1 Korintiërs 6 – Vermy onreg en onsedelikheid
Paulus spreek vervolgens twee verdere etiese kwessies aan: hoe om kleiner onderlinge verskille te hanteer, en hoe om seksueel onberispelik te lewe. Die hoofsaak in die eerste is om onreg te vermy, en in die tweede om onsedelikheid te vermy.
Paulus werk met die uitgangspunt dat die regstelsel van daardie tyd nie geestelik van aard is nie, en volgens menslike regsreëls gewerk het. In die lig van die feit dat ware wysheid van God af kom (vgl hfst. 1:18-31) en gebaseer is op ’n kruis-evangelie (2:1-5; ook vers 6-16), moet gelowiges nie van die regstelsel verwag om uitspraak te gee in sake wat primêr binne die gemeenskap van gelowiges hoort nie. Hy noem die mense binne die regstelsel letterlik “onregverdiges” teenoor die gelowiges wat hy “heiliges” noem. Omdat laasgenoemde weet wat God wil hê, moet hulle vertrou word om uitspraak in geskille te lewer, ’n funksie wat selfs in die hiernamaals aan gelowiges toevertrou sal word (vgl ook Open 20:4).
Hy pas die kruisevangelie ook toe op dié wat onreg ly, dat hulle liewer self te kort skiet as wat hulle optrede ander ’n onreg aandoen. Daarmee gee hy natuurlik ook vir ons die sleutel om die lysie van “onregverdiges” te verstaan, want dit is oor die onreg wat onsedelikes, egbrekers, diewe en kwaadpraters, aan ander doen, wat hulle nie deel sal kry aan die koninkryk van God nie (vgl ook Gal 5:19-22 waar hierdie tipe onreg met die vrug van die Gees gekontrasteer word).[1]
Let op hoe Paulus die eerste perikoop afsluit met ’n verwysing na vryspraak, en dan direk oorgaan na die verkeerde idee wat die Korintiërs het oor vryheid, asof dit geen perke het nie. Die vryheid in Christus is onderhewig aan die beginsel vraag of iets jou verhouding met God en die gemeenskap sal bevorder of belemmer, en of dit jou sal verslaaf of nie.
Hy pas dit dan toe op die seksuele lewe – hy sonder dit uit onder die lysie van sondes in vers 9-10 – en skiet die idee af dat seks op dieselfde vlak as eet lê. Die Korintiërs het die spreekwoord: “Kos is vir die maag, en die maag vir kos” ook op die liggaam en seks toegepas: “Seks is vir die liggaam, en die liggaam vir seks.” Die vernaamste rede waarom so ’n seksuele losbandige houding verkeerd is, is omdat gelowiges ’n intieme verhouding met God het, en seksuele onsedelikheid en losbandigheid God deel sou maak daarvan. En dit kan tog nie, sê Paulus. Ons liggame is daar vir die Here. Dit geld alle seksuele verhoudings, wat nie binne die huwelik plaasvind nie, soos hy in die volgende hoofstuk uitspel.
Net soos die Gees die korporatiewe liggaam van die gelowiges as ’n tempel gebruik (3:16-17), gebruik Hy ook die persoonlike liggaam van individuele gelowiges as tempel (6:19). Ons behoort dus nie aan onsself nie, en moet God ook in ons liggaam verheerlik deur nie onsedelik te lewe nie.
Wat baie duidelik is, is dat Paulus ’n baie hoë sedelike standaard daar stel waaraan gelowiges hulleself moet meet. Omdat God deur sy Gees in ons woon, behoort ons nie aan onsself nie, kan ons nie net maak wat ons wil nie, kan ons nie eers op onreg reageer soos wat die wêreld dit doen nie, maar is ons gebonde aan ’n ander stel reëls wat met omgee en opoffering te make het. En daarvan is en was Jesus die uitnemende voorbeeld. En dit is Sy voorbeeld wat ons moet navolg.
[1] Die frase “mense wat homoseksualiteit beoefen” is ’n vertaling van twee Griekse woorde: malakos en arsenokoitus. Die eerste woord beteken letterlik “sag” en het waarskynlik te make met manlike prostitute of seuns wat deur mans vir pedofiele seks gebruik is. Daar was ook die redelike algemene gebruik van pederastie in die Griekse samelewing waar ’n man benewens sy huwelik met sy vrou ook ’n verhouding met ’n minderjarige seun aangeknoop het, onder andere vir begeleiding tot volwassenheid, maar ook vir seksuele bevrediging. Die tweede woord beteken geslagsgemeenskap tussen mans. Die NIV vertaal daarom: “male prostitutes” en “homosexual offenders”
Tags: Korintiërs, onreg, onsedelikheid
Trackback from your site.


Comments (2)
Chris, ‘n dom vraag: Nadat ek alles gelees het van die afgelope paar dae, het die vraag by my opgekom: As baie van die uitsprake Paulus se eie mening is, kan ons dan nog aanneem dat “die Bybel as God se Woord” so se? Ons het geleer en het ons kinders geleer dat dit God se uitsprake is bv. dat dit goed is om nie te trou nie ens. Verstaan ek dit reg? Tokkie
Die Bybel is God se Woord in mensetaal. Daarom kan ons dit aan die een kant as openbaring van God se wil neem, maar aan die ander kant ook bv. ‘n ontwikkeling in gedagtes onderskei rondom, sê nou maar, hoe om sonde te hanteer.
Die wet bly egter steeds die Woord van God, maar omdat dit in mensetaal is, en daar ontwikkeling was in die openbaring wat God gegee het, kom ons die liefdesgebod na en wis ons mense nie meer uit wat oortree het nie (kyk bv. na Joh 8 – vrou wat in owerspel gevang is – wat Jesus vergewe en beraad, maar nie stenig nie). Gesinne word ook nie meer saam met die oortreder gestraf nie, omdat Jeremia en Esegiël dit al “voor Christus” geskryf het, dat elkeen vir sy eie sonde gestraf moet word.
Dit geld ook Paulus se briewe, meer nog, waar hy spesifiek sê dat iets sy eie mening is, soos in 1 Kor 7 (iets wat hy nie baie doen nie, moet ‘n mens bysê!). Dit bly dus die Woord van God, maar daardie gedeelte is in “Paulus”-taal, en daarom nie op een gesaglyn met ander uitsprake nie, bv. dit wat hy skrywe in 1 Kor 13 oor die liefde.
Die Woord se eie uitsprake hieroor help ons nog verder om te onderskei tussen die dinge wat in die hart van ons geloof staan – die opstanding van Jesus en die liefdesgebod bv. – en die dinge wat op die periferie staan – wat ons eet, aantrek, vier ens (Rom 14-15 praat bv. daaroor).
Maar, en dit is belangrik, selfs wanneer die Woord dus vir ons die vryheid gee om ons eie idees oor goed te vorm, en van mekaar daaroor te verskil, oor dié dinge wat nie so belangrik is nie, bly dit ook nog steeds die Woord van God.
Die Woord van God is dus nie ‘n statiese dokument van bevele wat vir tyd en ewigheid dieselfde bly nie. Dit is kompleks, dinamies, spreek ons op verskillende maniere aan op verskillende tye in ons lewe en in verskillende situasies.
Daarby moet ons ook nog rekening hou met die feit dat God met ons praat deur die Woord, en die Woord (ek bedoel nou in die sin van die Bybel, nie in die sin van God nie, soos Johannes 1 daaroor praat) nie self God is nie … maar daaroor miskien ‘n ander dag!