Die brief van 2 Korintiërs

Written by Chris van Wyk on 01/09/2010. Posted in Korintiërs, Tessalonisense en Korintiërs

Print Friendly

Hierdie brief is moontlik die samevoeging van ‘n 4de (2 Kor 1-9) en 5de brief (2 Kor 10-13) van Paulus aan die Korintiërs.  Die eerste Korintiërbrief was eintlik sy tweede (1 Kor 5:9), en uit 2 Korintiërs kom ‘n mens agter daar was ook ‘n derde brief (2 Kor 2:4).  Onthou hulle het ook briewe aan hom geskrywe (1 Kor 7:1).

Daar is twee redes waarom geleerdes twee briewe onderskei: 1) die situasie van hoofstuk 1-9 blyk ‘n meer stabiele een te wees, vandaar Paulus se blydskap dat dit beter gaan in die gemeente; die situasie in hoofstuk 10-13 blyk heel anders te wees soos die geagiteerde trant van sy aanval op die valse apostels duidelik wys; 2) in 12:18 verwys Paulus moontlik na die kollekte as iets wat al gebeur het, terwyl dit in hoofstuk 8-9 nog in die toekoms is; 12:18 sou egter ook kon verwys na hulle ondersteuning van Titus.

Gordon Fee (2002: How to Read the Bible Book by Book) vergelyk 2 Korintiërs met ‘n baie gekompliseerde televisie dramareeks wat jy in die middel daarvan aanskakel. Mense praat en dinge gebeur, maar jy is nie altyd seker wie al die karakters is nie, en wat aan die gang is nie!  2 Korintiërs is soos ‘n nuwe wêreld wat jy betree na jy 1 Korintiërs gelees het. In ‘n sekere sin is die enigste raakpunte tussen die twee briewe die kollekte vir die gemeente in Jerusalem (hfst 8-9) en moontlik ‘n voorsetting van die gesprek oor afgode en vleis van afgodstempels in 6:14-7:1.

Tog, is daar ‘n dieper verband: die gespanne verhouding wat daar tussen die apostel en die gemeente is oor 1) sy beplande/uitgestelde besoeke (1:12-2:13; vgl ook 7:5-16), 2) die kollekte (hfst 8-9), 3) sy apostelskap (2:14-7:4 – die hoogtepunt van die brief om sy “skat-in-kleipotte”-apostelskap te verduidelik) en 4) die vals apostels (hfst 10-13;  vgl ook 2:14-4:6).

Vandaar die intens persoonlike trant van die brief, wat sy verontwaardiging (2:17; 3:1; 6:14-16 – “Hoe kan daar …?”) en die bytende sarkasme (10:1 “ek, wat mos ‘gedwee’ is as ek by julle is, maar ‘manhaftig’ teenoor julle as ek van julle af weg is”) afgewissel met die sagte appèl (6:1,11; 7:2 – “Maak vir ons plek in julle harte”) aan die gelowiges in Korinte om tot hulle sinne te kom, verklaar.  Dit laat ‘n mens ook begryp waarom sommige gedeeltes soms so moeilik is om te volg, bv. die vloei van gedagtes in hoofstuk 2 tot 7.

Hoe dit ook al sy, let op dat die brief deur Paulus en Timoteus geskrywe word, terwyl Sostenes saam met Paulus by 1 Korintiërs betrokke was.  Paulus was in dié tyd in Masedonië (2:13; 7:5), moontlik in Filippi, en het daar van Titus terugvoer gekry oor hoe dit in die gemeente van Korinte gaan (7:5-7).

Hy skryf aan die een kant omdat hy bly is dat dit beter gaan in die gemeente (7:2-16), maar ook omdat hy ‘n derde keer (12:14; 13:1) by hulle besoek sou aflê om onder andere die kollekte vir die gemeente in Jerusalem te ontvang (8:4,19; 9:1-5) op sy pad daarheen, asook om hulle te waarsku oor die vals apostels (11:13).

In die proses gee hy ‘n diepsinnige teologiese besinning oor God en die bediening van die versoening, met hoofstukke 2:12-6:10 van die beste prentjies in die Nuwe Testament van die werk van die Gees in ons om God se heerlikheid te weerspieël, wat van ons nuwe skeppings van God maak (5:17), sodat ons in die triomftog van die evangelie deur die wêreld hierdie versoening van God met alle mense kan deel.  En dit alles gebeur steeds as ‘n kruis-evangelie, deur die bedienaars van die evangelie, die kleipotte wat maklik breek, maar die skat van God aan die wêreld bring.

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed