Die karakter van Dawid

Written by Chris van Wyk on 12/11/2009. Posted in Mans, Samuel

Print Friendly

Ek het in my leeswerk oor Dawid, die man na God se hart, op soveel stof afgekom, dat ek besluit het om ‘n deel daarvan eerder net op die webtuiste te plaas.  Hier is dus ‘n paar aspekte van Dawid se karakter vir nadenke:

Passie vir God

Uit die Psalms van Dawid kan ‘n mens agter kom dat hy ‘n passie vir God gehad het, soos min ander van sy tyd, trouens soos min voor of na hom.  So as hy in Psalm 15 skryf, ” Wie mag op u heilige berg vertoef?”  dan is dit met ‘n diep eerlike soeke en begeerte na God.

Hy was lief vir die Here en selfs in sy donkerste uur het hy telkens teruggekeer na die grond van sy bestaan, om God met sy hele wese lief te hê en te dien.

Kunssinnige streep

Daarby het hy kunssinnige streep gehad, wat in musiek en veral lirieke die wêreld verryk het.  Nie net kon hy koning Saul kalmeer met sy lierspel (1 Sam 16:23 – voorloper van die ghitaar, sonder ‘n sleutelbord, wat met ‘n plektrum gespeel is) nie.  Hy kon ook met passie woorde inspan om God te loof met sy digkuns (in tientalle Psalms).

  • “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre … wat is die mens dan dat U aan hom dink?” (Ps 8:4)
  • “‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” (Ps 16:6)
  • “Ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” (Ps 23:6).

Met net soveel passie kon hy ook die donkerte van die lewe beskryf en voor God se troon bring:

  • “Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het, het my in die rug gesteek.” (Ps 41:10).
  • “My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?” (Ps 22:2)
  • ” U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!” (Ps 22:4)

Dapper vegter

Maar Dawid was ook ‘n dapper vegter, wat lief was vir ‘n uitdaging, veral waar hy hoë risiko’s moes neem.  Dink maar aan die keer dat hy nader gekruip het na Saul in die grot, terwyl dié besig was om ‘n draai te loop, en ‘n deel van sy klere afgesny het, om hom die boodskap te gee, dat hy nie vir Saul wil kwaad aandoen nie (1 Sam 24).

Maar sy dapperheid het uiteindelik oorgegaan in ‘n liefde vir bloed, en het Dawid ‘n hele paar gruweldade gepleeg.  Op ‘n keer het hy die Moabiete in groepe op die grond laat lê, en vir elke groep wat hy laat lewe het, het hy twee groepe doodgemaak (2 Sam 8:2).  En ‘n ander keer het hy toegelaat dat 7 seuns van Saul se nageslag doodgemaak word (2 Sam 21), al het hy anders aan hulle belowe (1 Sam 24:21).

En tog kon hy met deernis optree teenoor manne saam met hom wat nie die pas in die oorlog kon volhou nie.  Op ‘n keer wou die manne wat enduit teen die Amalekiete geveg het, nie die buit deel met dié wat agter geraak het nie, en Dawid het net besluit almal kry gelykop van die buit (1 Sam 30:24).  ‘n Ware komplekse volronde karakter!

Maar dapper was hy beslis.  Geen wonder dat Israel gaande was oor hom nie.  ” U is soos tien duisend van ons”, sê die leër op ‘n keer, toe hulle wou keer dat hy teen Absalom uittrek (2 Sam 18:3).

Net vir Joab en sy broers, die seuns van Seruja, Dawid se half-suster, d.w.s. sy susterskinders, was hy versigtig (2 Sam 3:39), al was hulle blind-lojaal aan hom.  Hulle sou enigiets doen om Dawid se posisie te verstewig, al kos dit ook wat, en al is dit boos.  En Dawid het die voordeel daarvan gehad, hoewel hy nie altyd saamgestem het met hulle metodieke nie.  Eers op sy sterfbed het Dawid vir Salomo opdrag gegee om Joab te straf vir sy wandade, toe dié al oud was (1 Kon 2:5-6, 28 vv.).

Wyse man

Maar die belangrikste kenmerk van Dawid was dat hy wys was.  Hy het geweet om meer vriende te maak as vyande.  En hy kon ongelooflik strategies dink.  As Absalom hom laat vlug uit Jerusalem, dan maak Dawid planne soos hy uit die stad saam met sy mense stap, om die raad van Agitofel, die een wat Absalom gehelp het, en self ‘n strateeg van formaat, te verydel.  En ook dié opstand word die hoof gebied, al is dit met baie pyn en skade.

En sy keuse van hoofstad was in die kol – 3 000 jaar later is dit nog steeds die hoofsentrum van sy volk.

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed