1 Timoteus 2:1-15 – ‘n Lewe in gebed deur mans en vrouens

Written by Chris van Wyk on 14/02/2012. Posted in Timoteus

Print Friendly
Waar Paulus nou raad vir Timoteus gegee het oor hoe om dwaalleraars en dwalinge as sodanig te hanteer, fokus hy nou op die positiewe riglyne vir die werk in ‘n gemeente.

En let op waarmee hy begin. Nie met die prediking of die organisasie nie, maar met gebed.  En hy spel die werkswyse daarin uit ook in terme van mans en vroue.

Daarna eers, in hoofstuk 3, skets hy die wyse waarop die leierskap in die gemeente moet funksioneer, ouderlinge en diakens, altyd met die fokus van die gemeente in gedagte, 1) dat hulle die gemeente is van die lewende God, en 2) dat die gemeente “die draer en beskermer is van die waarheid” (vers 15).  Maar daaroor later.

Gebed – 2:1-7

Soos in die brief aan Efese word gebed as een van die belangrikste dinge genoem wat ‘n gemeente kan beoefen.  En die gebed is nie net privaat vir die behoeftes van enkelinge of selfs van die gemeente nie, maar vir alle mense.  Hoewel regeerders uitgesonder word, veral met die oog op ‘n rustige en stil lewe in volkome toewyding aan God in alle eerbaarheid, bly die fokus alle mense.  En Paulus is baie ernstig daaroor dat God se wil is dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom – en onthou dat die gemeente die draer van die waarheid is, soos ons in die volgende hoofstuk gaan sien.

Dit is na alles ook die hart van Paulus se roeping, om die boodskap hiervan aan alle nasies te bring.  Die boodskap van Christus as Middelaar, waaroor die Heidelbergse Kategismus so roerend praat, is die motivering vir sy lewensmissie.  Almal moet hoor van die Middelaar wat versoening bring tussen mense en God.  En hiervoor moet die gemeente voortdurend en volhardend intree.

Mans en vroue in die erediens – 2:8-15

Steeds in die konteks van die liturgiese gebed in die gemeente, is Paulus se raad aan mans dat hulle by elke plek van samekoms moet bid, en moet sorg dat hulle dit met ‘n skoon gewete en sonder onmin en twis doen.  Vir vroue is Paulus se raad dat hulle waardig beskeie en ingetoë (dit kan seksueel geïnterpreteer word) moet wees.  Hulle versiering moet eerder goeie werke wees as haarkapsels, goud of pêrels, of duur klere.  .  Dit gaan dus nie oor uiterlike dinge nie, maar karakter.

Daar moet dus by mans en vroue geen wedywering of vertoon teenoor mekaar wees nie, sodat die gemeenskap van gelowiges nie verskeur word daardeur nie.

Dan spreek Paulus ‘n spesifieke saak aan – ‘n vrou in die erediens, waaroor ek op ander plekke reeds geskrywe het.  Lees bv 1 Korintiërs 11 – Oor mans en vroue in die erediens en my Ekskursus oor vroue in die NT.

Die reëling wat hy hier maak is dat ’n vrou (die Griekse woord gune kan op die vroulike eggenoot dui) in die erediens stil en onderdanig sal wees en haar laat leer.  Sy kan nie onderrig gee of oor die man (dit kan dui op die manlike eggenoot) gesag uitoefen nie.  Maar let op dat dit net in Efese is en moontlik net ten opsigte van haar eie man (afhangende van watter vertaling ’n mens vir gune kies).  Want in Kreta is die opdrag aan Titus dat die vroue wel ander vroue kan onderrig (Tit 2:3-5), en in Korinte kan vroue saam met die mans bid en profeteer in die gemeente (1 Kor 11:5).  Hierdie swyg-gebod is dus hoegenaamd nie ’n algemene verbod nie.

Dit beteken dat Paulus hier ’n uitsondering maak in sy raad aan Timoteus, soos hy dit ook gedoen het met Timoteus se besnydenis (Hand 16) – die besnydenis was immer nie meer nodig nie!  ’n Mens wonder hoekom?  Want die situasie in die res van die kerk was só dat vroue vryelik toegelaat is om te bid en te profeteer, bv. in Korinte.  Daarom dat kommentare dink dat die verbod aan Timoteus waarskynlik met die spesifieke situasie in Efese, waar Timoteus gewerk het, te make gehad het, of selfs nog meer spesifiek, met Timoteus self en hoe hy oor sake gedink het.

Hulle wys daarop dat:

  • Vroue in daardie tyd meesal as ondergeskik aan mans gereken is, uitgesonderd sommige vroue wat in aansien was of baie geld of besittings gehad het.  In die Joodse sinagoges mag alle vroue in elk geval net geluister het, en nie gepraat het nie.
  • Die gemeentes het egter begin om, na die voorbeeld van Jesus, vroue op ’n gelyke voet te hanteer (Gal 3:28: “dit maak nie saak of iemand … man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”).
  • Daarom was daar ook baie wat as diakens en mede-werkers opgetree het, selfs as leraars (Phoebe) en apostels (Junia) soos ons in Romeine 16 lees, ook as huiskerk leiers/eienaars – soos onder andere Lidia (Hand 16:40), Maria (Hand 12:12), Priscilla (Hand 18:26) en Nimfa (Kol 4:15).
  • Die groot prediker Apollos, wat so ’n groot aanhang in Korinte gehad het, is byvoorbeeld deur Priscilla, ’n vrou, en Akwila onderrig (Hand 18:24-26) en let op dat Priscilla op gelyke voet met haar man Akwila gereken word.
  • Maar die algemene sosiale status van vroue was steeds as ondergeskik gereken, en daarom lê Paulus hier ’n swaarder beperking op hulle, waarskynlik ter wille van die heidene, sowel as die Jode, in die stad, of net ter wille van Timoteus self.
  • Dit kan ook wees dat Paulus skerper hier optree weens die gewoonte van sommige van die vroue in Efese om van huis tot huis te skinder en ledig, bemoeisiek en praatsiek te wees (1 Tim 5:13).
  • En let op dat die beperking eintlik net van toepassing is op lering aan volwasse mans (nog meer spesifiek die leiers – as ’n mens in ag neem dat Paulus se argument rondom gesag draai), want in Titus gee hy in elk geval die riglyn dat vroue ander vroue mag onderrig (2:4-5) en hy erken eksplisiet die onderrig wat Timoteus se ouma en ma aan hom as kind gegee het (2 Tim 1:5; 3:14-15).

Die argumentasie wat Paulus voer rondom Adam en Eva rugsteun sy standpunt, maar kan nie as ‘n algemene riglyn geneem word nie.  Ook nie die raad rondom moederskap nie, omdat dit te uitsluitend van aard is.


related post

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed