2 Samuel 6 – God se wil moet in alles die deurslag gee
Interessant dat Dawid met militêre mag optrek om die ark te gaan haal by Baäla, ‘n ouer naam vir Kirjat-Jearim (Jos 15:9). Dawid maak aanvanklik die fout om die ark op die “Filistynse manier” op ‘n nuwe wa aan te ry, terwyl Numeri 4 se voorskrifte is dat die ark alleen deur Leviete met draaghoute gedra mag word. Dit lei tot die tragiese dood van Ussa wat probeer keer dat die ark van die wa afval. Sy dood is nie net die gevolg van sy ongeoorloofde aanraking van die ark nie, maar ook moontlik omdat God met die struikeling van die osse gewys het dat dit nie die regte manier is om die ark te hanteer nie (vgl die gebeure in die tempel met Dagon – 1 Sam 5).
Dawid is aanvanklik diep ontsteld oor die Here se optrede (só ‘n onsteltenis oor die Here word baie min in die OT vertel – net Kain [Gen 4:5], Samuel [1 Sam 15:11], Dawid en Jona [4:1]), maar besef uiteindelik dat hy nie die Here geken het in die proses nie (1 Kron 15:13 – ons het nie op die regte manier na die wil van God gevra nie), soos hy telkens voorheen gedoen het. Dit leer my dat God se wil in alles die deurslag moet gee. Oor alles moet Hy geraadpleeg word.
Na 3 maande, wat die ark van God (wisselend ark van God en ark van die Here genoem in die gedeelte) by Obed-Edom (moontlik uit die Filistynse stad Gat, maar kan ook ‘n Leviet gewees het – 1 Kron 15:18) gestaan het, maar net vir hom voorspoed gebring het, bring Dawid die ark op die regte manier die Dawidstad in (1 Kron 15:11-15). Hy offer ‘n bul en vetgemaakte kalf (heel moontlik net aan die begin van die prosessie en nie elke 6 tree nie, volgens die meeste geleerdes), dans met groot vreugde, soos vrouens dit baie keer gedoen het wanneer oorwinnings gevier is. Dit kan een van die redes wees vir Mikal se misnoë, dat hy saam met die vroue gedans het, hoewel uit die latere gesprek dit eerder blyk dat sy hooghartig en trots was, en so ‘n uitbundigheid as ‘n vernedering beskou het. Let op hoe Mikal as Saul se dogter, eerder as die vrou van Dawid, beskryf word, waarmee haar veragting van Dawid geïnterpreteer word as ‘n aantasting van Dawid se koningskap. Haar kinderloosheid sorg dat Saul nie voortleef in die nageslag van Dawid nie.
Tags: Samuel
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!