1 Korintiërs 5 – Sonde suurdeeg deur in ’n gemeenskap

Written by Chris van Wyk on 17/08/2010. Posted in Korintiërs, Tessalonisense en Korintiërs

Print Friendly

Paulus skryf verder oor van die sake wat Chloë se mense aan hom vertel het, hier oor bloedskande, ’n man wat met sy stiefma saamleef (Lev  18:8 verbied dit), maar steeds deel van die gemeente is.  Dit blyk dat dit algemene kennis was (die eerste frase van vers een kan so vertaal word) en nie net bekend aan ’n klein groepie nie.  Let op dat hy eintlik net oor die man se sonde skryf, nie oor die vrou s’n nie (moontlik was sy ’n ongelowige?), en wou hê dat hy as ’n tugmaatreël uit hulle midde verwyder sou word.

Paulus beskrywe hierdie tughandeling met die woorde: “om hierdie man aan die Satan oor te gee”, woorde wat herinner aan die gesprek tussen God en Satan in Job 1:12, en hou in die gees ’n imaginêre tugvergadering saam met hulle.  Deur hom oor te gee aan die Satan, kan dié hom tref met allerlei teenspoed (soos in Job se geval) wat hom hopelik tot ander insigte sou bring (vgl 1 Tim 1:20 waar Paulus dieselfde doen met Himeneus en Aleksander, mense wat hulle gewete onderdruk het), al sou die man se redding nie in die laaste instansie in gedrang wees nie (vgl 1 Kor 3:15 waar iets soortgelyks van toepassing is op gemeentebouers).

Paulus gebruik dan die geval om hulle aan te vat oor hulle selfverheffing, deurdat hulle hantering van dié saak wys dat hulle nie iets het om hulle oor aan te stel nie.  Nog dieper as dit – deur niks te doen aan openlike sondes nie, benadeel ’n gemeente nie net die persoon nie, maar ook die gemeenskap van die gemeente self.  Sonde suurdeeg deur in ’n gemeenskap, net soseer as wat reinheid en waarheid dit doen.

Dit is duidelik dat die gemeente dit makliker gevind het om sondaars uit die wêreld te vermy, maar dit moeilik gevind het om sondaars binne die gemeente onder tug te plaas.  Ek dink baie gemeentes sukkel vandag nog daarmee!  En hulle het dit probeer regverdig deur die voorskrifte in sy vorige brief – om sondaars te vermy – verkeerdelik aan te wend.  Maar daarmee het hulle twee sleutelfoute begaan: hulle het die kwaliteit van hulle eie gemeentelewe benadeel, sowel as hulle roeping in die wêreld versaak, wat tog gemik is juis op mense wat vasgevang is in hulle sonde.

Hy sluit met ’n algemene reël, dat dit nie verantwoord is om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. Dit is God se werk.  Maar, binne die gemeente, het die gemeente die verantwoordelikheid om sensuur toe te pas.

Die klem wat Paulus hier lê op die onderlinge sorg vir mekaar, wat vermaning en tug insluit, bly my by.  Sonde is nie ’n klein saak nie.  Dit het ’n groot effek op die sondaar self, maar dit het net so ’n groot effek op die gemeenskap van die gemeente.  Geen wonder dat Paulus in hoofstuk 3 so duidelik geskryf het oor die gemeente as die tempel waar die Gees woon, iets waaroor hy verder sal skrywe in hoofstuk 6.

Sonde skaad dus ook die verhouding van die gemeente met God.  En daarom is in die Reformasie geoordeel dat die toepassing van tug een van die kenmerke van die ware kerk is (Nederlandse Geloofsbelydenis 29).  En ons sal goed doen om Paulus se voorskrifte hierin te begin navolg.

So, opsommenderwys, tug fokus op die sondaar – om hom te red; op die gemeente – om die gemeenskap te suiwer; op die Gees – om sy teenwoordigheid te verseker.

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed