1 Korintiërs 10 – Gemeenskap met God moet ten alle koste beskerm word

’n Mens moet altyd in gedagte hou dat die hoofstuk-indeling van Bybelboeke eers in die middel-eeue gedoen is.[1] Die brief aan Korintiërs is as ’n brief geskryf, sonder verse en sonder hoofstukke.  Wat Paulus dus hier in hoofstuk 10 aan die orde stel, is integraal verbind aan dit waarmee hoofstuk 9 afgesluit is, om só die Christelike wedloop te hardloop dat jy die wenpaal kan behaal.

Paulus herinner daarom die Korintiërs aan die ervaring van die volk in Moses se tyd, dat hulle al die voorregte wat God gegee het in die woestyn kon geniet, maar tog nie die wenpaal, die intog in die beloofde land, bereik het nie.

Die oordekking met die wolk (simbool van God se teenwoordigheid) en die omsluiting met die see (simbool van God se redding) by die Uittog laat Paulus aan die funksie van die doop dink – dit ontferm en beskerm.  Net so laat die voorsiening van brood (manna was “kos uit die hemel” – Eks 16:4; Ps 78:24-25) en water (Eks 17:6; Num 20:7-11)  in die woestyn Paulus dink aan die funksie van die brood en wyn van die Nagmaal – dit voed en les ons dors deur ons gemeenskap met God.  Die rots was beide die simbool van God se voorsienigheid sowel as sy teenwoordigheid, iets wat met die werklikheid van Christus verbind word, lank voor Hy in die vlees gekom het – ’n misterieuse wonder.

Met dié voorbeeld spoor hy die Korintiërs aan om nie in onsedelikheid en afgodsdiens te verval nie, want dit bring hulle gemeenskap met God in gedrang, wat ten alle koste beskerm moet word.  Hy verwys hier terug na 5 gevalle uit die geskiedenis van Israel in die woestyn tydens die Uittog, wat vir die Korintiërs as voorbeeld en waarskuwing moet dien:

  1. vers 6: sondige begeertes (Num 11:4–35 – waar die volk gestraf word by Kibrot-Taäwa weens hulle lus vir vleis wat hulle in opstand teen die Here laat kom – die Here stuur wel kwartels, maar straf hulle vir hulle gulsigheid – ’n oortreding van die tiende gebod);
  2. vers 7: afgodsdiens (Eks 32 – die bekende verhaal van die goue kalf waar die volk die goue kalf as God aanbid het en losbandig te kere gegaan het – net Moses se tussenkoms keer dat die hele volk uitgewis word – ’n oortreding van die eerste twee gebooie);
  3. vers 8: onsedelikheid (Num 25 – die verhaal van die Israelitiese mans wat met Moabitiese en Midianitiese vroues seks gehad het as deel van die offers aan Baäl-Peor en deur die Here gestraf is – ’n oortreding van die sewende gebod.  Terloops, Moab was een van die kinders van Lot by sy dogters [Gen 19:37]);
  4. vers 9: uittarting van God (Num 21:4–9 – die verhaal van die ongeduld van die volk teenoor die Here toe hulle by die Horberg verbygetrek het, en Hom verkwalik het vir die Uittog, en waar die Here giftige slange gestuur het om hulle te straf, maar daar redding was deur die koperslang wat Moses gemaak het);
  5. vers 10: verset teen gesag/God (Num 16 – die opstand van Korag, Datan en Abiram teen Moses en Aäron dat hulle gesag as leiers, maar hulle eintlik teen die Here en sy keuses verset, en die Here wat hulle uitwis deur die aarde wat hulle insluk).

Paulus skets dus hier op ’n baie grafiese manier die versoekings van gulsigheid, onsedelikheid, afgodediens, ondankbaarheid (die uittarting van God deur nie met sy pad met jou tevrede te wees nie), en die verset teen gesag, want dit is eintlik ’n verset teen God self.

Maar daarmee saam skets hy die pad uit die versoekings – God sal nie toelaat dat ’n mens versoekings kry wat jy nie in staat is om te weerstaan nie, want Hy sal saam met die versoekings ook die uitkoms gee, sodat hulle dit kan weerstaan.

Hy sonder dan die versoeking uit om by afgodsdiens betrokke te raak, en hoewel hy steeds erken dat ‘n afgodsoffer of ’n afgod van geen betekenis is nie, het dit wel betekenis vir die persoon wat aan ’n afgod offer.  In ’n sekere sin, sê hy, is dit net soos wat die gelowiges by die Nagmaalstafel ervaar – daar is gemeenskap met God.  Dit beteken dat met ’n afgodsoffer dieselfde gebeur, maar die gemeenskap is nie met God nie, maar met bose geeste, d.i. met die duiwel self, en dit bring hulle gemeenskap met God in gedrang.

Dit gaan dus in elkeen van sy voorskrifte oor die beskerming van hierdie gemeenskap met God.  Niks mag met God in jou lewe kompeteer nie, nie jou eie begeertes nie, nie jou gedrag nie, en ook nie jou (af)godsdiens nie.

In vers 23 keer hy terug na ’n verwante tema, die eet van afgodsvleis, iets waaroor hy al vroeër in hoofstuk 8 geskryf het, en herhaal dat ’n mens nie jou vryheid moet gebruik ten koste van ander se gewete nie.  Dit gaan nie oor die vleis nie, maar oor die een saam met wie jy eet.  En nog dieper as dit gaan dit oor die eer van God – ons moet nooit aanstoot gee aan mense nie, omdat dit hulle Godsbeeld in gedrang kan bring.  Hoe ons optree sê vir hulle hoe God is!

Daarom soek Paulus nie sy eie belang nie, maar dié van ander, sodat hulle gered kan word, soos hy reeds in hoofstuk 9 vertel het.  Omdat hy hierin die voorbeeld van Christus navolg, moet ons hom ook daarin navolg (11:1).

Lees ook ‘n interessante bydrae oor besluitneming.


[1] Die eerste teks van die Nuwe Testament wat in hoofstukke verdeel is, was die Latynse Vulgaat, die amptelike Bybel van die Roomse Katolieke Kerk in Latyn.  Die hoofstuk-indeling is deur Stephen Langton, ‘n professor van Parys, gedoen in die 13de eeu.  Die eerste indeling in verse is deur Robert Estienne, ‘n Franse uitgewer, gedoen in sy 1551 uitgawe van die Griekse Nuwe Testament.  Dit het  verwysings na die Bybel makliker as tevore gemaak.  Die indeling word vandag in alle uitgawes en vertalings van die Bybel gevolg. Die Ou Testament se indeling in verse gaan terug na die Masorete se tekstekens, die Joodse groep wat verantwoordelik was om die Bybelteks oor te skryf en te bewaar.  Die gebruik van hulle tekens vir vers-indelings word aan die werk van Isaac Nathan ben Kalonymus in 1440 toegeskryf.

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment


2 + = nine

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk

    O ja, en sommer ‘n kort opmerking oor die “broers” waarvan hier gepraat word. Die algemene gebruik in die Griekse literatuur van daardie tyd was om die Griekse adelphoi as ‘n versamelterm vir “broers en susters” in ‘n familiekonteks te gebruik. Dit is dan ook wat Jesus hier bedoel met die term “broers”. Hy praat van die hele familie van gelowiges, almal wat sy volgelinge is, mans en vrouens, seuns en dogters.

  • Chris van Wyk

    Iemand vra my of die gelykenis van die skape en die bokke in Matteus 25 nie tog ook van die geringstes in die algemeen praat aan wie barmhartigheid bewys moet word nie?

    Daar is heelwat geleerdes wat dié teks só interpreteer, en wat dan verwys na ander Matteus tekste wat bv. oor vyande praat wat lief gehê en voor gebid moet word (Matt. 5:43). Maar dan lees hulle die betekenis van ander – weliswaar geldige – aksente in die Skrif in in ‘n teks wat vir my gevoel ‘n ander doel het. Daar is ook nog ander geleerdes wat dink dat Jesus eintlik hier verwys na die Jode – dws sy volksgenote – in onderskeid van die skape (Christene wat barmhartig is teenoor Jode) en die bokke (díe wat nie barmhartig is teenoor die Jode nie). Dit is ‘n interpretasie wat egter vir my heeltemal vreemd is aan hoe ek die teks lees.

    Die teks sê: “wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.” Ek dink dat Jesus hier van die geringstes as deel van die gemeenskap van gelowiges praat, meer nog, dat Hy van die dissipels praat, dié wat Hy binnekort weer gaan uitstuur om die Groot Opdrag van evangelieverkondiging te gaan uitvoer. Ek dink ‘n mens moet die teks dus nie te algemeen interpreteer nie, want dan mis jy die impak wat die teks op die dissipels gehad het wat hierna geluister het. Hulle het hier gehoor dat God mense (skape) sal gee om hulle te vertroos in hulle sending, en dat dié wat hulle in die proses ignoreer (bokke) die lewe sal mis. Hulle het ook gehoor dat hulle só teenoor mekaar moet optree. Dit korreleer dan ook met die uitsending van die twaalf vroeër in die evangelie waar die vrede wat God gee gebly het op dié wat ontvanklik daarvoor is, en dit het beteken dat hulle die dissipels met gasvryheid ontvang het. En dit beteken dat ons vandag ook meer moeite moet doen met kinders van die Here wat dit swaar het in hulle gehoorsaamheid ter wille van die Here Jesus.

    Daar is natuurlik baie ander gedeeltes in die Bybel wat praat oor vreemdelinge aan wie barmhartigheid bewys moet word, en vyande wat lief gehê moet word, wat genoegsaam sê dat barmhartigheid aan almal bewys moet word. Dit is immers hoe die Skrif God teken, wat vir almal goed is, die goeies en die slegtes. ‘n Mens het nie Matteus 25 nodig om dít te kan sê nie.

    Matteus 25 het dus vir my ‘n spesifieke boodskap van barmhartigheid aan die dissipels, binne die groter boodskap van barmhartigheid aan almal – selfs donkies van jou vyand moet uit die put gehelp word! Altans, dit is waar ek nou in my interpretasie is. Sal graag verder hoor hoe julle hieroor dink.

    Ek het verlede week ‘n getuienis van een van ons lidmate gehoor wat vir my ‘n Matteus 25 storie is. Ek haal my weergawe daarvan op ons Facebook bladsy vir julle aan ( https://www.facebook.com/ngkerksomerstrand):

    Wat sou jy maak as jy in gietende reën net na die dorpie Paterson ry en jy sien langs die pad drie jongmense met net die gesigte wat uitsteek onder hulle reënjasse?

    Een van ons lidmate, Cornell Lamprecht, het besluit om te stop al was haar motor vol van plante en honde op pad na hulle kleinhoewe in Riebeeck-Oos. Hulle storie het vir haar vreemd geklink. Die jongmense is daar met niks geld, klere of selfone nie, maar hulle volg die pad wat die Here hulle lei. Ma wat Cornell is, laai sy hulle egter in, en neem hulle saam, waar Manie, haar man, ook betrokke raak.

    Stadig ontvou die storie. Die jongmense is van Global Challenge in Jeffreysbaai, waar vorige lidmate van ons Marietjie en Johann McFarlane nie net by dié opleiding betrokke is nie, maar ook die skool bestuur. Ná ‘n vinnige oproep na my toe en ‘n gesprek met Johann blyk hulle storie waar te wees. Hulle is besig met die Lukas 10 projek. Hulle word in groepe uitgestuur en gaan waarheen die Here hulle lei.

    Die gemeenskap in Riebeeck-Oos het die vrede wat die jongmense gebring het, ontvang, en op die ou end het die hele gemeenskap ‘n wonderlike naweek met die 3 jongmense gehad en is almal deur hulle geraak. Almal is die Sondag saam klipkerk toe waar Ds Murray sy dissipelskap preek onmiddelik aangepas het in Engels om die Botswana meisie te akkommodeer.

    Al drie was toe ook nie so jonk nie, omtrent 25 jaar oud, nagraads gegradueer en het al gewerk. Eric is eintlik n proponent van ons kerk! Hulle is op pad Suid Amerika toe. Eric is ook toevallig (Godsvallig!) goeie vriende met die McFarlane tweeling. Die Here werk voorwaar op merkwaardige wyses! Hulle het ook vanoggend ‘n lift tot in Jeffreysbaai gekry saam met ‘n plaaslike boervrou.

    Die volgende keer dat jy iemand langs die pad sien … of iemand by jou huis aanklop … onthou dié storie!

  • Chris van Wyk

    En daar is ‘n skatkis van woorde in die biblioteek wat God vir ons met al die boeke van die Bybel gegee het! Geniet!

  • Carel

    Dit is net merkwaardig hoe die woord van God n mens telkemale onder alle omstandighede ,versterk en insig gee in jou lewe wanneer jy dit die nodigste het

    Groete en seenwense

  • Carol

    Baie dankie…sal gaaf wees as dit ook in gedrukte vorm verkrygbaar kan wees en sal op die uitkyk wees daarvoor. Sterkte en dankie vir al die moeite, tyd en energie wat hierin gegaan het en nog gaan.