1 Tessalonisense 2:17-3:13 – Paulus skep moed omdat hulle nog glo
Ek wonder hoe onderskei Paulus die werk van God van die werk van die Satan, want soos hy hier skryf oor die Satan wat hulle verhinder het om weer na Tessalonika te reis, skryf hy ander plekke oor die Heilige Gees (en die Gees van Jesus) wat hom verhinder. Trouens die een geleentheid was net voor sy eerste besoek aan Tessalonika, toe hy in Frigië verhinder is om na die provinsie Asië en later na Bitinië toe te gaan (Hand 16:6-7). Dit is toe, in Troas, wat hy die visioen van die Masedoniese man gesien het, wat gelei het tot hulle bediening in Filippi en later in Tessalonika.
Een manier om dit te verklaar is om in ag te neem dat Jason waarborge moes gee dat Paulus-hulle nie verder onrus in die stad sou veroorsaak nie (Hand 17:9). Die kragte wat die stadsbestuur dus beweeg om nie die teenstand van die Jode teen die evangelie te stuit nie, word dus as van sataniese oorsprong interpreteer. Die ander kere wat hulle verhinder is, was juis om hulle op die Here se pad te kry, en nie op hulle eie sending nie.
Sal graag wil hoor hoe julle hieroor dink!
In elk geval is dit interessant om te let daarop dat die vrees vir die werk van die verleier een van die motiverings is om vroeër vir Timoteus na hulle te stuur om hulle in die geloof te verstrek. Hulle was bang dat die Satan hulle sou verlei om met al die vervolginge tou op te gooi in hulle geloofspad. En dan sou dit beteken dat “al ons harde werk dalk op niks uitgeloop het” (3:5). Dat Paulus deeglik rekening gehou het met die werk van die Satan is duidelik, soos in die tweede brief ook gesien sal word.
Die verligting van Paulus oor hulle geloof en liefde en standvastigheid ten spyte van vervolging roer my. Hy is regtig intens verbind aan die sukses van die gelowiges in hulle lewe voor God. Hy skep moed in sy eie nood en swaarkry, omdat hulle nog glo!
“Omdat julle vas staan in die Here, leef ons nou weer werklik”(3:8).
Dit lei tot groot dankbaarheid en ‘n hernude gebed om hulle persoonlik weer te sien: “Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak!” (3:11). Let op hoe hy ‘n aktiewe rol aan Jesus toeken in die praktyk van sy eie bediening, en nie net aan die Vader of aan die Heilige Gees nie.
Sy gebed vir hulle sluit in dat hulle in hulle liefde sal groei, en innerlik sterk gemaak sal word (vgl Efesiërs 3:16 waar dit aan die werk van die Heilige Gees verbind word) om onberispelik en heilig by die wederkoms bevind te word, ’n saak waaroor hy later in hoofstuk 5 verder sal uitbrei.
Tags: Tessalonisense
Trackback from your site.


Comments (3)
Gisteraand het ons ook hiermee geworstel en een van die beste voorstelle was dat dit eers met tyd duidelik geword het watter “agent” betrokke was, die Satan of die Gees. Ek het die teks weer mooi gaan lees, ook Handelinge 16, en het ‘n paar ekstra goed raakgesien:
Dit help my egter nog nie regtig verder om te onderskei tussen die werk van God en die werk van Satan nie (natuurlik net volgens dié gedeelte – daar is ander helder tekste hieroor, bv. Joh 16:12; Hand 26:25; 2 Kor 6:6; Rom 5:5; 9:1; 14:17; Gal 5:22; 1 Joh 2:20 waar die werk van die Gees gekenmerk word deur waarheid, begrip, verdraagsaamheid, vriendelikheid, liefde, ‘n geheiligde gewete, gehoorsaamheid, vrede, vreugde, en die ander vrug van die Gees), want selfs wanneer jy op grond van ‘n terugblik ‘n mening uitspreek, is dit nog steeds ‘n vraag waarop jy jou mening begrond.
Ek stem saam, in Handelinge is dit duidelik dat waar die Heilige Gees en Gees van Jesus ter sprake is, God se plan om die Evangelie na Masedonië te laat uitdra die fokuspunt is.
Het net gewonder of Paulus nie, terwyl hy nou die brief skryf, deur die Heilige Gees daarop gewys is dat sy eie begeertes en eie eer en trots(cf.Tes2:19) toe hy na Tes. wou gaan ,nog te veel op die voorgrond was en dat juis dit van Satan afkomstig was nie. Nou sien hy dit so in dat die rol wat Satan gespeel het hom eintlik teruggehou het . Rick Joyner in The Final Quest, maak nogal baie van die mantel van TROTS as werktuig in Satan se hande.
Ek het oral probeer n antwoord kry, en die beste resultate in n kommentaar was dat ons nie weet nie. As ek n wilde raai kans moet waag dink ek dat Paulus gedink het God stop hom waneeer iets persoonlik hom verhoed het om iets te doen, maar waneer iemand anders (Ongelowige) hom verhoed, dink hy dis Satan?