Titus 1:1-16 – Gesonde geloof

Written by Chris van Wyk on 21/02/2012. Posted in Titus

Print Friendly

Twee perspektiewe sal jou help om dié brief se boodskap beter te verstaan.

Aan die een kant skryf Paulus hierdie brief om vir Titus en die onderskeie dorpsgemeentes te help met die ontwikkeling van hulle bediening. Daarom spandeer hy tyd aan die wyse waarop die leierskap moet werk (hoofstuk 1), hoe ‘n mens kan sorg dat die gesonde leer gehandhaaf word (hoofstuk 2), en hoe die Christelike lewe optimaal gelewe kan word, veral ook met die oog op die gemeenskap waarbinne hulle lewe (hoofstuk 3).  Vir die jong gemeentes, waarskynlik veral huiskerke, was dié toerusting van groot belang om te kan koers hou op die pad van die evangelie.

Aan die ander kant fokus Paulus besonder baie op wat hy noem: goeie werke (1:16; 2:7,14; 3:1,8,14 – hy noem dit ook in 1 Tim 2:10 en 5:10).  Maar, belangrik, dit is nie vir hom in spanning met die genade wat God aan ons gee nie.  Trouens dit is die manier waarop God se genade ruimte kry in ons lewe.  Kyk spesifiek na 2:14 waar die twee konsepte aan mekaar verbind word, genade en goeie werke (in die volgende bydrae meer daaroor).  Goeie werke is dus nie in konflik met genade nie.  ‘n Rigiede gebruik van die Joodse wet is wel in konflik met die genade, waarmee gedink word dat jy deur die nakom van sekere rituele gebruike (sabbat, dieet) in God se guns kan kom.

Vers 1-4 – Die belofte van die ewige lewe

Let hier op hoe geloof en kennis van die waarheid eintlik as sinonieme gebruik word.  Geloof is nie ‘n sprong in die donker nie.  Dit is om die waarheid te erken van wat God oor Jesus as Verlosser bekend gemaak het, sowel as die belofte van die ewige lewe wat daaraan verbind is, en daarop te vertrou.  Geen wonder dat die Heidelbergse Kategismus (vr & antw 21) eeue later geloof as volg gedefinieer het:

“’n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.”

Vers 5-9 – Ouderlinge as die rentmeesters van God

Paulus gebruik die Griekse woord oikonomos in vers 7 om die werk van die ouderlinge te beskryf.  Letterlik staan daar “’n Ouderling (episkopos) moet as rentmeester van God  onberispelik wees …”  Dit beteken dat ‘n ouderling in diens van God binne die gemeente optree.  Hy is dus nie regtig ‘n “bestuurder” soos die Afrikaanse vertaling dit het nie, eerder ‘n rentmeester of dienaar van God.  Hy is nie aangestel oor  die gemeente namens God nie, maar aangestel deur God vir die gemeente.

Let op hoe daar weereens baie meer klem gelê word op sy persoonlike geloofslewe en karakter as op die pligte wat hy in die gemeente moet verrig, hoewel daar wel twee uitgelig word, dit is om aan “die woord waarin hy onderrig is”  vas te hou, en om ander met die gesonde leer aan te moedig, woorde wat herinner aan die soortgelyke opdrag in 1 Timoteus.

Vers 10-16 – Gesonde geloof

Na Paulus nou uitgewei het oor die vereistes vir die ouderlinge, fokus hy op dié Joodse dwaaleraars wie se monde gesnoer moet word (1:11).  Dit beteken dan waarskynlik dat hulle lede van die gemeentes was, omdat só ‘n opdrag beswaarlik toegepas kon word op mense wat buite die gemeentes se invloed gestaan het.  Nie net het hulle onsin gepraat nie vanuit hulle beheptheid met Joodse voorkrifte nie, maar het hulle ook nog probeer geld maak daaruit.

Hulle monde moet ook nie net gesnoer word nie, maar hulle moet gehelp word om gesond in geloof te word, deur die gesonde leer aan te hang, iets waaroor Paulus in hoofstuk 2 verder gaan uitbrei.  Anders sal die gemeenskap nie getransformeer word nie, want hierdie Joodse dwaalleraars versterk eintlik ‘n persepsie van die Kretensers dat hulle leuenaars, ongediertes en lui vrate is (die aanhaling berus op iets wat Epimenides, een van hulle profete, al in die 6de eeu vC gesê het).  Só kan jy nie ‘n gemeenskap verander nie!


related post

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • 03 - Om te LUISTER
    Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio Verwelkoming Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei. Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op d […]
  • 02 - Om tot RUS te kom
    Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio Verwelkoming Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).   My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: Romeine 8:22-27
    Ons diepste HoopIn Romeine 8:22-27, wat deel is van Paulus se hantering van die nuwe werklikheid waarin gelowiges deel (Rom. 5-8), fokus Paulus op die diepste hoop van Christene.  Vir baie gelowiges bestaan hulle hoop doodgewoon daaruit dat hulle eendag by God in die hemel sal wees.  Die res van die skepping sal dan gesloop word sodat net die hemel, engele e […]
  • Theological turn in Youth ministry - Andy Root and Kenda Creasy Dean
    In discussion about the phenomenon of spiritual Youth claiming to be Christian based on a Moralistic Therapeutic DeismOpening deur Dekaan.mp3 - Nico Koopman - 8.3 MBIdentity.mp3 - Andy Root - 28.8 MBTheological Discernment.mp3 - Andy Root - 29.8 MBA New Look at Missiology.mp3 - Kenda Dean - 7.1 MBHow does a Missional Church look like?.mp3 - Kenda Dean - 10.7 […]

Read feed