1 Korintiërs 3-4 – Soos ’n goeie boer, bouer en bestuurder

Written by Chris van Wyk on 16/08/2010. Posted in Korintiërs, Tessalonisense en Korintiërs

Print Friendly

Begeleiding deur die Gees van God is nie net ’n teken van geestelike volwassenheid nie, maar die essensie van ’n vervulde persoonlike en gemeentelike lewe.  Sonder die Gees is daar afguns en twis en verydeling – omdat eie begeertes die botoon vier.  Met die Gees is daar insig en groei en eenheid – omdat die Gees se begeertes die botoon vier.

Interessant dat Paulus hom in sy kommunikasie laat lei deur die vlak van hulle geestelike volwassenheid, dié mate waarin hulle bereid is om hulle deur die Gees te laat lei.  Omdat hulle soos wêreldse mense optree, soos kindertjies in die geloof, moes hy eenvoudig met hulle praat, omdat hulle dieper dinge nie sou kon verteer nie.

Let op hoe hy terugkeer na die kwessie van verdeeldheid rondom leiers, nou meer spesifiek oor die stryd in die gemeente om óf Paulus óf Apollos óf Sefas (Petrus) aan te hang.  En hy praat daaroor uit drie perspektiewe: 3:4-9 – dat die leiers medewerkers is in diens van God wat die werk doen wat Hy gegee het; 3:10-23 – dat die gemeente die gebou van God is waarin die Gees van God woon, en dat dit daarom dwaas is om op mense/leiers te roem of hulle te verheerlik; 4:1-21 – dat die apostels dienaars is van Christus (nie van die gemeente nie), wat deur Hom beoordeel word, en hulle binne die perke moet hou wat Hy bepaal.

Hy gebruik drie basiese metafore in sy gesprek oor eenheid, in die eerste perspektief van boere in ’n saailand, in die tweede van bouers in die gebou of tempel van God, en in die derde van bestuurders in die koninkryk (Bybel in Praktyk praat van die “hemelse ekonomie”!) van God – lekker metafore vir leiers: boere, bouers en bestuurders!  En let op dat Hy dit regdeur trinitaries uitspel – dit gaan oor God (die Vader), die Heilige Gees en Christus wat laat groei, beloon, beskerm, en lof uitdeel.

Wat my tref is die baie belangrike boodskap van Paulus dat die Gees nie net vir my as gelowige gegee is nie, maar vir die gemeente – dat die gemeente ’n tempel van God is waarin Hy woon.  Dit is waarom eenheid so belangrik is, en verdeeldheid so gevaarlik, want dit skaad die werklikheid van die Gees se teenwoordigheid in die gemeente.

Daarom moet ek as leier mooi kyk hoe ek werk – Paulus sê letterlik dat ’n mens soos ’n “wyse” (dit is wat die woord goeie in die oorspronklike Grieks beteken) bouer te werk moet gaan, by wyse van spreke, volgens die bouplanne wat God gee.  Let op dat die gehalte van die werk in twee groepe verduidelik word: duursame (goud, silwer, edelstene) en verganklike (hout, gras, strooi) materiale.

En die gemeente moenie op sy leiers roem nie, en veral nie die een bo die ander uitsonder om aan te hang nie, al verskil hulle werk en selfs die kwaliteit van hulle werk, maar almal sien as dienaars van Christus en bestuurders van die geheimenisse van God.

Paulus is ook duidelik – al is dit ’n bietjie sarkasties! – oor die uitdagings en beproewings van die bediening.  Daar is geen glamour nie – net swakheid, veragting, honger, dors, armoede, mishandeling, harde werk, uitskellery, vervolging.  Kortom, die apostels is die uitvaagsels van die wêreld, die skuim van die samelewing!  Dit gaan dus werklik in die bediening oor die kruis van Christus (2:2) en die deelhê aan sy lyding ter wille van die evangelie.

Maar dan, op vernuftige wyse, gebruik hy dié tekening van die apostelbediening om sy verbintenis aan hulle as geestelike vader te bevestig om hulle aan te spoor om sy voorbeeld te volg, en te volhard in die geloof.  En in ’n skerp toon vat hy die mense in gemeente aan wat hulleself begin aanmatig met die waarskuwing dat hy op pad is!

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed