2 Samuel 7 – God sluit 'n langtermyn verhouding met Dawid en sy nageslag
Dit tref my dat Natan Dawid se versoek om vir die Here ‘n huis te bou aanvanklik positief antwoord, en nogal daarby voeg: “Die Here is by u”, die woorde wat later ‘n titel vir Jesus so word, Immanuel, God met ons (Matt 1:23). En dan korrigeer die Here sy profeet, en keer Dawid om ‘n tempel te bou, omdat God eerder die Dawidshuis gaan bou en bestendig vir altyd. Daarmee wys God twee goed:
- dat dit Hy is wat die inisiatief neem en nie afhanklik is van enigiets wat sy volk vir Hom doen nie, en
- dat Hy nie ‘n korttermyn God is nie, maar een wat op die langtermyn met Dawid se nageslag en die volk Israel ‘n verhouding het.
Daar is dus ‘n fundamentele verskil in hoe God oor Dawid se nageslag en dié van Saul praat. God het sy seën van Saul en sy nageslag onttrek, maar belowe aan Dawid, dat selfs as sy nageslag ontrou is aan God, sal Hy nie sy trou aan hulle onttrek nie. Daar is wel die verwagting dat Dawid en sy nageslag aan God sal behoort en aan Hom getrou sal bly, maar dit word nie as voorwaarde vir God se verbintenis aan hulle gestel nie.
Dit is werklik ‘n grootse belofte, van dieselfde omvang as die verbond aan Abraham, een wat selfs rekening hou met die moontlike sonde en afdwaling van die nageslag. Geen wonder dat dit in die omgangstaal as ‘n Dawidsverbond bekend geword het nie, veral omdat die woord trou (hesed) wat hier gebruik word, verbondstaal is. Jeremia sou dié belofte uitbrei na die hele volk (Jer 31) en Jesus, die seun van Dawid, na die hele mensdom (Joh 3). Dit vorm ook die agtergrond vir Paulus se beskrywing van gelowiges se verhouding met God in 2 Kor 6:16-18.
Hoe pragtig skryf die skrywer:
“Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: ‘Wat ‘n toesegging aan ‘n mens, Here my God!’”
En dit word dan Dawid se grootste gebed vir die res van sy lewe: dat God hierdie toesegging sal waar maak, vir hom en sy nageslag EN vir sy volk. Dit is wat ek ook wil doen!
Tags: Samuel
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!