se groot verdriet.  Hy is selfs meer geraak deur Absalom se dood as deur die dood van die eerste kind by Batseba.

Agitofel se selfmoord is een van vier gevalle in die Bybel – Saul (1 Sam 31:4), Simri (1 Kon 16:18) en Judas (Matt 27:5).

Tags:

Trackback from your site.

Comments (2)

  • 30/11/2009 at 22:10 |

    Dawid het baie spesifiek gevra dat daar sag met Absalom gewerk word. Jy is heeltemal reg dat Joab dus bang was dat Dawid onbeheersd kon optree. Die Kussiet is verkies vir die boodskap, nie omdat hy swart was nie, maar omdat hy minder belangrik as die priesterseun geag is.

  • Vinie
    30/11/2009 at 22:05 |

    2 Sam 18:21: Waarom probeer Joab verhoed dat Sadok se seun die nuus van Absalom se dood na Dawid neem? Was daar `n moontlikheid dat Dawid hom dalk kon laat doodmaak (soos met die nuus van Saul se dood)? En die Kussiet (swart man) dan?

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed