2 Samuel 5 – ons is tog almal u eie mense
God se keuse van Dawid as koning word nou ook deur die hele volk erken:
“Ons is tog almal u eie mense.”
Let op hoe Dawid se koningskap verbind word aan herderskap en charismatiese leierskap (die woordjie nagid word gebruik wat hier met heerser vertaal word). Dit bly twee belangrike aspekte van leierskap:
- om om te gee soos ‘n herder vir mense,
- en deur die Gees en sy gawes leiding te gee.
Ook al die leiers van Israel sluit met hom voor die Here ‘n verdrag. Die lang en stormagtige pad na die troon is voltooi.
Vers 8 is moeilik om te verstaan. Die verwysing na die watertonnel kan beteken dat Dawid dit gebruik het om in die stad in te kom. Die verwysing na die blindes en kreupeles word moontlik sarkasties gebruik.
Die keuse van Jerusalem was briljant. Nie net was dit neutrale grond tussen Juda en Benjamin nie, maar dit was ook ‘n strategiese plek wat maklik verdedig kon word. Geen wonder dat dit steeds vandag die hoofstad van Israel is nie.
Daarmee het Dawid polities die volk verenig, sodat daar nie ‘n stryd kon wees oor watter stam belangriker as ander sou wees nie.
Die stryd teen die Filistyn verhewig, met die gevolglike oorlog wat tot hulle ondergang lei. Let weereens op hoe Dawid die Here raadpleeg voor enigiets wat hy doen, en hoe die raad van die Here telkens by die situasie aanpas. Dit bly die Here se oorlog wat Dawid aanvoer:
“Wanneer jy ‘n geritsel in die toppe van die melkbosse hoor, moet jy blitsvinnig aanval, want dan trek die Here voor jou uit om die kamp van die Filistyne te tref.”
My gebed is om ook meer te wag op wat God doen.
Tags: Samuel
Trackback from your site.


Comments (3)
Baie interessante bydrae oor Jerusalem se vorige name. Dankie Laetitia.
Hoofst 28–Moderne vertalers het darem hd dag ‘n jolige jolliedag gehad met al hd sinonieme van dronk!!
Vers 10,13 het my laat dink aan Nataniel in Jan. Sarie:Almal=besig,almal het opinies,maar
vra,dan doen hulle bietjie die en bietjie daai,praat oor die en daai,maar se niks eintlik nie en weet net so ietsie oor dit en bietjie minder oor dat! Het hy dan by my gekuier?!
Linda du Plessis vra hoe oud Dawid was met sy kroning as koning. 2 Sam 5:4 dui aan dat hy ongeveer 30 jaar oud was met sy eerste kroning oor Juda en 37 jaar oud toe hy deur die hele volk aanvaar is en dus koning van die hele Israel geword het. Hy is waarskynlik op die jeugdige ouderdom van 15 deur Samuel gesalf as koning en het 70 jaar oud geword met sy dood (Bright dateer sy regering in sy History of Israel as 1000-961 v C). Interessant: Leviete moes 30 jaar oud wees voor hulle diens kon verrig (Num 4:3) en Jesus was ook 30 jaar oud toe hy met sy bediening begin het (Luk 3:23).
NAME VAN JERUSALEM:Met Chris se vergunning gee ek hier 'n baie beknopte opsomming van Jerusalem se name van die vroegste tye Dit is na aanleiding van 'n vraag verlede jaar.
URUSALIMM EN SALEM:Die oorspronklike naam was Ursalimm of variante wat beteken “Gestig deur die god Shalem”. Dit was 'n Kanaanitiese dorp toe Abraham geleef het, Sien Gen 14: 18 waar dit net Salem genoem word. Die Jode het nie die naam verander na hulle oorwinning oor die stad nie , al het dit op 'n afgod gedui, maar later het die woord 'n betekenisverandering ondergaan en toe ” vrede ” beteken. Dit hou ook verband met die Joodse groet “Shalom” en met die name Salomo en Absolom.
Maar die Jode het in totaal 70 name gehad vir Jerusalem -die syfer 70 het,soos die getal 7, 'n besondere betekenis vir die Jode gehad. . Die enigstes wat eintlik by ons bekend is, is: Moria [Gen 22:2] wat dui op die plek waar Abraham vir Isak moes offer en die heuwels daar rondom en Sion wat ook aanvanklik net die tempelberg en omringende dele was, maar ook later op die hele stad gedui het.
AELIA CAPITOLINA: In 70 NC is die jode tot hulle knieë gedwing deur die Romeine en na die volgende opstand onder leierskap van Simon Bar Kochba in 130 is hulle totaal uit die stad verban behalwe vir een dag per jaar. Die hele stad en die tempel is in die opstand verwoes en die nuwe Keiser,Hadrianus, wat baie lief was vir bou,het gou die hele stad begin herbou.Op die plek waar die vorige tempel was,die tempelberg, is 'n nuwe tempel gebou-vir Jupiter.Dit was eintlik toe 'n Romeinse stad en is Aelia Capitolina genoem. Aelia vewys na Hadrianus se familienaam en Capitolina op die tempelheuwel waar die nuwe tempel gebou is. DIe naam Aelia Capitolina[later verkort to net Aelia] het voortbestaan tot in die vroeê Middeleeue toe Jerusalem 'n christen Bisantynse stad geword het.
AL – QUDS: in die 7de eeu is die Bisantyne verdryf en Jerusalem het 'n belangrike,selfs heilige, Islamitiese stad geword met die naam El-Quds wat heilig beteken. Dis vir hulle heilig omdat hulle stamvader Abraham daar vir Ismael , eerder as vir Isak, soos hulle glo,op 'n rots moes offer, presies op dieselfde plek waar die Jode ook glo dit het gebeur ;maar veral ook omdat Mohammed volgens oorlewering sy nagvlug na die hemel en terug op sy perd vanaf die heilige rots onderneem het.[Dis tydens hierdie nagvlug dat hy glo sy boodskap by die engel Gabriel ontvang het ]. Daar is ook ander moslemname vir Jerusalem, maar Al – Quds en variante is die hoof naam vir Jerusalem in vele moslemkulture sedert die 7de eeu.
'n Baie interessante boek oor die geskiedenis maar veral oor moderne Jerusalem Is: A Golden Basin Full of Scorpions- A Quest foir Modern Jerusalem deur Con Coughlin – Warner Books,1997. Die titel kom uit 'n beskrying van Jerusalem deur ene Mukkadasi in 985.