2 Korintiërs 10 – Om te bou en nie af te breek nie

Written by Chris van Wyk on 10/09/2010. Posted in Korintiërs, Tessalonisense en Korintiërs

Print Friendly

Let op die sarkastiese toon waarmee Paulus hierdie hoofstuk begin (vgl ook vers 10): “ek, wat mos ‘gedwee’ is as ek by julle is, maar ‘manhaftig’ teenoor julle as ek van julle af weg is”.  Dit is ‘n duidelike aanduiding dat die volgende paar hoofstukke ‘n skerper aanslag gaan hê, dat dit inderdaad ook miskien ‘n ander  brief (moontlik die tranebrief van 2:4?) is, wat êrens by die eerste brief (2 Kor 1-9) gevoeg is.

Tog koppel hy die persoonlike beroep aan die Naam van Christus wat sy sarkasme relativeer.  Let op hoe hy van Christus se nederigheid (die meeste vertalings het “sagmoedigheid”, wat ek verkies – vgl Moses: Num 12:3 en Jesus Matt 11:29; 21:5) en vriendelikheid praat.  Tog gee hy daarmee ook ‘n gesag aan sy woorde, dit is nie maar net ter wille van homself wat hy hulle aanspreek en sy apostelskap verdedig.  Dit is ter wille van en met die gesag van God self wat hy optree.

Anders as Jeremia het Paulus nie die opdrag om af te breek nie, maar te bou (vers 8)! Dit is betekenisvol – en ‘n belangrike meetinstrument om van die profete van vandag te beoordeel wat eerder Jeremiades loods teen mense, gewoonlik ook nog dié wat anders as hulle dink, as om opbouend die evangelie soos Paulus te verkondig, nederig en vriendelik soos wat ons Here is!  Lees die opdrag aan Jeremia om die verskil agter te kom: Jer 1:10 spel sy opdrag in 6 woorde uit: 4 wat afbreek (afbreek, uitroei, vernietig, platslaan) en net 2 wat bou (bou, vestig).  Maar dit was vir ‘n ander tyd …

Dit gee ‘n mens ook perspektief op sy gereedheid om streng te wees (vers 2), met elke ongehoorsaamheid af te reken (vers 6), sonder egter om hulle bang te maak (vers 9).  Sy opdrag en motivering is opbouend en nie afbrekend nie.  Hy hoop dat hulle geloof sal toeneem (vers 15).

Ek weet die skeidslyn tussen “beroep doen” (vers 1) en “bang maak” (vers 9) is baie fyn, en dat die verdediging van sy apostoliese gesag in hierdie brief dit nog moeiliker maak om daartussen te onderskei.  Een manier om te sorg dat jy binne jou perke bly, is om, soos Paulus, 1) seker te maak dat jy in jou eie werkkring optree, en 2) seker te maak dat dit God se opdrag aan jou is (vers 13).

Sommige is geneig om vers 3-6 direk aan geestelike oorlogvoering te verbind, maar Paulus is eintlik hier besig om die verkeerde idees aan te vat wat sommige van die Korintiërs het oor sy apostelskap.  ‘n Mens kan wel in die tweede plek sy gedagtes op die aanvat van ander vestings in mense se gedagtewêrelde van toepassing maak, maar moet eers goed sy primêre boodskap verstaan.

Hy spel nie die kragtige wapens van God direk uit nie, maar ‘n mens lei af uit vers 4-6 dat dit op gedagtes:  redenasies, en hooghartige aanvalle teen die kennis van God (intellektuele en ideologiese denkraamwerke en wêreldbeskouings), sowel as ongehoorsaamheid gerig is, dws hoe mense dink en hoe mense leef (moreel-eties).  Dit kom ooreen met wat Jesus gesê het oor die waarheid wat vrymaak (Joh 8:31-32: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” – vgl ook Joh 1:10 waar Johannes skrywe oor die mense wat Jesus nie erken nie, en 1 Kor 1:21 waar Paulus die gebrekkige waarde van wêreldse wysheid en kennis uitwys).

Die waarheid verander dus beide ‘n mens se gedagtewêreld en jou gedrag.  En dit is in wese wat geestelike oorlogvoering behels, nie ‘n aksie teen duiwels in die eerste plek nie, maar die bring van die waarheid wat die vestings van ongeloof en ongehoorsaamheid in mense se gedagtes en gedrag kan verower en hulle aan Christus verbind.

En hou ook in gedagte dat Paulus in Romeine 1:16 en 1 Kor 2:4 die krag van God spesifiek uitspel in terme van die invloed wat die evangelie in mense se lewens het.  Dit is nie gebed teen die geeste wat mense oortuig nie, maar die evangelie wat aan die mense verkondig word. Die strydveld is die gedagtewêreld van mense en dit is waar ons die stryd moet voer!

Dit is in wese wat Paulus ook in die latere brief aan die Efesiërs gaan skrywe (hfst 6:10-20) dat die “stryd teen die geeste” oor sewe goed gaan: die 1) waarheid, 2) vryspraak, 3) verkondiging, 4) geloof, 5) verlossing, 6) God se woord en 7) gebed vir gelowiges en die bedienaars van die evangelie sal gaan.  En let op dat Paulus glad nie voorskryf dat ons moet bid TEEN enigiets nie, nie teen mense nie, ook nie teen geeste nie.  Net VIR die 7 sake wat hy daar noem.

Tags: ,

Trackback from your site.

Comments (1)

  • [...] met ’n heilige lewe te make het (In Ef 6 sal Paulus verder hieroor uitbrei – vgl ook 1 Tes 5; 2 Kor 10 waaroor ek reeds by die Bybelskool kommentaar gelewer het).ToepassingEk het regtig die ervaring dat [...]

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed