2 Tessalonisense 2:1-12 – Wetteloosheid se mag sal gebreek word

Written by Chris van Wyk on 06/08/2010. Posted in Tessalonisense, Tessalonisense en Korintiërs

Print Friendly

Dit is duidelik dat die gemeente in Tessalonika Paulus verkeerd verstaan het.  Sy boodskap in sy eerste brief (hfst. 5) dat Jesus onverwags sou kom, is deur hulle geïnterpreteer dat Jesus moontlik reeds gekom het óf binnekort sou kom.  Dit kan ook moontlik wees dat daar iemand was wat valslik in sy naam ’n brief geskryf het (2:2) en sommige verwar het met ’n verkeerde interpretasie van sy vorige boodskap oor die wederkoms.

Paulus versoek hulle egter om nie so gou van stryk gebring te word deur misleidende interpretasies oor die wederkoms nie, maak nie saak of dit in ’n profetiese uitspraak gedoen word of deur ’n brief nie.  Daarom bevestig Paulus heel moontlik in 2 Tess 3:17 die egtheid van hierdie brief, deur die groete met sy eie handskrif te skryf.

Die wettelose mens (Antichris?) waarvan Paulus praat wat eers moet verskyn, kan óf met ’n demoniese mag óf ’n despotiese leier verbind word, iemand soos bv. die Siriese koning Antiogus Epifanes (175-164 vC – vgl Dan 11:31-39; 12:11 en 1 Makkabeërs 1:54,59) of die Romeinse keiser Gajus (37-41 nC – hy het probeer om ’n standbeeld van hom in die tempel in Jerusalem op te rig, maar is dood voor dit gebeur het), wat albei van hulle onderdane vereis het om hulle te aanbid as gode. Jesus verwys heel moontlik ook na dié wettelose een in sy profetiese rede in Markus 13:14.

As dit ’n despotiese leier sou wees, kan dit miskien dui op keiser Titus wat in 70 nC Jerusalem ingeneem het en die tempel ontheilig het.  As dit ’n demoniese mag sou wees, verwys Paulus se uitsprake na die Antichris in die eindtyd net voor die wederkoms van die Here Jesus.  Dit is ook moontlik om albei betekenisse te aanvaar, en ’n eerste vervulling met keiser Titus en ’n tweede vervulling aan die einde van die tyd hierin raak te sien (vgl 1 Joh 2:18 – daar is eintlik sprake van ’n hele paar antichriste).

Hoe dit ook al sy, die Tessalonisense het die lering verstaan, want hy het dit blykbaar die vorige keer met hulle deurgepraat.  Dit bly egter vir ons onseker presies wat hy bedoel, omdat die NT nie baie meer detail hieroor gee nie.  Dit geld ook die betekenis van die “geheime krag wat hom teëhou”.  Dit is  bv. al met die Romeinse ryk, wat op plekke die evangelie goedgesind was, verbind; ook met die evangelie verkondiging, dws dat deur die verspreiding van geloof, die wettelose teruggedryf word; ook met engele of met die Heilige Gees of God self, hoewel dit nie sin maak dat die Gees eers “uit die weg (moet) wees” nie (vers 7).

Selfs die grote Augustinus het hieroor gesê dat dit vir hom ’n onopgeloste raaisel is (City of God) … en ek dink hy het ’n punt beet! Miskien is William Hendriksen egter reg wat sê dat ons hier met ’n beskrywing van die algemene handhawing van reg en orde deur regerings en ander instansies te make het.  Wanneer dit verdwyn, sal die wetteloosheid oorneem, en is dit die einde.

Terloops, dan was daar al tye wat dit byna gebeur het: dink maar net aan die twee Wêreldoorloë van die vorige eeu, en wat tans in soveel dele van die wêreld gebeur: Afganistan, Pakistan, Iran, Irak, en baie dele van Asië en Afrika, selfs in die Amerikas en Europa …  Is daar ’n plek waar wetteloosheid nie dreig om oor te neem nie, wonder ek skielik?!

Wat wel seker is, is dat dit die Satan is wat agter die wettelose en die wetteloosheid sit.  Let egter op dat hy dit net regkry om dié te mislei wat reeds nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie.  Die veroordeling kom dus nadat hulle reeds hulle keuse teen God se boodskap in Jesus Christus gemaak en Hom verwerp het.

Die Satan se werk, in die lig van wat die res van die Bybel ook daaroor skrywe, kan in 4 woorde opgesom word: versoeking (Matt 4), misleiding (1 Kon 22:21-22; Ef 6), teenspoed (Open 2:10) en aanklag (Job 1; Open 12:10).  Sy werk word daarom ook nie uitgewis deur “duiwel-uitdrywing” in die eerste plek nie, maar deur die waarheid te soek en te leef (Joh 8:31 vv; Ef 6:14,17 – hier word dit met die Bybel verbind) en getuienis te lewer (2 Kor 10:4-5; Ef 6:15,16) en biddend te lewe (Matt 6:13; Ef 6:18).

As ek al die inligting hierbo so beskou, is dit maklik om benoud te raak.  Hoe meer jy weet van wat in die wêreld aangaan, hoe meer weet jy van die mag van wetteloosheid.  Dan is die woorde waarmee Paulus hierdie perikoop begin en eindig ook vir my bedoel:

Jesus kom weer en Hy sal my met Hom herenig na Hy die wetteloosheid uit die weg geruim het!

En ek moet waak teen wetteloosheid in my eie lewe – ek kan nie ’n norm vir myself word nie, dat wat ek dink goed en sleg is, my lewe bepaal nie.  Dié voorreg behoort net aan die Here.

Tags: , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed