2 Samuel 3-4 – die pad na die troon is morsig

Written by Chris van Wyk on 20/11/2009. Posted in Samuel

Print Friendly

Die lys seuns wat vir Dawid in Hebron gebore is (die lys word in 1 Kron 3 aangevul) is nie om dowe neute hier geplaas nie.  Drie van die ses seuns sou Dawid in die skande steek.  Amnon, die oudste, sou sy suster Tamar verkrag.  Absalom, die derde seun, sou nie net vir Amnon doodmaak daaroor nie, maar Dawid uitdaag vir die koningskap.  En Adonia, die vierde seun, sou Salomo uitdaag vir die koningskap, en deur Salomo doodgemaak word.

Dawid het dus onderliggend dieselfde probleme met sy seuns as wat Eli en Samuel met hulle s’n gehad het.  Ironies dat dit juis Salomo is, gebore na Dawid se donkerste uur, wat die patroon deurbreek, en so die eerste word wat met onderskeiding die koningskap erf.  Let ook op dat Absalom se ma ‘n Aramese prinses was, ‘n dogter van koning Talmai van Gesur, ‘n stadstaat net noord van Galilea.  Laat ‘n mens wonder oor die wysheid van sulke politiese huwelike gegewe Absalom se geskiedenis.  Hierdie tipe verbintenisse word eintlik deurgaans afgekeur (1 Kon 11:4).

Die gevolge van Abner se keuse vir Is-Boset, Saul se seun, in hoofstuk 2, het hier ‘n ironiese en tragiese nadraai.  Deur ‘n verbintenis met Rispa, die byvrou van Saul, van wie ons later weer gaan hoor (2 Sam 21), maak Abner eintlik ‘n aanspraak op die troon, soos Absalom ook later sou doen.  Die gevolglike breukspul tussen hom en Is-Boset verenig ironies genoeg die Benjaminiete en die res van Israel onder Dawid se koningskap, maar lei op tragiese wyse tot Abner se dood aan Joab se hand uit weerwraak vir sy broer Asael se dood.  Is-Boset word ook wreed deur twee bendeleiers vermoor.  Let op hoeveel detail die skrywer oor Dawid se onskuld en smart oor albei gebeure gee.  Dit is die enigste optrede wat kan sorg dat die brose verenigingsproses nie uitmekaar val, voor dit nog behoorlik gebeur het nie.

Twee goed tref my:

  • die smart van Palti oor sy vrou Mikal wat deur Dawid teruggeneem word.  Midde-in die groter politiese spel, kry doodgewone mense seer, en dit roer my hart.
  • die inkonsekwentheid van Dawid in 1) sy vrees vir sy susterskinders, die seuns van Seruja, “Hulle is vir my te hard”, wat lei tot ‘n “hands-off” benadering teenoor Joab, teenoor 2) sy onmiddelike teregstelling van die twee bendeleiers.  ‘n Mens kan nie help om te dink aan die feit dat Dawid deurgaans militêre, politiese en strategiese voordeel uit dié wrede leiers se optredes sou trek nie.  Eers aan die einde van Dawid se lewe sou hy vir Joab terugkry deur Salomo opdrag te gee om Joab vir sy wandade te vergeld.  Dit bly ‘n uitdaging om konsekwent die regte ding te doen, veral as ‘n mens voordeel kan trek daaruit om sekere dinge oor te sien.

Tags:

Trackback from your site.

Comments (2)

  • 30/11/2009 at 22:01 |

    Joab – dit wil lyk asof Dawid doodgewoon bang was vir Joab en die ander broers van Seruja, sy neefs. Niemand het kans gesien om hom aan te vat nie. Hy was geslepe en geweldadig. En het daarmee weggekom totdat sy ouderdom (en Salomo) hom ingehaal het.

  • Vinie
    30/11/2009 at 21:57 |

    Goeiedag Chris,

    In die hoofstukke van hierdie week is daar nogal `n hele aantal rolspelers. Dankie vir die inligting wat jy deurgee en ook vir kruisverwysings na ander boeke bv Konings. Eintlik moes ons seker nou met Konings aangegaan het om by slothoofstukke uit te kom.

    Met betrekking tot Joab: Nadat hy Abner vermoor kom die uitspraak van Dawid: “Mag die Here self die saak regstel deur die moordenaar vir sy misdaad te straf “(2 Sam 3:39). Daarna speel Joab nog `n sleutelrol vir `n geruime tyd, vermoor vir Amasa en is tevrede dat `n vrou Seba se kop afsny terwyl hy in Dawid se diens staan. Hy word dan self eers NA Dawid se dood deur Salomo se toedoen om die lewe gebring! (Konings)

    Waarom sien ons Joab steeds in `n belangrike pos in Dawid se koninkryk, na grusame moorde wat hy gepleeg het? Sou die wette van die tyd dan nie op hooggeplaaste amptenare van toepassing wees nie?

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed